Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
De Lille van magte gestroop om teen DG op te tree

Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, is van haar magte gestroop om toesig te hou oor ’n tugondersoek teen die omstrede direkteur-generaal (DG) van haar departement.

Geofrey Mphaphuli, hoofregsadviseur in die presidensie, bevestig dit in hofstukke wat pres. Cyril Ramaphosa ingedien het in die dringende interdikaansoek wat adv. Sam Vukela, die geskorste DG, voor die hooggeregshof in Pretoria gebring het.

Vukela wil die beoogde tugondersoek teen hom tydelik keer totdat sy hoofaansoek, om dit onwettig en ongrondwetlik te verklaar, afgehandel is.

Patricia de Lille Foto: DAILY SUN

De Lille – wat nie Donderdag vir kommentaar bereik kon word nie – het in Julie vanjaar aan die parlement gesê dat Ramaphosa haar in Maart vanjaar die mag gegee het om die tugondersoek teen Vukela in te stel.

Dit nadat ’n forensiese ondersoek deur PwC Vukela glo betrek het by beweerde ongerymdhede nadat ’n maatskappy glo “wederregtelik” meer as R75 miljoen betaal is vir dienste gelewer op die staatsbegrafnisse van Winnie Madikizela-Mandela, oudminister Zola Skweyiya en oudambassadeur Billy Modise.

Intussen voer Mphaphuli verder in hofstukke aan dat Ramaphosa – wat Vukela ook as verweerder in sy dringende aansoek lys – op 12 Julie vanjaar ’n brief van Vukela ontvang het waarin hy versoek het dat De Lille van sy tugproses verskoon moet word én dat Ramaphosa die mag wat hy aan haar daarvoor gedelegeer het, moet heroorweeg.

Volgens Mphaphuli het Ramaphosa besluit om die mag aan De Lille te onttrek en dit aan Jackson Mthembu, minister in die presidensie, oor te dra om te verseker dat die tugproses regverdig is en as sulks gesien word.

Intussen voer Vukela in sy hofstukke aan dat die tugklagte teen hom uit die PwC-verslag, sowel as nog ’n verslag van die Staatsdienskommissie, spruit, waarvan die wettigheid ook tans in die arbeidshof betwis word.

Hy meen albei verslae is egter al langer as ’n jaar in die openbare domein en in De Lille se besit. Hy voer aan De Lille het die tugproses begin om van hom ontslae te raak “sodat die minister die aanstelling van ’n individu kan bewimpel wat meer buigsaam ten opsigte van haar ‘onwettige en onredelike opdragte’ sal wees”.

Hy meen die tugproses is ingestel nadat hy geweier het om De Lille se “onwettige” opdragte uit te voer.

Hieronder lys hy die omstrede Beitbrug-grenspos-heiningprojek en hoe De Lille glo duidelik uitgestippel het hoe dit geïmplementeer moes word en hoe sy glo “geweldige en onbehoorlike druk” op amptenare daaroor geplaas het. Hy voer aan De Lille was egter vinnig om te ontken dat sy as minister by die proses betrokke was.

Hy meen die tugproses is ingestel nadat hy geweier het om De Lille se “onwettige” opdragte uit te voer.

News24 het Donderdag berig dat De Lille die Beitbrug-beweringe ontken, maar in hofstukke erken dat sy een keer ’n diensverskaffer vir mediadienste aan haar departement geïdentifiseer het, maar niemand opdrag gegee het om aankoopregulasies te verbreek nie.

Intussen het Samantha Graham-Maré, DA-LP en ’n partywoordvoerder oor openbare werke en infrastruktuur, Donderdag in ’n verklaring gesê die DA beskou De Lille se erkenning dat sy ’n diensteverskaffer geïdentifiseer het, as “ ’n erkenning van wangedrag”.

Sy het namens die DA vir Ramaphosa versoek om De Lille dadelik af te dank omdat dit “nie die eerste keer is dat die minister betrek word by die ‘identifisering’ van diensverskaffers om werk in haar departement te doen nie”.

Meer oor:  Patricia De Lille  |  Sam Vukela
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.