Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Dié amptenare mag nie op foon klets
Foto ter illustrasie.

Die gebruik van private selfone deur amptenare wat by die ontvangstoonbanke van die departement van binnelandse sake werk, word al jare lank verbied, het LP’s Dinsdag gehoor.

Lede van die parlementêre portefeuljekomitee oor binnelandse sake het die gebruik van private selfone deur dié personeel bespreek nadat selfoonvideo’s daarvan vroeër op sosiale media versprei is.

Hlomani Chauke, komiteevoorsitter, het aan dr. Siyabonga Cwele, minister van binnelandse sake, wat die vergadering bygewoon het, gesê die komitee voel baie sterk dat die gebruik van selfone deur dié amptenare onaanvaarbaar is.

“Dit weerspieël ’n aantal kwessies: die regering wat nie daarin slaag om behoorlike dienste te verskaf nie, en die kwessie van veiligheid kom weer ter sprake. Daar is geen fokus nie. Ons veroordeel dit ten sterkte. Ons gaan nie sulke optrede duld nie,” het hy gesê.

Siyabonga Cwele, minister van telekommunikasie en die posdiens. Foto: Leánne Stander

Cwele het aangedui dat daar teen die amptenare opgetree is wat in die twee video’s verskyn het. In een geval het ’n vroulike amptenaar van die Beitbrug-grenspos ’n finale skriftelike waarskuwing ontvang.

Die komitee is ook ingelig dat die amptenare wat in die tweede video gesien kan word waar hulle in die teenwoordigheid van die publiek met hul private selfone doenig is, aangevoer het dat daar ’n kragonderbreking was. Hulle het die tyd gebruik om na persoonlike sake om te sien. Ook hulle het skriftelike waarskuwings ontvang.

Thulani Mavuso, direkteur-generaal van binnelandse sake, het gesê die gebruik van private selfone deur amptenare by grensposte is sedert 2003 verbode. Die beleid is in 2012 na amptenare by alle ontvangstoonbanke uitgebrei.

Dit is die verantwoordelikheid van die onderskeie kantoorbestuurders om dié beleid toe te pas.

Chauke het gevra of daar dus saamgestem kan word dat daar ’n algehele verbod op die gebruik van selfone deur amptenare by ontvangstoonbanke is gegrond op die beleid.

“Wat beteken dit? Ek dink lede van die publiek sal nou weet. Die vakbonde was deel van die ooreenkoms dat die gebruik van selfone by die departement van binnelandse sake se ontvangstoonbanke verbied word. Niemand in daardie pos mag sy selfoon by hom hê nie. Die beleid sal toegepas word en daar sal opgetree word teen enigiemand wat sy of haar selfoon gebruik terwyl hulle in daardie pos is,” het hy gesê.

Cwele en die amptenare het instemmend geknik.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.