Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Die BLF maak reg vir ‘oorlog’

Andile Mngxitama, leier van Black First Land First (BLF), sê sy party gaan in Desember klasse in selfverdediging en die gebruik van wapens begin aanbied.

Andile Mngxitama in sy tuisdorp Tlokwe op verkiesingsdag.

“Ons word gedagvaar deur hierdie ryk wit boere wat al hoe meer militant optree, maar ons kry nie ons grond nie,” sê Mngxitama, wie se party maar 19 796 (0,11%) stemme in die algemene verkiesing gekry het.

“Daarom moet ons ons regmaak vir geweld.”

Hierdie opleidingsessies sal deur militêre veterane van Zimbabwe en Suid-Afrika gelei word, beweer Mngxitama.

Toe Rapport hom vra of die Umkhonto weSizwe- militêre veteranevereniging (MKMVA) met opleiding sal help, het Mngxitama gesê dat niemand in hul amptelike hoedanigheid met opleiding sal help nie.

Mngxitama vra Zim-veterane om te help met opleiding ‘soos wat wit boere kry’

Hy sê hy vrees nie vir die veiligheid van sy partylede nie, maar hulle sal gedwing word om die wapen op te neem as hulle self met geweld gedreig word.

“Wit boere kry militêre opleiding, so ons moet dieselfde doen.”

Rapport het gevra of hierdie verslaggewer die BLF se opleidingsessies in Desember kan waarneem, maar Mngxitama het gesê geen wit mense sal toegelaat word nie.

Hy wou nie bevestig of die BLF al wapens bekom het of waar hulle dit sal kry nie, maar sê as wit mense die reg het om vuurwapens te besit, het BLF-lede dieselfde reg.

“Kyk na groepe soos die Suidlanders. Dis bekend dat hulle elke naweek oefeninge met wapens doen. Ons moet onsself voorberei.”

Die randgroep Suidlanders beskryf homself as ’n burgerlike verdedigingsorganisasie wat “blanke gelowiges” voorberei vir “nasionale ontruiming” en ’n “burgeroorlog” waarin swart mense kwansuis wit mense gaan teiken.

Mngxitama wou ook nie bevestig of ’n onlangse WhatsApp-boodskap deur die BLF versprei is nie. In die boodskap vra “BLF” dat vrywilligers hulle bystaan met grondbesettings deur hul name by die party te registreer.

Luidens die boodskap sal “streng kriteria” geld vir grond wat geteiken gaan word. Dit moet:

* deur wit mense besit word;

* produktief wees; en

* in gebruik wees.

“Ons intelligensie-taakspan is nie bereid om te bevestig of te ontken of hulle die boodskap uitstuur nie,” sê Mngxitama.

“Maar die inligting in die boodskap is korrek.”

Mngxitama sê dit is ook waar dat die grond van Wes-Kaapse boere geteiken sal word, omdat “hulle voldoen aan die kriteria. Kolonialisme het in die Wes-Kaap begin, so dekolonisering moet ook daar begin.”

Volgens Mngxitama gaan die howe die besettings nie kan keer nie. Hy beweer dat meer as 50 interdikte reeds in die provinsie teen die BLF bekom is weens besetting van plase, maar kon nie sê watter 50 plase die organisasie kamtig beset het nie. Vroeër die week het hy die getal op 60 geraam in ’n onderhoud met Netwerk24.

Rapport het vroeër vanjaar berig 15 plase in die Durban­ville-distrik het vanjaar interdikte teen die BLF verkry. Dit sluit in Durban­ville Hills, Morgenster en Hillcrest.

BLF het briewe op die plase versprei waarin hulle waarsku dat hulle “ ’n proses finaliseer waardeur landbougrond direk by wit diewe afgevat sal word”.

Mngxitama sê tien van die miljardêr Johann Rupert se plase sal ook geteiken word.

“Daar sal nie vrede in hierdie land wees as ons nie ons grond terugkry nie,” sê Mngxitama.

Meer oor:  Andile Mngxitama  |  Blf  |  Black Land First
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.