Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Dié aktiviste slaap laat ...

Sewe “queer aktiviste” wat gaan plak het in ’n superluukse villa in Kampsbaai het hulle afgevee aan ’n ultimatum om teen Vrydag te verkas en gisteroggend laat gelê.

Xena Scullard, Kelly-Eve Koopman en Wewe Ngidi op die villa se patio. Foto: Edrea du Toit

Toe Rapport Saterdag ná 09:00 aangeklop het by die vyfslaap­kamer-villa met ’n borrelbad en panoramiese uitsigte oor die Atlantiese Oseaan en Tafelberg, was net twee van die sewe aktiviste uit die vere.

Dié groep het verlede naweek die luukse vakansieplek bespreek en Maandag die verhuringsagente laat weet hulle gaan nie weer uittrek nie.

Die aktiviste beset die huis onder die naam Radical Queer Feminist Activist Collective en die hutsmerk #WeSeeYou.

’n Sigbaar moeë Kelly-Eve Koopman, ’n leier van die groep, het aan Rapport gesê hulle het ál hul spaargeld bymekaar gemaak én boonop by familie geld geleen om die villa vir ’n naweek te bespreek.

Die villa word geadverteer vir minstens R4 400 per nag.

Die villa kos minstens R4 400 per nag.

Koopman het ’n graad in teaterkuns en is betrokke by die Femme Project, ’n organisasie sonder winsbejag wat hom beywer vir veranderinge in die opvoedkundestelsel.

Sy sê op dié organisasie se webwerf sy het “ ’n bewese prestasiegeskiedenis om respekvol en doeltreffend met die regering, korporatiewe instellings en gemeenskappe saam te werk vir maatskaplike opheffing”.

Koopman glo daar is baie ondersteuning vir hul besettings­bewusmakingsprojek.

“Mense sê nou: ‘Hoe durf hulle?’ Maar ons is bold en sê hoekom kan ons nie hier behoort nie? Hoekom is dit afgesper vir ander mense?”

Die luukse Panacea-villa in Kampsbaai. Foto’s: Turnkey365

Die eienaar van die gebou, die maatskappy Larsen Chemicals, beskou die saak uiteraard vanuit ’n ander hoek. Gaste wat verblyf bespreek het, moes by die hek omdraai en skoonmakers is die perseel verbied.

Harold Jedeikin, enigste direkteur van die maatskappy, het alle navrae na die verhuringsagentskap Turnkey365 verwys.

Turnkey365 het gister gesê hy “simpatiseer met die (aktiviste) se saak”, maar het nou klaar gesmeek en soebat en het nou met ’n regsaak begin om die aktiviste uit te smyt en skadevergoeding te eis. ’n Woordvoerder wou nie uitbrei oor wat presies die regsaak behels nie.

Die aktiviste se reaksie op Turnkey365 se aankondiging was dat hulle sélf regshulp inwin. Presies waarvoor die regshulp is, was onduidelik.

Hulle wil ’n veilige ruimte skep vir “queer” mense en nooi enige “gekleurde mense” uit die LGBTQIA+-gemeenskap om saam in te trek by hul nuutgevonde “veilige ruimte”, het die groep vroeër die week op sosiale media verkondig.

Die villa het amptelik plek vir tien uitsoekerige gaste en daar is tans sewe plakker-aktiviste.

Koopman het gister hul veldtog soos volg verduidelik: “Ons is kunstenaars en aktiviste en betrokke by veldtogte vir haweloses en besetting. Bygesê, ons is ook queer. Ons wil ’n aksie begin waar ons kan bespreek hoekom sekere eiendomme soos hierdie net vir winsbejag is. Niemand woon hier nie. Selfs tydens die hoogtepunt van die inperking het dié eiendomme leeg gestaan.”

Koopman sê daar is ’n dringende behoefte aan behuising.

“Baie mense beset uit desperaatheid grond aan die buitewyke van die stad waar daar geen veiligheid, water, riool of elektrisiteit is nie. En wanneer hulle eiendomme beset, word hulle gebrandmerk as ‘opportuniste’ en ‘indringers’.” Sy sê ongelykheid ruk heeltemal handuit en dis waarom hulle plekke soos die luukse villa by die gesprek moet inbring. “Dit is ’n oormatig luukse ruimte wat tot goeie nut van die publiek gestel kan word.”

Langs Koopman sit Wewe Ngidi, ’n opkomende kunstenaar. Volgens haar Facebook-profiel het sy vroeër by die superluukse 12 Apostles-hotel gewerk en in Italië gaan toer.

Sy sê sy is werkloos gelaat tydens die inperking. “Ek het vir my werkloosheidsversekering gewag en in die proses my huis verloor.”

Sy het kospakkies wat in die stad uitgedeel word vir die aktiviste gebring.

Die aktiviste deel gereeld foto’s van hulself op sosiale media waar hulle in die huis ontspan.

By een foto waar hulle met skootrekenaars by ’n tafel sit, het Facebook-gebruikers uitgevaar oor die Chesterfield-sigarette en drankies wat na whiskey lyk.

Een ondersteuner het wel gevra wat hy kan doen om die aktiviste te ondersteun.

Xena Scullard, een van die aktivis-plakkers, het geantwoord: “Op die oomblik benodig ons stemme om op te gaan teen die toksiese, verwronge aanmerkings oor ons wat ons kriminaliseer en nie die simboliek daarvan verstaan om besit te neem van ’n herehuis in private besit nie.”

Meer oor:  Kelly-Eve Koopman  |  Kampsbaai  |  #Weseeyou  |  Huisbesetting  |  Plakkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.