SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Politiek
Dié banke het aandeel in staatskaping, sê Hain

Internasionale banke moet aanspreeklikheid aanvaar vir die rol wat hulle in staatskaping in Suid-Afrika gespeel het, sê lord Peter Hain.

LONDON, UNITED KINGDOM - SEPTEMBER 04: Lord Peter
Lord Peter Hain Foto: Getty Images

Dié Britse politikus en anti-apartheidsaktivis het Maandag voor die Zondo-kommissie van ondersoek oor die troebel wêreld van geldwassery getuig.

Hy sê staatskaping is moontlik gemaak deur internasionale rolspelers wat die Gupta-familie onregstreeks gehelp het om geld na die buiteland te laat vloei.

Volgens Hain was wêreldbekende banke soos Standard Chartered, HSBC en die Bank of Baroda hierby betrokke.

Belastingbetalers se geld is glo oorbetaal aan maatskappye in Indië, Hongkong en die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) wat basies net op papier bestaan.

“Internasionale banke hou hulself blind, maar moet ’n rol speel om verdagte transaksies te monitor,” sê Hain.

Benewens banke het ’n gebrek aan optrede deur prokureurs- en ouditeursfirmas, asook buitelandse regerings staatskaping moontlik gemaak, aldus Hain.

“Iets het internasionaal skeefgeloop. Die betrokkenes moet nie net toesprake lewer nie, maar begin optree,” sê hy.

Volgens hom het die staatskaping-sage in Suid-Afrika die gebreke in die internasionale bankwese blootgelê.

Hy sê geldwassery is ’n wêreldwye probleem waarvoor internasionale rolspelers verantwoordelikheid probeer ontduik omdat hulle self voordeel daaruit trek.

Hy sê geldwassery is ’n wêreldwye probleem waarvoor internasionale rolspelers verantwoordelikheid probeer ontduik omdat hulle self voordeel daaruit trek.

“Dit is nie ’n probleem wat deur een enkele regering opgelos kan word nie en daarom moet daar groter samewerking tussen regerings en belanghebbendes wees.”

Hain, wat in Kenia gebore is, het ook swart-ekonomiese-bemagtigingsondernemings (SEB) as ’n “gerieflike meganisme” vir staatskaping geïdentifiseer. Hoewel hy saamstem met die uitgangspunt van SEB, sê hy die SEB-stelsel is deur korruptes gemanipuleer.

“Frontmaatskappye is dikwels gestig wat hulle dan as SEB-maatskappye voordoen. Wanneer hulle die kontrak kry, plunder hulle. Daarom is groter omsigtigheid hiervoor nodig.”

Hain het voorgestel dat die kommissie ondersoek instel oor hoekom niemand nog uit Dubai, waar die Gupta-familie woon, aan Suid-Afrika uitgelewer is nie.

Hy het die Suid-Afrikaanse regering gemaan om so vinnig moontlik op te tree om die geld terug te kry wat weens staatskaping verlore gegaan het.

’n Foto van Lord Peter Hain wat in 2001 geneem is. Foto: Gert Coetzee

“Ek is bekommerd dat die Suid-Afrikaanse regering nie die geld met die nodige dringendheid probeer terugkry nie. Intussen word daardie geld uitgegee.

“Ek verstaan die uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar maar internasionale misdaad verander vinnig en misdadigers word slimmer. Daar moet vinniger beweeg word,” sê hy.

Regter Raymond Zondo het Hain verseker dat daar wel beoog word om teen staatskapers op te tree. Volgens Zondo sal die kommissie sy verslag oor staatskaping en aanbevelinge aan pres. Cyril Ramaphosa gee waarna daar opgetree sal word.

Dit is egter onbekend wanneer die kommissie sy verslag sal voltooi.

Hain het verskeie maatreëls voorgestel wat die staat, banke en firmas kan instel om geldwassery hok te slaan.

“Dit kan wees dat die Guptas net die punt van die ysberg is,” sê hy.

Die Guptas ontken die aantygings en meen hulle is die slagoffers van ’n politieke aanval.

Soos vroeër berig, het Hain in September verlede jaar ’n brief aan Philip Hammond, toe Britse minister van finansies, geskryf met die versoek dat Brittanje lede van die Gupta- en Zuma-familie ondersoek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.