Die parlement het die name bekend gemaak van die onafhanklike paneel wat oor die lot van Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), sal help beslis.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB). Foto: Argief
Hulle is regter Bess Nkabinde (voorsitter), adv. Dumisa Ntsebeza SC en adv. Johan de Waal SC.
Die paneel is uit nominasies van die politieke partye in die parlement aangewys.
“Die Speaker is dankbaar vir die partye se oorwoë insette. Die genomineerdes is oorweeg en mense is genader. Sommige van hulle was egter weens beroepsverpligtinge en ander oorwegings nie beskikbaar nie,” sê die parlement in ’n mediaverklaring.
Die paneel is ingevolge die reëls van die Nasionale Vergadering aangestel en moet drie bekwame mense met die nodige regs- en ander vaardighede wees.
Nkabinde het voor haar aftrede verskeie juridiese rolle beklee, waaronder as ’n regter in die konstitusionele hof.
Ntsebeza is ’n senior consultus (senior advokaat) wat in verskeie poste gedien het en ook al as regter waargeneem het.
De Waal is ook ’n senior consultus en ’n akademikus.
Die aanstelling van die paneel kom nadat die DA vroeër vanjaar ’n mosie vir die verwydering van die huidige OB ter tafel gelê het.
Die aanstelling van die paneel kom nadat die DA vroeër vanjaar ’n mosie vir die verwydering van die huidige OB ter tafel gelê het.
Die paneel moet bepaal of daar prima facie-getuienis is dat Mkhwebane haar aan wangedrag skuldig gemaak het of wat daarop dui dat sy ongeskik of onbevoeg vir die amp is. Sy moet ook redelike geleentheid hê om skriftelik op alle bewerings teen haar te reageer.
Die paneel mag nie mondelinge verhore hou nie en moet hom beperk tot die relevante geskrewe en opgetekende inligting wat voor hom geplaas word. Ingevolge die reëls moet die paneel sy werk binne 30 dae afhandel en ’n verslag lewer aan die NV om te oorweeg.
Die datum waarop die paneel se 30 dae begin, sal nog bekend gemaak word.
'OB-paneel geskiedkundig'
Die politieke ontleder Theo Venter sê die aankondiging van die paneel wat ’n verslag oor Busisiwe Mkhwebane se geskiktheid as openbare beskermer (OB) moet opstel, is ’n geskiedkundige gebeurtenis in die Suid-Afrikaanse politiek en grondwetlike geskiedenis.
“Die parlement het die reëls gefinaliseer vir die proses om ’n artikel 9-aanstelling van sy of haar amp te onthef.
“Dit het nog nooit voorheen gebeur nie. Dit volg op die hakke van ’n soortgelyke proses om ook van die staatshoof ontslae te raak wat tydens die Zuma-era ’n leemte in die Grondwet was.
“Hierdie is waarskynlik die eindspel in die tragiese era van die aanstelling van Busisiwe Mkhwebane as OB.
“ Sy het met onderdeurdagte uitsprake en optrede die amp van die OB baie skade aangedoen,” sê Venter. - Sarel van der Walt