Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Dié op soustrein se dae finaal verby, sê Ramaphosa

Die dae van mense wat die staatsdiens en staatsinstellings gebruik om hul sakke vol te stop, is finaal verby, het pres. Cyril Ramaphosa Woensdag gewaarsku.

Hy het Woensdag in sy begrotingsrede vir die presidensie in die Nasionale Vergadering gesê die presidensie is nie bang om op te tree nie. Wetstoepassingsagentskappe staan gereed om diesulke amptenare na die aanklagkantoor te vergesel.

Hy sê toegewyde amptenare deel die droom van wat almal vir Suid-Afrika wil hê, onder meer hardwerkende verpleegsters, dokters, paramedici en onderwysers wat uitstekende uitslae in township- en landelike skole lewer.

Soos hy in die staatsrede uiteengesit het, is sy prioriteite onder meer die bevordering van ekonomiese transformasie en werkskepping, verbeterde onderwys en vaardighede, goeie gesondheidsorg en betroubare basiese dienslewering van gehalte, menslike nedersettings en veiliger gemeenskappe.

’n “Gefokusde en aktiewe” presidensie is noodsaaklik om dié strewes te verwesenlik.

Kabinetskommelinge

Die presidensie moet ingevolge die Grondwet nasionale wetgewing in werking stel en die funksies van staatsdepartemente en administrasies koördineer. Dié koördinasie het egter in die verlede verswak.

“Gereelde kabinetskommelinge en ’n hoër omset van senior bestuurders in die nasionale en provinsiale regering het tot onstabiliteit, wanbelyning en verwarring gelei,” sê Ramaphosa.

Werkloosheidsyfer

Met verwysing na die hoë werkloosheidsyfer onder jeugdiges sê hy hulle het hulp nodig om ekonomiese vryheid in hul leeftyd te verseker.

“Selfs in ’n verswakte ekonomie moet ons aandag gee aan die omstandighede van die jeug wat nie in die onderwys, ’n werk of opleiding is nie.”

Die presidensie sal sy gewig agter pogings van nasionale en provinsiale departemente asook plaaslike regerings en sakeondernemings gooi om werkskepping vir jeugdiges te verseker.

Vennootskappe

“Ons het ’n gekoördineerde plan wat met vennootskappe met die private sektor geïmplementeer sal word.”

Groter koördinasie sal volgens Ramaphosa ook in die vervolg tussen die nasionale, provinsiale en plaaslike regering plaasvind. Daar gaan ook met ’n gefragmenteerde benadering tot ontwikkeling weggedoen word.

Die kabinet is bekommerd oor die sloerstaking by die land se hawens, veral in die Oos-Kaap.

Afleggings

Ramaphosa sê hy het vir Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, en Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, aangestel om in te gryp. Hy het ook sy kommer oor toenemende berigte van beoogde afleggings by groot maatskappye uitgespreek. Daar word oorleg gepleeg met rolspelers en alle beskikbare opsies sal oorweeg word om soveel moontlik werke te behou.

Malema braak gal

Julius Malema, EFF-leier, het ná Ramaphosa se toespraak weer gal gebraak teenoor Gordhan in die lig van die bevindinge van die openbare beskermer (OB) teen hom. Hy sê hy was ’n slagoffer van die eenheid.

Malema het herhaaldelik na Gordhan as “agbare Jamnadas” verwys. (Jamnadas is Gordhan se tweede naam.) Hy het teen Gordhan uitgevaar en gesê die EFF is nie bang vir hom nie en sal ook nie deur hom as gyselaar gehou word nie. Dit kom nadat EFF-LP’s die begin van Gordhan se begrotingsrede verlede week ontwrig het en gedreig het om hom aan te rand.

EFF 'maak jag' op Gordhan

Jackson Mthembu, minister in die presidensie, het egter in sy spreekbeurt vir Gordhan in die bres getree.

“Waarom maak die EFF so jag op Gordhan? Laat ons dié vraag beantwoord: Waarom dié anargistiese vervolging van dié strydros van ons revolusionêre beweging? Ons weet een rede is dat daar ’n diepgewortelde haat vir ons Indiër-kamerade is.

“Tweedens, Meneer die President, het jy die agbare Gordhan gestuur om staatsinstellings te gaan skoonmaak. Ek kan jou verseker hy het op sommige korrupte tone van die EFF se pêlle getrap in sy poging om die staatsinstelling skoon te maak. Hulle probeer inderdaad baie hard om die aandag af te lei van hul vriende wat handel dryf in onwettige sigarette en wat hulle gereeld finansier.

“Dit is dié vriende wat gejaag word deur ons belastinggaarder. Pravin word die sondebok. Agbare President, moenie van stryk gebring word deur dié rasers nie. Gaan voort om te doen wat die mense jou gevra het om te doen – om hul lewe vir goed te verander.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.