Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
'Kapers steeds in SA, Eskom'

Korrupsie is endemies en net omdat die Guptas landuit is, beteken dit nie staatskaping is iets van die verlede nie, het André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, aan Netwerk24 gesê.

“Mense dink staatskaping was binêr. Dat dit die Guptas was, en dat dit saam met die Guptas uit die land uit is. Dit is hoegenaamd nie die geval nie. Die korrupsie wat steeds endemies is – en ek kan ongelukkig met gesag oor Eskom praat – is steeds daar,” het De Ruyter gesê.

Die korrupsie moet volgens hom “uitgesnuffel” en “aangeval” word.

André de Ruyter, Eskom-hoof, tydens ’n onderhoud met Netwerk24. Foto: Deaan Vivier

“Die optrede is per definisie onderduims; dis nie openlik nie. As jy daardie pype wat die geld uit die organisasie lei, begin toemaak, gaan jy natuurlik weerstand kry. Ook as jy mense aanspreeklik hou vir prestasie.”

Die onderhoud met Netwerk24 volg kort nadat ’n onafhanklike ondersoek hom onskuldig bevind het aan bewerings van rassisme en magsmisbruik.

“Ongelukkig het Eskom oor die jare ’n kultuur ontwikkel van ‘ek is al 20 jaar hier, ek is nou geregtig op my pos’. Baie jammer, maar jy moet dit verdien. Dit moet op meriete gebeur. Selfs al het jy die pos en jy presteer nie, gáán ons jou aanspreeklik hou. Aan daardie kultuur sluk party mense maar swaar.”

De Ruyter het Velaphi Ntuli, hoofbestuurder by die Koeberg-kernkragstasie in Kaapstad, Vrydag geskors omdat dié nie na wens presteer het nie.

Eskom is tans besig met diep herstelwerk aan sy infrastruktuur. “Sy (Ntuli se) instandhoudingsprojek het tot op ’n onaanvaarbare vlak gegly en êrens moet daar gevolge wees. Ons kan nie met beurtkrag in Suid-Afrika sit en dan aanvaar ons maar net ‘jammer, die projek is laat’ nie.”

Dink hy as daar ’n kommissie van ondersoek na staatskaping op ’n provinsiale vlak ingestel word, dit baie dinge sal oopvlek waarvan ons nog nie weet nie? “Waarskynlik. Die top-20-munisipaliteite skuld ons 70% van die R38 miljard se munisipale skuld wat uitstaande is. As jy kyk na waar hulle is, dan is dit hoofsaaklik in Mpumalanga en die Vrystaat. En ’n mens moet maar vrae vra: Hoekom is dit provinsiaal gekonsentreer?”

Volgens De Ruyter moes hy onlangs ’n nuwe hoof van oudit en forensiese dienste aanstel, wat hy as ’n sleutelrol in Eskom beskou.

“Die eerste ding wat sy moes doen, is om eers ses nuwe forensiese ondersoekers aan te stel, want dis poste wat nooit gevul is nie. En jy kan dink hoekom dit nie gevul is nie... Daardie mense is juis daar om die ongemaklike vrae te vra.”

De Ruyter glo hy het die nodige politieke steun van pres. Cyril Ramaphosa en veral Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings. “As ek nie die steun gehad het nie, sou dit nie vir my moontlik gewees het om die skuiwe te maak wat nodig is om te maak nie.”

Hy het baie respek vir Gordhan se integriteit en toewyding.

“Ek het nog nie baie met (die president) gepraat nie, maar as ek met hom praat, moet ek sê is hy baie goed op die hoogte van al die knelpunte. Duidelik word hy goed ingelig. Hy weet wat aangaan. Hy vra die regte vrae.”

Lees die profielonderhoud met De Ruyter hier.

‘Ek glo aan Jan se integriteit’

Netwerk24 het in April berig die spesiale ondersoekeenheid (SOE) ondersoek Jan Oberholzer, Eskom-bedryfshoof, vir bewerings van korrupsie en ongerymdhede.

De Ruyter twyfel egter nie in Oberholzer se integriteit nie.

“Ek en Jan kom baie goed oor die weg. Ek dink hy vul my baie goed aan wat sy tegniese vaardigheid en sy ervaring in Eskom betref. Ons het maar lekker debatte van tyd tot tyd, maar dis konstruktief. Ons verskil oor goed en dan beredeneer ons dinge. Maar ek het hoegenaamd geen rede om te twyfel oor hoe hy dinge doen en hoekom hy dit doen nie.”

Netwerk24 het Kaizer Kganyago, SOE-woordvoerder, vir die jongste oor die ondersoek gevra. Sy kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

Sikonathi Mantshantsha, Eskom-woordvoerder, het gesê hy weet net dat die ondersoek begin is nadat drie interne ondersoeke bevind het Oberholzer is nie skuldig aan enige ongerymdhede nie.

Meer oor:  Staatskaping  |  André De Ruyter  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.