Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Denel, Eskom, Transnet, SAL met valkoë bekyk
Pravin GordhanFoto: DAILY SUN

Grootskaalse korrupsie en staatskaping by staatsentiteite soos Denel, Eskom, Transnet en die Suid-Afrikaanse Lugdiens word tans op verskeie vlakke ondersoek, sê Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings.

Gordhan bevestig dít in ’n parlementêre antwoord nadat Lindiwe Bebee, ’n ANC-LP, vroeër by hom wou weet hoe ver dié ondersoekproses, sowel as die prosesse om gesteelde geld van betrokke maatskappye en individue terug te kry, tans trek.

Luidens Gordhan se antwoord is “wetstoepassingsagentskappe tans besig met ondersoeke na Eskom, Transnet, Denel en die SAL”.

“Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) ondersoek tans die bedrywighede van Transnet en Eskom in ooreenstemming met proklamasie 11 van 2018. Verder is forensiese ondersoeke met betrekking tot staatsentiteite ook aan die Valke en die SOE oorhandig om diegene te bepaal wat aanspreeklik gehou moet word vir die bedrae wat van die staat gesteel is,” het Gordhan gesê.

Intussen het Gordhan verder gesê dat sy departement en staatsentiteite ook getuienis by die Zondo-kommissie na staatskaping ingedien het.

Intussen het City Press Sondag berig dat pres. Cyril Ramaphosa verlede week ook die SOE gemagtig het om ernstige bewerings van ’n massiewe veiligheidsbreuk by Denel te ondersoek. Dit het na bewering gelei tot die beweerde diefstal van geklassifiseerde en hoogs sensitiewe data oor die staatsbeheerde wapenvervaardiger en die Suid-Afrikaanse Weermag se baie gesogte en van die mees gesofistikeerde missieltegnologie in die wêreld.

Dié koerant het verder berig dat die ongekende veiligheidsbreuk deur ’n senior weermagoffisier met hoogverraad en industriële spioenasie vergelyk word.

Luidens City Press het soveel as 20 ingenieurs, met groot ervaring in die ontwerp en vervaardiging van missiele, ook Denel verlaat vir die staatsbeheerde Saoediese wapenvervaardiger Saudi Arabian Military Industries.

Denel kon nie Sondag vir kommentaar hieroor bereik word nie.

Intussen het Gordhan verder in sy parlementêre antwoord gesê dat sy departement en staatsentiteite ook getuienis by die Zondo-kommissie na staatskaping ingedien het.

“Al hierdie pogings is bedoel om die kommissie te help om die feite oor beweringe van bedrog en wanadministrasies in staatsentiteite te ontbloot.

Volgens Gordhan is van die gesteelde geld al suksesvol terug verkry.

“Wetstoepassingsagentskappe ondersoek ook bewerings van bedrog en korrupsie. Die departement en staatsentiteite help aktief met hierdie ondersoeke. Sodra spesifieke individue aangekla word, sal aankondigings in verband daarmee deur die relevante owerhede en/of die departement gemaak word.”

Volgens Gordhan is van die gesteelde geld al suksesvol terug verkry.

“By Eskom het McKinsey R902 miljoen terugbetaal ná ’n siviele eis wat Eskom teen die maatskappy ingestel het. Eskom het ook die terugverhaling van R600 miljoen wat onwettig aan Trillian uitbetaal is, suksesvol nagestreef. Die SOE is tans namens Eskom in die hof om die kontrak met (die Gupta-beheerde) Tegeta se Brakfontein-steenkoolmyn van sowat R2,7 miljard ter syde te laat stel.”

Volgens Gordhan het China South Rail ook R618 miljoen terugbetaal aan Transnet weens ’n onregmatige vooruitbetaling vir die instandhouding van lokomotiewe, terwyl Regiments ook ingestem het om R180 miljoen terug te betaal.

“Meer geld is ook as moontlik verhaalbaar geïdentifiseer en die staatsentiteite is saam met wetstoepassingsagentskappe in die proses om ook dit na te streef,” het Gordhan gesê.

Meer oor:  Transnet  |  Sal  |  Denel  |  Eskom  |  Pravin Gordhan  |  Korrupsie  |  Ondersoeke  |  Ekonomie  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.