Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Derduisende hektaar staatsgrond reeds vrygestel, sê De Lille
Patricia de LilleFoto: ADRIAN DE KOCK

Munisipaliteite en provinsies moet ophou om staatsgrond wat die nasionale regering gratis aan hulle, vir veral geïntegreerde behuisingsontwikkelings, vrystel ten duurste vir ’n wins aan die privaat sektor te verkoop.

Dit was die waarskuwing wat Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, Sondag gerig het toe sy aangekondig het dat haar departement die afgelope tien maande reeds derduisende hektaar staatsgrond vrygestel het.

Dié grond moet volgens haar veral vir die bou van geïntegreerde behuising aangewend word om diegene te help wat al vir baie jare op behuisingswaglyste is, maar ook om die “kwaadwillige nalatenskap van dorpsbeplanning uit die apartheidsera ongedaan te maak”.

De Lille se aankondiging kom nadat adj.pres. David Mabuza Vrydag ook die interministeriële komitee oor grondhervorming in Kaapstad saamgeroep het om die vordering met die bespoediging van die grondhervormingsproses te bepaal.

Die regering beplan om tussen Maart en Desember vanjaar sowat 700 000 hektaar grond vir bogenoemde doelwitte aan begunstigdes in al nege provinsies vry te stel.

Mabuza, voorsitter van die interministeriële komitee, het gesê dat die regering beplan om tussen Maart en Desember vanjaar sowat 700 000 hektaar grond vir bogenoemde doelwitte aan begunstigdes in al nege provinsies vry te stel.

De Lille het Sondag in ’n verklaring gesê haar departement het, sedert die kabinet dit in Oktober verlede jaar goedgekeur het, reeds sowat 167 stukke staatsgrond van gesamentlik 14 105 hektaar vrygestel.

“Die departement het tot dusver ook die vrystelling van ’n bykomende 648 hektaar grond vir behuisingsontwikkelings verwerk.”

Volgens haar is die vrygestelde grond onderhewig aan verskeie administratiewe prosesse en voorwaardes.

“Grond wat deur die departement vir menslike nedersettings oorgedra word, moet nie aan die privaat sektor verkoop word nie. Die nasionale regering moet die eerste keuse kry om dit terug te koop.

“Ons moet die neiging stop waar grond wat gratis deur die nasionale regering aan munisipaliteite en provinsies vrygestel word vir ’n wins deur hulle verkoop word.”

Volgens De Lille sal ’n databasis ook geskep word van staatsgrond wat provinsies en munisipaliteite besit “sodat alle regeringsfere saam kan beplan en grond lewer”.

staatsgrond, vrystellings
Grafika24

Die stukke grond wat onlangs vir vrystelling goedgekeur is, is:

  • Noord-Kaap: Vier staatseiendomme van sowat R3,2 miljoen as ’n skikking van die restitusie-eis van die Doraan-familie;
  • Tshwane: ’n Deel van die plaas Elandsfontein waarop 4 000 huise gebou gaan word vir die gemeenskappe van Phomolong, Itereleng en die Hills- informele nedersetting;
  • Oos-Kaap: Sowat 15 staatseiendomme van sowat R18,8 miljoen in Humansdorp as ’n skikking van die restitusie-eis van afstammelinge van die Tsitsikamma-ontwikkelingstrust/AmaMfengu-gemeenskap;
  • Noordwes: ’n Deel van die plaas Booyskraal in die Rustenburg-distrik as ’n skikking van ’n restitusie-eis van die Madibamantsho-gemeenskap. Dit beslaan sowat 1 120 hektaar en is R4,4 miljoen werd;
  • KwaZulu-Natal: Grond van 2,1 hektaar van sowat R2,9 miljoen in Cato Manor wat vrygestel is vir behuisingsdoeleindes;
  • Noordwes: Deel van die plaas Rosmincol nr. 442 as ’n skikking van die restitusie-eis van die Baphiring-gemeenskap;
  • Limpopo: Deel van plaas Loskop Suid 53 JS in Groblersdal wat aan geïdentifiseerde swart boere oorgedra is;
  • Wes-Kaap: Grond wat aan die Kaapse Skiereiland-Universiteit van Tegnologie vrygestel is, wat op sy beurt grond sal vrystel vir die herontwikkeling van Distrik Ses;
  • Mpumalanga: Deel 23 van die plaas Valschfontein in die Dr. JS Moroka-munisipaliteit vir behuisingsdoeleindes; en
  • Tshwane: Eiendom in Salvokop, Pretoria, vir gebruik vir slagoffers van geslagsgeweld.
Meer oor:  Patricia De Lille  |  Verkoop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.