Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Dié beelde van desperate mense ontstel, sê Ramaphosa

Beelde van desperate mense wat die laaste paar weke by verspreidingspunte wag op kospakkies en gemeenskappe wat betoog teen ’n tekort aan kos, is ontstellend, skryf pres. Cyril Ramaphosa in sy jongste nuusbrief.

Kospakkies wat die organisasie Gift of the Givers in die Wes-Kaap versprei. Foto: Jaco Marais

Hy sê die nasionale inperking het die groot ongelykhede in die Suid-Afrikaanse gemeenskap opnuut na vore gebring, maar erken terselfdertyd daar is te stadig uit die blokke gespring om die mees kwesbares in die gemeenskap te help.

“Die inperking het baie tragiese gebreke ontbloot wat wys hoe die groterwordende armoede, ongelykheid en werkloosheid besig is om die samestelling van ons gemeenskappe uitmekaar te skeur,” skryf die president.

“Daar kan niks erger vir ’n ouer wees as wanneer sy kinders huil van die honger en hulle (die ouers) het niks om vir hulle te gee nie.

“Daar kan geen groter ongeregtigheid in ’n gemeenskap wees waar sommige in gemak leef en baie het, terwyl ander ’n stryd voer om oorlewing en byna niks het nie.

“Hierdie is die oorblyfsels van ’n gebroke en ongelyke verlede. Dit is ook ’n simptoom van die postapartheid-gemeenskap wat fundamenteel besig is om te misluk.

“Daarbenewens was daar in verskeie provinsies die skokkende onthullings dat sommige gevoellose individue, waarvan sommige glo regeringsamptenare is, kos wat vir die behoeftiges en brandarm mense bedoel is, opgaar en selfs verkoop, of dit eerder vir hul eie familie en vriende gee.”

Ramaphosa sê as daar bewyse is vir dié bewerings, moet daar genadeloos teen die skuldige individue opgetree word.

Ramaphosa se uitlatings volg kort op die hakke van landbou-, nieregerings- en hulporganisasies dat daar op ’n wye front saamgewerk sal moet word om ’n honger-revolusie te voorkom.

Die land bevind hom volgens die staatshoof tans in ongekende waters omdat hy nog nooit met ’n gesondheidskrisis van dié omvang te make gehad nie.

Ondanks die baie uitdagings het die verspreiding van welsynstoelae tot dusver relatief glad verloop. Ná ’n paar tegniese uitdagings is daar ook ’n verbetering in die stelsel van voedselverspreiding.

Ons moes ook in aanmerking neem watter invloed die inperkings sou hê op mense wat nie gereeld hul salarisse sou ontvang nie, op die werkloses, op hulle wat werk soek, op hulle wat seisoenale werk doen, op hulle in die informele sektor, op die behoeftiges en op die kwesbares.

Omdat die inperking op kort kennisgewing ingestel is, was daar verskeie uitdagings.

Tog is dit duidelik die inperking het die tempo vertraag waarteen mense deur die virus besmet word. Dit het boonop aan die land tyd gebied om voor te berei vir ’n moontlike kwaai toename in infeksies in die volgende paar weke en maande.

“Ons moes die impak van die inperking op die reeds worstelende ekonomie op sowel lang as kort termyn oorweeg, sowel as die impak wat die ontwrigting op die lewensbestaan van miljoene mense het.

“Ons moes ook in aanmerking neem watter invloed die inperkings sou hê op mense wat nie gereeld hul salarisse sou ontvang nie, op die werkloses, op hulle wat werk soek, op hulle wat seisoenale werk doen, op hulle in die informele sektor, op die behoeftiges en op die kwesbares,” sê Ramaphosa.

Die kabinet oorweeg ’n stel maatreëls om die land se mense te help en het hieroor gesprek gevoer met onder meer vakbonde, die sakewêreld, godsdiensgroepe, die burgerlike samelewing en die presidensiële ekonomiese advieskomitee.

Dié rolspelers het met verskeie voorstelle vorendag gekom. Die voorsiening van welsyn sal verskerp word om dié mense wat onder die broodlyn leef, te help.

Ramaphosa het nieregeringsorganisasies, godsdiensgroepe en gewone burgers bedank wat geld skenk of uit hul eie aanbied om te help om die hongeres en die behoeftige mense te voed.

“Om hongerte te verlig is nie ’n daad van liefdadigheid nie. Dit word verwag van enige gemeenskap wat daarop aanspraak maak dat hy menseregte respekteer.”

Meer oor:  Pres. Cyril Ramaphosa  |  Suid-Afrika  |  Koronavirus  |  Covid-19-Virus  |  Inperking  |  Armoede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.