Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Dié ampsdraers gaan hul sak moet skud

Ministers, hul adjunkte, premiers en LUR’e sal voortaan net soos gewone landsburgers op alle plaaslike vlugte in ekonomiese klas moet vlieg.

Senzo Mchunu. Foto: Daily Sun

Op internasionale vlugte sal hulle egter steeds geriefliker en luukser as Jan Alleman reis omdat hulle dan steeds in besigheidsklas mag vlieg. Hul metgeselle en kinders sal egter voortaan baie minder as voorheen saam met hulle kan rondvlieg.

Dít is van die voorstelle vir die nuwe ministeriële handboek wat voortaan in ooreenstemming met die regering se kostebesparingsplanne, baie minder voordele vir dié ampsdraers bied.

Senzo Mchunu, minister van staatsdiens en administrasie, het dié en ander voorstelle van ’n interministeriële taakspan vir die nuwe handboek Woensdag vir die eerste keer in die parlement openbaar gemaak.

Volgens hom het pres. Cyril Ramaphosa die hersienings aan die ministeriële handboek vroeër vanjaar aangevra.

Dit sal Vrydag aan Ramaphosa oorhandig word wat dit moet bekragtig.

Van die ander verandering wat die taakspan na samesprekinge met die kabinet aan die handboek aangebring het, is volgens Mchunu dat nuwe ministers en adjunkte voortaan elk nege ondersteuningspersoneel self in hul kantore (gesamentlik vir Pretoria en Kaapstad) kan aanstel. Die poste is aan die betrokke ministers se termyn gekoppel.

Vir kontinuiteit sal daar ook vier permanente personeellede in ministeriële kantore wees.

Volgens Mchunu is daar voorgestel dat die perk op die prys vir ministeriële ampsmotors voortaan R700 000 sal wees en nie R800 000 soos Tito Mboweni, minister van finansies, vroeër in sy mediumtermynbegrotingsraamwerk in die parlement gesê het nie.

“Dit word ook voorgestel dat ministers ook nie meer soos voorheen hul eie private motors gebruik en dan later geld daarvoor terugeis nie.”

Hy sê die voorstelle vir plaaslike en buitelandse vlugte sal in werking tree sodra Ramaphosa die nuwe ministeriële handboek goedkeur.

“Van ons vlieg reeds ekonomiese klas.”

Daar gaan nou ook ’n maandelikse perk vir water- en elektrisiteitsdienste by ministeriële ampswonings wees.

Die staat sal egter steeds verantwoordelik wees vir veiligheidsopgraderings by staatshuise waarin ministers woon.

“Ministers moet self die res opdok as daardie dienste die perk oorskry.”

Die staat gaan nie meer soos voorheen vir veiligheidsopgraderings, waarvoor die vorige ministeriële handboek vir tussen R100 000 en R250 000 voorsiening gemaak het, by ampsdraers se private huise opdok nie.

“Die staat sal egter steeds verantwoordelik wees vir veiligheidsopgraderings by staatshuise waarin ministers woon.”

Elke ampswoning kry nog een huiswerker, maar die ministers moet die skoonmaakmiddels vir die huise uit hul eie sak betaal.

Ampsdraers kry steeds toerusting soos selfone. “Ons soek konsensus dat dit geskrap moet word, maar onderhandel nog daaroor.”

Volgens hom sal die nuwe ministeriële handboek ook nie meer soos voorheen voorsiening maak vir voordele vir voormalige ministers nie.

“Daar is kommer oor hierdie kwessie. Ons was dit egter eens dat dit nie in die ministeriële handboek vervat moet word nie omdat sulke voordele soos vliegkaartjies, ens. vir voormalige ministers deur die parlement gedek word. Dit is gegewe die huidige (ekonomiese) situasie byvoorbeeld kommerwekkend dat voormalige ministers lank ná hul uittrede steeds baie vliegkaartjies kry,” sê Mchunu.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.