Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Die opposisie is ‘sonder ambisie’

Die DA het geen ambisie om mense buite die Wes-Kaap se lewe te verbeter nie en kon steeds in beheer in Johannesburg gewees het as die party aan die EFF se “maklike eise” toegegee het, beweer ’n vertroueling van die voormalige Johannesburgse burgemeester Herman Mashaba.

Michael Beaumont
Herman Mashaba

Dié vertroueling, Michael Beaumont, skryf in ’n nuwe boek dat die EFF nog vroeg die oggend waarop die DA beheer oor die Johannesburgse stadsraad verloor het na die party uitgereik het om die stad uit die hande van die ANC te hou.

In die boek The Accidental Mayor – Herman Mashaba and the battle for Johannesburg skryf Beaumont dat die EFF se eise “maklik” was om aan toe te gee.

Al wat dié party wou gehad het, was om die speaker, die hoofsweep en vyf komiteevoorsitters vir die stad aan te wys.

Die DA sou nie eens één van sy belangrike uitvoerende poste hoef prys te gegee het nie.

“Dit was diep ironies dat die moeilikste koalisievennoot, die een wat die meeste gedoen het om die delikate koalisie tot ’n val te bring, die DA was,” skryf Beaumont.

Ná ’n lang debat het Zille glo uitgebars: “Dit is tyd dat julle besef die DA is ’n 20%-party en ons moet op ons tradisionele basis fokus.

Die verskyning van die boek het opnuut die rusie tussen Mashaba en sy ou party laat opvlam met Helen Zille, voorsitter van die party se federale raad, wat Vrydag op Politicsweb teruggekap het deur te sê Mashaba was nooit “DA-materiaal” nie. Sy skryf Mashaba se outokratiese leierskapstyl het hom van sy kollegas vervreem en dit was gou duidelik die mening van die EFF het swaarder geweeg as dié van sy eie partygenote.

Mashaba was uitvoerende burgemeester van Afrika se rykste stad van Augustus 2016 – toe ’n DA-koalisie met behulp van die EFF en ander partye die beheer oorgeneem het – tot November 2019, toe hy as burgemeester én DA-lid bedank het. Die ANC het daarna beheer oor die stad oorgeneem met behulp van DA-manteldraaiers wat vir die ANC-burgemeester gestem het.

Beaumont onthul ook Mashaba was aanvanklik onwillig om die DA se burgemeesterskandidaat in Johannesburg te wees. Hy het op eie koste Amerika toe gevlieg om Lindiwe Mazibuko, die DA se voormalige parlementêre leier, te oorreed om die pos te aanvaar, maar sy wou nie.

Mashaba beoog om in Augustus ’n nuwe party stig nadat sy burgerlike inisiatief, The People’s Dialogue, landwyd mense oor hul beskouings geraadpleeg het.

Beaumont skryf die partyleiers was nooit te vinde om enige EFF-aanbod (om die raad in DA-hande te hou) te oorweeg nie.

’n Leierspan van die koukus het Zille, toe pas verkies as voorsitter van die party se federale uitvoerende raad, ook probeer oortuig om die “onwettigheid” van die vergadering waarop die nuwe ANC-speaker verkies is, op hersiening te laat neem.

Ná ’n lang debat het Zille glo uitgebars en gesê: “Dit is tyd dat julle almal besef die DA is ’n 20%-party en ons moet op ons tradisionele basis fokus.”

Beaumont skryf dit is ’n bewys die DA het geen ambisie om die ANC te ontsetel, om te regeer of die lewe van mense buite die Wes-Kaap te verbeter nie.

“Die eenvoudige waarheid is Johannesburg het vandag ’n ANC-burgemeester omdat DA-raadslede verraad gepleeg en gestem het om die veelpartyregering te laat val.”

Zille sê verder in haar reaksie Mashaba het nooit besef nie die “kuns” van koalisiebou beteken dat jy nooit jou eie beginsels verloën net om jou opponente tegemoet te kom nie.

“Nog nooit het ’n leier sy politieke kapitaal so gou verspil as wat Mashaba gedoen het nie. Aanvanklik was hy die held in sy koukus, maar sy outokratiese leierskapstyl het gelei tot diep vervreemding onder sy kollegas.”

Sy sê dit het uiteindelik vir Mashaba duidelik geword dat hy liewer moet spring voordat hy gestoot word. Deur weg te stap van die burgemeesterskap was dit eintlik Mashaba wat die stad op ’n skinkbord aan die ANC oorhandig het.

Beaumont onthou dit anders. Hy sê die pogings om die DA se effe swakker vertoning in 2019 aan die party se swart leiers toe te skryf, was die laaste strooi vir die voormalige sakeman.

Hy onthul ook die Instituut vir Rasseverhoudinge is, voordat dit aan die partystrukture voorgelê is, geraadpleeg oor die interne hersieningsverslag waarin die vinger na Mmusi Maimane en die ander leiers gewys is.

  *Lees ’n uittreksel uit Beaumont se boek nou in Weekliks.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.