Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Dié keer stem opposisie nie almal saam met DA

Hulle het die DA in sy wantrouemosie in pres. Jacob Zuma gesteun, maar nie alle opposisiepartye is nie ten gunste van die mosie waarmee dié party die parlement wil laat ontbind en so ’n verkiesing wil afdwing nie.

Bantu Holomisa, UDM-leier. Foto: Herman Verwey

Bantu Holomisa, UDM-leier, sê sy party steun nie dié mosie van die DA nie.

Hy meen die gereedheid van die Verkiesingskommissie vir die 2019-verkiesing is van onmiddellike belang. “Die mandaat van die huidige regering loop in 2019 ten einde en ons werk met dié doelwit in sig,” lui sy verklaring.

Mosiuoa Lekota, Cope-leier, het Donderdagmiddag in ’n verklaring gesê sy party gaan ook nie die mosie steun nie.

Dit kom nadat hy vroeër by navraag gesê het daar blyk geen vooruitsig te wees dat die mosie suksesvol sal wees nie. “Dit het geen sin om ’n projek te ondersteun wat nie suksesvol sal wees nie. Ons het hulle egter gevra vir ’n vergadering waar politieke partye hul mening kan deel voordat hulle voortgaan daarmee.”

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het op sy beurt die mosie as “opportunisties” afgemaak en gesê dit sal nie slaag nie en sal Zuma net versterk. “Die onlangse wantrouemosie het getoon ANC-LP’s is bereid om die ANC te beskerm ondanks ongelukkigheid oor Zuma en staatskaping.”

Die IVP het nog nie die mosie oorweeg nie en sy koukus en strukture sal daaroor besluit voordat dit in die NV bespreek word.

Die ANC het vroeër gesê dié plan wys dat die DA nie die demokrasie en kiesers van Suid-Afrika respekteer nie.

Julius Malema, EFF-leier. Foto: Tebogo Letsie

Julius Malema, EFF-leier, het op sy beurt Woensdagaand getwiet dat die DA nie ’n mosie benodig om die parlement te laat ontbind nie. ’n Uittreksel van die EFF se vroeëre stelling was aangeheg by dié twiet waarin Malema voorstel die beste manier om die parlement te ontbind is om 50 LP’s sover te kry om te bedank. Hy het daarop gewys art. 46 van die Grondwet bepaal dat die Nasionale Vergadering (NV) uit niks minder nie as 350 lede en nie meer as 400 lede nie moet bestaan. Daarom dink hy dit sal maklik wees om 50 LP’s te kry om te bedank, omdat die DA 89 lede in die NV het, die EFF 25, en al die ander kleiner partye saam 37.

Lawson Naidoo, direkteur van die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac), sê egter niks sal gebeur as 51 LP’s bedank nie. “Die parlement sal voortgaan om te funksioneer. Die ANC met sy 249 lede sal steeds die meerderheid in die parlement hê.”

Intussen het die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) gemaan teen opposisiepartye wat vra vir die ontbinding van die parlement omdat dit nie in dié stadium help nie.”

John Steenhuisen, DA-hoofsweep wat Donderdag die mosie ingevolge art. 50 van die Grondwet by die NV ingedien het, het in reaksie gesê dit is die partye se goeie reg om nie die mosie te ondersteun nie, net soos die die DA se reg is om die mosie ter tafel te lê. Dit is parlementêre demokrasie.

“Ek sou dink omdat die ANC duidelik gewys het dat hy geen voorneme het om die Zuma-kwessie te hanteer nie, ons alle beskikbare maatreëls moet gebruik om van hom ontslae te raak.”

Meer oor:  Cope  |  Udm  |  Bantu Holomisa  |  Mosiuoa Lekota  |  Parlement  |  Saam  |  Da  |  Opposisie  |  Keer  |  Met  |  Nie  |  Stem  |  Almal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.