Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Dié gerug oor Zuma se eise vir uittrede ‘fopnuus’

Gerugte dat pres. Jacob Zuma se ondersteuners wil hê dat sy eksvrou, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, tot in 2019 as tussentydse president van die land moet oorneem as ’n voorwaarde vir hom om vrywillig uit sy amp te bedank, is “fopnuus”, sê Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal.

Magashule het Vrydag so gesê toe hy en Jessie Duarte, ANC-adjunk-sekretaris-generaal, die media in Oos-Londen toegespreek het oor die voorbereidings vir die ANC se 106de bestaansjaarvieringe wat Saterdag amptelik by die Absa-stadion in dié stad in die Oos-Kaap gehou sal word.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa, die nuwe ANC-president, sal die hoofspreker wees.

Pres. Jacob Zuma

Magashule het die vraag oor Zuma se beweerde voorwaarde beantwoord toe hy deur joernaliste op die mediakonferensie daaroor gepols is na aanleiding van ’n berig in die Mail&Guardian Vrydag dat Zuma se ondersteuners eis dat Dlamini-Zuma by hom oorneem tot ná die nasionale verkiesings in 2019.

Dlamini-Zuma, tans ’n gewone ANC-LP, het die stryd om die ANC-presidentskap op die party se nasionale konferensie in Johannesburg in Desember naelskraap teen Ramaphosa verloor.

Luidens die Mail&Guardian is daar tans agter die skerms onderhandelinge met Zuma oor sy lot aan die gang. Van die ander voorwaardes is luidens die koerant dat sommige van Zuma se sleutel-kabinetaanstellings, soos David Mahlobo, minister van energie, en Bongani Bongo, minister van staatsveiligheid, in hul poste behou moet word. Mahlobo het dit ná sy aanstelling reeds duidelik gemaak dat die land se omstrede kernkragtransaksie sal voortgaan.

Zuma sal ook Saterdag se vieringe in Oos-Londen as ex officio-lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) bywoon.

Magashule het Vrydag gesê “gerugte” dat Zuma vir Dlamini-Zuma as tussentydse president eis, het geen gronde nie.

“Ons gaan nie op spekulasie en gerugte reageer nie. Aanvaar dit wat ons vir julle sê, want julle het toegang tot ons. Laat ons daaroor praat en fopnuus vermy. Ons as die NUK het nie hierdie kwessie bespreek nie.”

Ons gaan nie op spekulasie en gerugte reageer nie. Aanvaar dit wat ons vir julle sê, want julle het toegang tot ons. Laat ons daaroor praat en fopnuus vermy. Ons as die NUK het nie hierdie kwessie bespreek nie.

Volgens Magashule het die NUK wel op sy spesiale vergadering Woensdag Zuma se aankondiging oor die aanstel van die geregtelike kommissie van ondersoek na staatskaping bespreek. “Die NUK het dit verwelkom. Ons het egter nie die verwysingsraamwerk daarvan bespreek nie, omdat julle weet wie dit moet bepaal.”

Magashule het gesê die NUK het op sy vergadering Woensdag meestal die inhoud van die 8 Januarie-verklaring, wat Ramaphosa Saterdag by die Absa-stadion sal lewer, bespreek.

“Van die hoofkwessies waarop daar gefokus sal word, is die hernuwing van die ekonomie, die onteiening van grond sonder vergoeding en onderwys. Ander sleuteltake vir die jaar is ook bespreek.”

Volgens hom sal Ramaphosa Saterdag meer daaroor uitwei.

Hy het dit ook benadruk dat die ANC in 2018 voluit sal voortstoom om radikale ekonomiese transformasie (RET) te implementeer. “RET sal plaasvind. Oral waar die ANC gaan, soos nou in Oos-Londen, sal ons dit implementeer en verseker dat klein ondernemings en maatskappye in swart besit bevoordeel word. Ons mense sal bevoordeel word.”

Magashule, wat steeds Vrystaatse premier is, het gesê dat die NUK ook die kwessie bespreek het van hom en Paul Mashatile, LUR vir plaaslike regering in Gauteng en nuwe ANC-tesourier-generaal, wat tot voltydse poste in die ANC se topses-leierskap verkies is en steeds nie hul posisies verlaat het nie.

“Daar is ooreengekom dat ons twee ons poste (in die Vrystaat en Gauteng) teen einde Maart sal ontruim.”

Hy het ook gesê dat die lede van KwaZulu-Natal en die Vrystaat se provinsiale uitvoerende rade, wat deur verskillende hofuitsprake verlede jaar as onwettig verklaar is, steeds in hul posisies is omdat hulle in albei gevalle teen die hofuitsprake geappelleer het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.