Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Didiza sê oor ‘swak diens’ van Kaapse aktekantoor

Die probleme by die aktekantoor in Kaapstad sal verbeter, maar die gesondheid van werknemers sal bo alles beskerm word, het Thoko Didiza, nasionale minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, ná ’n vergadering met die hoofgriffier en al die provinsiale hoofde van dié kantore gesê.

Thoko Didiza, nasionale minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming. Foto: Argief

Die vergadering kom maande nadat verskeie groepe herhaaldelik gekla het oor die voortdurende sluiting van die Kaapse kantoor.

Die mees onlangse klagte kom van die DA-LP van dié portefeulje, Annette Steyn.

Steyn het Dinsdag haar misnoeë oor die voortslepende probleme bekend gemaak en gevra dat Didiza dadelik intree en verseker dat die kantoor ten volle operasioneel is.

Steyn het gesê sy sal vrae aan die parlement rig om vas te stel hoe die res van die land se aktekantore tans werk en of daar ook ’n agterstand met sake is.

Sy voer aan dat daar nog geen klagtes van die ander provinsiale kantore gekom het nie, net Kaapstad waaroor herhaaldelik gekla word.

Die kantore is sedert Mei herhaaldelik gesluit wat die agterstand met die registrasie van aktes erg geraak het.

Steyn het gesê waar dit gewoonlik tussen vyf en sewe dae neem om ’n akte te registreer, neem dit nou 27 tot 29 dae.

Teen einde Julie was daar ’n agterstand van 23 090 aktes wat nog nie geregistreer is nie.

Verlede week het David Maynier, LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede, Didiza skriftelik gevra om in te gryp.

Die Kaapse Prokureursvereniging en die Instituut vir Eiendomsagente van Suid-Afrika het in Junie ’n bevel van die hooggeregshof in Kaapstad bekom wat die kantoor dwing om in bedryf te wees.

Hierna het James Vos, burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese geleenthede en batebestuur van die Kaapse metroraad, die nasionale regering gevra om toe te sien dat die kantoor heropen.

Hierna het die Kaapse Sakekamer ook sy kommer uitgespreek.

Almal het dieselfde klagtes en vrae: Hoekom moet die hele gebou sluit vir ontsmetting wanneer daar iemand in ’n sekere afdeling in aanraking gekom het met ’n mens wat positief vir die koronavirus getoets is? Hoekom kan die onderskeie departemente binne die gebou nie net sluit en ontsmet word nie?

Didiza het Woensdag in ’n verklaring gesê sy besef die belangrike rol wat die aktekantoor in die eiendomsmark speel en ook in die herstel van die ekonomie ná die Covid-19-pandemie.

Sy het dit egter baie duidelik gemaak dat die werknemers nie in gevaar gestel sal word nie en beskerm sal word.

Sy het verskeie maatreëls vir die oplossing van die probleme bekend gemaak.

• Eksaminators sal nou aktes huis toe kan neem om te verwerk. Registrateurs het die mag om dit te bestuur, en hulle sal dit moet doen terwyl hulle ook die veiligheid van die dokumente moet verseker. Ook moet gekyk word vir vervalste dokumente.

• Sy het die departement opdrag gegee om dadelik die aangepaste regulasies van vlak 3, wat nie meer behels dat net 30% van werknemers by die kantoor hoef te wees nie, in werking te stel.

Didiza het gesê hulle sal voorts met unies oor moontlike reëls en regulasies vir werknemers onderhandel.

• Kantore sal herrangskik moet word sodat ’n gesonde afstand gehandhaaf kan word.

• Werknemers sal van toerusting voorsien word om van die huis af te werk, maar sy sê in sommige gevalle sal dit nie moontlik wees nie, soos in gebiede waar dit nie veilig is nie en in landelike gebiede.

• Die verbetering van die stelsel moet ook nou voorkeur kry.

• Kantore mag net onder uiterste omstandighede gesluit word en dit moet tot ’n minimum beperk word. Net die betrokke afdelings mag gesluit word en nie die hele gebou nie.

Meer oor:  Thoko Didiza  |  Kaapstad  |  Aktekantoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.