Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
EMOSIE OORWELDIG SAUK-JOERNALISTE
Demokrasie 4, Hlaudi 0
Bestuurslui moet dalk regskoste betaal
Thandeka Gqubule, Suna Venter, Foeta Krige, Krivani Pillay en Jacques Steenkamp vier Dinsdag die uitspraak. ­Foto: Felix Dlangamandla

Die SAUK se joernaliste kan nou voortgaan om “vreesloos” die waarheid uit te saai.

So het Foeta Krige, uitvoerende regisseur van Monitor en Spektrum op RSG, Dinsdag gesê nadat die arbeidshof in Johannesburg beslis het hy en drie ander afgedankte SAUK-joernaliste moet hul werk terugkry.

Regter Rob Lagrange het ook ’n interdik toegestaan wat die SAUK verbied om met tugstappe teen die vier voort te gaan.

Krige, Krivani ­Pillay, Suna Venter en Jacques Steenkamp se afdanking sonder ’n tugverhoor was onwettig, lui die uitspraak, wat deur regter André van Niekerk voorgelees is.

Benewens ’n kostebevel teen die SAUK het Lagrange ook bevind dat twee senior bestuurders moontlik persoonlik aanspreeklik gehou kan word vir die regskoste.

Sebolelo Ditlhakanyane, hoof van radionuus, en Malolo ­Tebele, waarnemende groephoof vir nuus en aktuele sake, moet binne vyf dae redes aanvoer waarom hulle nie aanspreeklik gehou moet word nie.

Krige het gesê hy hoop die uitspraak sal SAUK-joernaliste laat besef dat hulle nie bang hoef te wees nie.

“Mense hoef nie in hoekies te staan en fluister nie. Die Grondwet beskerm ons, die perskode beskerm ons, die redaksionele kodes beskerm ons.”

Vir hom is dit nou tyd om terug te gaan werk toe om die druk op sy kollegas te help verlig en om voort te gaan om “die waarheid uit te saai”.

Kort ná die uitspraak het die trane vlak in sy oë gelê, veral toe daar na sy dogters, Dalaine en Jamaine, se ondersteuning verwys is.

Hulle was sedert hul pa se skorsing prominente stemme oor wat met hul pa en sy kollegas gebeur het.

Jamaine het gesê sy is nie net trots daarop om ’n joernalis te wees nie, maar ook “trots daarop om Foeta Krige se dogter te wees”.

Pillay het van oor tot oor geglimlag terwyl sy die een oproep ná die ander gedoen het. Sy kan nie wag om terug te gaan werk toe nie en is nie bekommerd oor wat haar te wagte is nie.

“Ek het nie ’n vyandige omgewing verlaat nie; ek behoort dus nie na een terug te keer nie.”

Volgens haar het die debakel ’n “massiewe emosionele uitwerking op haar gehad”.

Steenkamp sê hy is baie bly om terug te gaan werk toe.

“Die vraag is egter of ons wel toegelaat gaan word om terug te keer werk toe, want die SAUK kan natuurlik appelleer.

“Die uitspraak is ’n oorwinning vir ons en ons kollegas by die werk. Dit beteken hulle kan opstaan teen sensuur en hulle kan daarmee wegkom.”

Venter was minder optimisties as die ander. “Die eensgesindheid wat in ’n stadium in die nuuskantoor bestaan het, is nie meer daar nie.

“Ons gaan terug na ’n gebroke nuuskantoor en dit gaan baie tyd vat om hom te herstel

“Ek glo nie die vier van ons kan dit alleen doen nie. Dis een van my groot bekommernisse: hoe ons dié skip gaan omdraai.

“Ons is vasbeslote om die saak in die konstitusionele hof te voer sodat ons ’n blywende verskil kan maak aan die organisasie sodat hierdie tipe ding nie weer kan gebeur nie.”

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het gesê die uitspraak is ook ’n oorwinning vir die ander vier afgedankte SAUK-joernaliste, ­Vuyo ­Mvoko, Busi Ntuli, Lukhanyo Calata en Thandeka Gqubule.

“In die saak van Hlaudi Motsoeneng vs. die demokrasie van Suid-Afrika, het die demokrasie van Suid-Afrika ’n oorwinning behaal.”

Kaizer Kganyago, SAUK-woordvoerder, kon nie sê of die SAUK teen die uitspraak gaan appelleer en of die joernaliste toegelaat gaan word om vandag terug te keer werk toe nie. Volgens hom bestudeer die SAUK se regspan nog die uitspraak.

Meer oor:  Suna Venter  |  Foeta Krige  |  Sauk  |  Joernaliste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.