Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Derek sondebok gemaak vir ANC-verdeeldheid’
Derek Hanekom. Foto: GCIS

Die Ahmed Kathrada-stigting en die SAKP het Donderdag in die bres getree vir oudminister Derek Hanekom, ’n lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK), nadat Ace Magashule, sekretaris-generaal van die party, hom daarvan beskuldig het dat hy ’n verdelende rol in die party speel.

Oudpres. Jacob Zuma, sy seun Edward, Magashule en die ANC se MK- militêre veteranevereniging (MKMVA) het ’n siedende aanval op Hanekom gedoen oor sy erkenning dat hy ’n gesprek gehad het met ’n lid van die EFF oor die stemmery in die mosie van wantroue teen Zuma in 2017 in die parlement.

Zuma het Hanekom beskryf as ’n “bekende agent van die vyand” en die MKMVA het gevra vir Hanekom se onmiddellike skorsing uit die party. Dit op die vooraand van die ANC se NUK-vergadering wat vir Vrydag geskeduleer is.

Neeshan Balton, uitvoerende direkteur van die stigting, het egter ’n beroep op die ANC gedoen om hom te distansieer van Magashule se verklaring hieroor wat hy Woensdagaand uitgereik het.

Balton het gesê dat dié stigting onder die vele organisasies en politieke formasies was wat Zuma se verwydering destyds uit dié pos gesteun het en dat Hanekom niks verkeerd gedoen het nie.

“Die verklaring is nie namens die ANC uitgereik nie, dit reflekteer die siening van Ace. Ons hoop dat die ANC daardie verklaring sal terugtrek. Ons was onder die vele organisasies wat die president (Zuma) gevra het om uit te tree,” het Balton gesê.

“In daardie konteks vind ons nie Hanekom se interaksie met die EFF sinister nie, soos wat hulle (EFF) nou aanvoer.”

Julius Malema, leier van die EFF, het vroeër die week ’n bynes oopgesteek toe hy gesê het dat Hanekom met Godrich Gardee, sekretaris-generaal van die EFF, vergader en ’n lys name oorhandig het van LP’s wat die mosie van wantroue in Zuma destyds sou steun.

Hanekom het Woensdag erken dat hy Gardee ontmoet het, maar ontken die bestaan van ’n lys en ontken ook ’n bespreking oor enige wegbreekparty wat hy glo wou stig as Nkosazana Dlamini-Zuma die ANC-presidentstryd in Desember 2017 voor pres. Cyril Ramaphosa sou wegraap.

Wie is dit wat mense gevra het om vir die BLF te stem en wat is daaraan gedoen?
SAKP

Alex Mashilo, woordvoerder van die SAKP, het gesê dit is ironies dat Zuma nou vir Hanekom kritiseer vir sy steun aan die EFF-mosie, terwyl Zuma self in 2018 mense aangemoedig het om vir Andile Mngxitama, leier van die BLF, te stem.

“Wie is dit wat mense gevra het om vir die BLF te stem en wat is daaraan gedoen?” het Mashilo gesê.

Zuma het gedurende ’n vergadering met die BLF gesê terwyl hyself ANC sou stem in die verkiesing, hulle vir Mngxitama moet stem.

Mashilo het gesê beroepe vir Zuma om te bedank is wyd deur ANC-lede self en lede van ander politieke partye en die breër burgerlike gemeenskap gesteun en daarom het Hanekom niks verkeerd gedoen nie.

“Ons het ’n beroep op alle Suid-Afrikaners . . . gedoen om hul steun agter die besluit in te gooi (om Zuma uit te stem). Ons het nie doekies omgedraai oor daardie besluit nie,” het Mashilo gesê.

Xolani Dube van die Xubera-navorsingsinstituut het gesê verhoudinge in die ANC is op hul laagste vlak en dat die verdeling in die party groter as ooit is.

“Die ANC is verdeeld en die party plaas die blaam op Derek Hanekom as sondebok om te sê dit is waarom ons is waar ons is. Die huis het reeds afgebrand en wat ons nou sien, is die bouval,” het Dube gesê.

“Hierdie tydperk is niks anders nie as die Polokwane-konferensie waar mense (oudpres.) Thabo Mbeki se ma beledig het.

Meer oor:  Derek Hanekom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.