Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
De Lille vrees nie hof óf OB

Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, “het niks te vrees nie” en sien uit daarna om voor die openbare beskermer (OB), óf in ’n hof oor bewerings van magsmisbruik en politieke inmenging teen haar te getuig.

“Ek raai diegene met bewyse teen my aan om daarmee na vore te kom,” het ’n veglustige De Lille Maandag in ’n verklaring gesê. Dit in reaksie op die nuutste “aanval” teen haar nadat Mahalingum (Dhaya) Govender, ’n voormalige adjunkdirekteur-generaal (DG) in haar departement, ’n klag van magsmisbruik en inmenging teen haar by die OB ingedien het.

Patricia de Lille Foto: Adrian de Kock

Govender is die jongste senior amptenaar wat oor De Lille kla.

News24 het Saterdag berig Govender beweer dat hy toe hy nog adjunk-DG van eiendomsbestuursdienste was, tussen Julie en Desember verlede jaar met versoeke van De Lille oorval is oor verhuurders wat eiendom aan die staat verhuur en oor huurders van staatseiendom.

Oupa Segalwe, OB-woordvoerder, het Maandag bevestig dat die klag Vrydag ingedien is en dat hulle dit “assesseer”.

Vroeër is berig hoe pres. Cyril Ramaphosa in die hofaansoek wat adv. Sam Vukela, geskorste DG van die departement, teen sy tugverhoor ingedien het, aangedui het dat hy De Lille van haar magte gestroop het met betrekking tot Vukela se tugproses.

Vukela is vroeër vanjaar geskors nadat ’n forensiese ondersoek hom glo betrek het by beweerde ongerymdhede nadat ’n maatskappy “wederregtelik” meer as R75 miljoen betaal is vir dienste wat op die staatsbegrafnisse van Winnie Madikizela-Mandela, oudminister Zola Skweyiya en oudambassadeur Billy Modise gelewer is.

Vukela beweer die tugproses is teen hom ingestel nadat hy geweier het om De Lille se “onwettige” opdragte uit te voer. Hy beweer De Lille het “geweldige en onbehoorlike druk” op amptenare geplaas met betrekking tot die projek vir die grensheining by Beitbrug.

Die DA het Ramaphosa vroeër versoek om De Lille “dadelik” af te dank.

De Lille het egter Maandag gesê dat die departement reeds ’n reputasie vir korrupsie gehad het toe sy as minister aangestel is.

Noudat die plunderaars se krane toegedraai is, noem mense dit inmenging.

Oor Govender se OB-klag sê De Lille dat sy haar volle samewerking sal gee.

Sy voer aan dat sy nie by haar departement inmeng nie, maar eerder ingryp in dié “paradys vir plunderaars”.

“Noudat die plunderaars se krane toegedraai is, noem mense dit inmenging. Dit is ’n jammerte dat mense ingryping as inmenging sien omdat plundering ontwrig word.”

Sy voer aan dat sy nie verras is oor die “terugveg-veldtog” teen haar in die departement nie, maar volgens haar is sy op ’n missie om die departement “skoon te maak” en niks sal haar keer nie.

Oor die DA-bewerings en versoeke teen haar, sê De Lille dié party is steeds “bitter” omdat sy vier sake in die hooggeregshof teen hulle gewen het en hulle destyds nie haar reputasie as DA-burgemeester van Kaapstad kon vernietig nie. Sy beweer die DA probeer dit steeds doen en werk glo met “korruptes” in haar departement saam om dit reg te kry.

Meer oor:  Ob  |  Patricia De Lille  |  Minister  |  Bewerings  |  Vrees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.