Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Didiza wil voorbrand maak vir meer veeartse in SA

Die onlangse bek-en-klouseer-uitbrekings in veral Limpopo het Suid-Afrika se kritieke tekort aan veeartse beklemtoon, sê Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling.

Sy beskou dié situasie as so erg dat sy beoog om voorbrand te maak om veeartsenykunde as ’n skaars vaardigheid te laat verklaar sodat buitelandse veeartse na die land gelok kan word én dat nog ’n universiteit in Suid-Afrika veeartse moet oplei.

Didiza en haar departement het Dinsdag LP’s in die portefeuljekomitee oor landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling toegespreek oor die jongste verwikkelings rakende bek-en-klouseer in die land, sowel as oor ander dier- en plantsiektes wat Suid-Afrika raak.

Die komitee het gehoor die middelpunt van die jongste uitbreking in Limpopo is in gebiede wat grens aan die Krugerwildtuin, waar buffels aangehou word wat permanent besmet is.

Thoko Didiza Foto: Elizabeth Sejake, Argief

Nog ’n brandpunt is gebiede aan die Ndumo- en Tembe-reservate in KwaZulu-Natal.

LP’s het ook gehoor dat die tydelike landwye verbod op veeveilings wat sedert Desember van krag is, waarskynlik laat in Februarie opgehef kan word sodra die departement daarvan oortuig is dat die situasie in bedwang is.

Didiza se voorlegging aan die parlement kom nadat John Steenhuisen, tussentydse DA-leier, verlede week gesê het dat die regering moet opdok vir die finansiële verliese – wat gesamentlik tot R10 miljard geraam word – wat boere en ander rolspelers in die rooivleisbedryf weens die bek-en-klouseer-uitbreking gely het.

Steenhuisen meen die regering het oorreageer met die verbod op die hou van veilings. Hy blameer ook die regering se “swak” hantering van die vorige uitbreking in 2018 vir die jongste uitbreking.

Didiza het verder aan die komitee gesê dat die departement in sy strewe om die siekte in Limpopo in bedwang te bring met rooivleisprodusente, landbou-unies, afslaers en ander belanghebbendes in die veebedryf saamwerk.

“Dit omdat ons aan hulle wil sê dat ons hul pyn verstaan, maar dat ons die siekte moet bekamp weens die gevolge wat dit vir die hele bedryf en land kan hê.

“Die situasie in Limpopo het ook die veerkragtigheid getoets van die vennootskap tussen die regering en die private sektor, wat boere, afslaers en ander insluit. Soms is dit moeilik; ’n mens kan die krake sien maar ons gaan al struikelende voort om die situasie te bestuur.”

Die minister het gesê ’n ander toets van die bek-en-klouseer-uitbreking was die regering se vermoë om dit doeltreffend te bekamp.

“Ons het in die verlede twee universiteite in die land gehad wat veeartse opgelei het, naamlik die Universiteit van Pretoria en Medunsa. Toe die twee se veeartsenykunde-fakulteite saamgesmelt het, het net die een in Pretoria oorgebly. Daar was daarna ’n afname in die aantal veeartse, veral dié wat met groot vee werk, wat in Suid-Afrika opgelei word.

“Dit is ons probleem. Ons huidige getal veeartse in die land is onvoldoende.”

Volgens haar moet die departement van binnelandse sake veeartsenykunde op kort tot mediumtermyn as ’n skaars vaardigheid verklaar sodat “ons in staat kan wees om veeartse uit die buiteland na Suid-Afrika te lok”.

“Op medium- tot lang termyn moet ons met die departement van hoër onderrig en opleiding in gesprek tree om te sien of ons nie ’n tweede universiteit kan aanwys om meer veeartse op te lei nie,” het Didiza gesê.

Meer oor:  Thoko Didiza  |  Parlement  |  Bek-En-Klouseer  |  Loopbane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.