Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Die dag toe Mmusi kar moes stoot

Markus Jooste, die beleërde voormalige Steinhoff-meesterbrein, het aangebied om ’n motor te skenk vir gebruik deur die DA omdat hy een aand gesien het hoe Mmusi Maimane, DA-leier, ’n kollega van hom se motor stoot. Dis hoe Maimane gekom  het aan die Toyota Fortuner wat in 'n interne partytwis ontaard het omdat dit nie kort na die Steinhoff-skandaal dadelik aan die maatskappy terugeggee is nie.

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff. Foto: Getty Images
Mmusi Maimane

’n Bron in die party het aan Rapport gesê Geordin Hill-Lewis, destyds Maimane se stafhoof, het in 2016 ’n fondsinsamelingsfunksie by die Steinhoff-hoofkantoor in Stellenbosch, waar Jooste ook teenwoordig was, saam met Maimane bygewoon.

Dit was ruim voordat die bom oor beweerde bedrog in Desember 2017 bo Steinhoff gebars het.

Toe Hill-Lewis en Maimane die aand uitstap om te ry, wou Hill-Lewis se Toyota Corolla nie vat nie, toe stoot Maimane die kar.

Dis glo toe die Steinhof-direkteure dit raaksien dat hulle  aangebied het om die kar te skenk “omdat die leier van die opposisie nie ’n kar behoort te stoot nie”.

Hill-Lewis het Vrydag die insident bevestig.

Jooste het toe die Toyota Fortuner aan die DA gegee vir Maimane se gebruik.

Hill-Lewis het Saterdag gesê Steinhoff se hele uitvoerende bestuur het dit gesien “en vir ons gelag”.

“Ek het seker die ligte aangelos en toe ons uitkom was die battery heeltemal pap. Dit was op daardie oomblik baie snaaks.” 

Die party het die afgelope week bevestig die motor is etlike maande ná die Steinhoff-skandaal gebreek het eers terugbesorg aan Herz, die verhuringsmaatskappy wat dit besit het, soos wat Rapport verlede Sondag berig het.

Sommige DA-leiers het onthullings oor die Toyota die afgelope week beskryf as ’n poging om Maimane te diskrediteer.

“Moes hy die kar na Steinhoff neem net omdat dit aan hom vir gebruik geleen is? Die kar is aan die party geskenk en die party moes dit terugbesorg het,” het een bron gesê.

Nog ’n senior leier het gesê: “Waarom, as die kar so ’n groot kwessie was en oneer op die party sou kon bring, dit nou eers ophaal. Niemand het daarvan geweet nie. Dis mos ’n administratiewe ding.

“Waarom vra hulle nie vir die party om die geld wat deur Steinhoff geskenk is (aan die DA) ook terug te betaal nie? Toe ons geld van die Guptas gekry en besef dat Sahara eintlik die Guptas was, is die R500 000 teruggegee. Die vraag is dus: Het die DA ook die geld aan Steinhoff teruggegee toe hulle die kar teruggegee het?”

Meer oor:  Markus Jooste  |  Mmusi Maimane  |  Skenking  |  Da  |  Motor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.