Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Deels teleurstellend, deels ’n vars bries, sê ontleders oor staatsrede

Sekere aspekte van pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede was “ ’n vars bries” en ander “teleurstellend”.

Dít was Donderdagaand die menings van politieke ontleders nadat Ramaphosa sy staatsrede in die parlement gelewer het.

Dr. Ntsikelelo Breakfast, van die Nelson Mandela-Universiteit, het gesê hoewel Ramaphosa alles gesê het wat hy moes oor die hoofprioriteite, sal die sukses daarvan afhang of sy planne doeltreffend geïmplementeer word.

Volgens hom het Ramaphosa in ’n mate meer duidelikheid gegee oor wat tans met die land se Covid-19-inentingsprogram aangaan. “Dit sal baie mense gerusstel.”

cyril ramaphosa
Pres. Cyril Ramaphosa lewer Donderdagaand sy staatsrede in die nasionale vergadering. Foto: Esa Alexander/Poel

Breakfast het bygevoeg dat Ramaphosa eerlik en reguit was oor die grootste probleme, terwyl sy uitlatings oor die suksesse wat hulle tot dusver behaal het en die nuwe beleggings “ ’n bries vars lug” was.

“Die enigste teleurstelling was dat hy as uittredende voorsitter van die Afrika-Unie niks oor buitelandse beleid gesê het nie,” het Breakfast bygevoeg.

Dr. Theuns Eloff, ’n onafhanklike kommentator, het saamgestem dat daar nou “groter duidelikheid oor die inentingsproses is. Waarvan ek ook gehou het, was sy woorde ‘let us clear the rubble’, wat beteken dat die bou-afval weggeneem moet word en dat ’n nuwe fondament gelê word. Dit verwys myns insiens na wat die laaste tien jaar gebeur het. Dis goed dat hy dit gesê het. Ek het ook gehou van sy beeldspraak oor die fynbos.”

Hy verwelkom die feit dat daar voortaan ’n groter fokus op spoorvervoer sal wees.

Eloff is egter “verstom” oor Ramaphosa se uitlatings oor staatsondernemings. “Verlede jaar het hy gesê dit sal verminder word, nou praat hy van standaardisering.

“Toe hy oor grondhervorming gepraat het, het hy niks gesê oor titelaktes vir swart boere nie. Ook die feit dat hy nie ’n woord gesê het oor Ace Magashule (sekretaris-generaal van die ANC) nie, tel onder die negatiewes. Dit sal nog lank vir hom en die ANC ’n blok aan die been bly,” sê Eloff.

“Die spook wat oor die staatsrede en die hele jaar hang, is nie net die Covid-19-pandemie nie, maar ook op medium- en lang termyn ’n mislukte en soms korrupte staatsdiens wat keer dat dít wat die regering beplan in werking gestel word.”

Prof. Barry Hanyane, ’n regeerkundige verbonde aan die Noordwes-Universiteit, het gesê daar was oor die algemeen geen verrassings nie.

“Hoewel Ramaphosa na korrupsie verwys het, sou ek wou hê die president moes meer gesê het oor die ernstige probleem met die aankoop van persoonlike beskermende toerusting (PPE) tot nou toe. Ek besef die spesiale ondersoekeenheid is tans besig met ’n omvangryke ondersoek hierna, maar ek sou wou hê die president moes ferm hieroor gewees het.”

Hanyane meen Ramaphosa het rede gehad om bietjie te kon spog met die deurbrake wat reeds gemaak is in die stryd teen korrupsie.

Die spook wat oor die staatsrede en die hele jaar hang, is nie net die Covid-19-pandemie nie, maar ook op medium- en lang termyn ’n mislukte en soms korrupte staatsdiens wat keer dat dít wat die regering beplan in werking gestel word.

Hy meen Ramaphosa moes ook aandag geskenk het aan die staat se hemelhoë salarisrekening, wat dringend aandag moet kry.

Prof. Zwelinzima Ndevu, van die Universiteit Stellenbosch, meen Ramaphosa het “klaaglik misluk” met sy uitlatings oor die inentingsprogram.

“Dit het net meer vrae as antwoorde gelaat. Hy maak asof daar ’n omvattende inentingsplan in Suid-Afrika is. Daar is nie. Dit wys ook watter tipe leier hy is. Hy is en was nog nooit ferm nie.”

Ndevu het bygevoeg as die “wanfunksionele” Eskom in drie verdeel word, “gaan ons met drie wanfunksionele staatsentiteite sit”.

Meer oor:  Staatsrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.