Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Die rebellie teen Cyril

Verdeeldheid in die ANC en wrywing tussen Ramaphosa en Cosatu stuur af op ’n aanslag teen die president, berig Jan de Lange.

Pres. Cyril Ramaphosa en David Mabuza, adjunkpresident, op 30 Mei 2019 by ’n inhuldigingseremonie in Pretoria. Foto: Getty Images

Faksie-verdeeldheid in die ANC laai vinnig op in die aanloop tot die party se hoofraadsvergadering middel vanjaar, waar die sogenaamde groep vir radikale ekonomiese transformasie – die RET-faksie – ’n aanslag teen pres. Cyril Ramaphosa van stapel wil stuur.

Die rebellie teen Ramaphosa broei veral in drie van die ANC se grootste provinsies – KwaZulu-Natal, Mpumalanga en die Oos-Kaap – waar verkiesings van provinsiale en streekleiers in die eerste helfte van die jaar gehou word.

“Die verkiesings word nou gevoer as ’n opbou tot die hoofraadsvergadering,” volgens ’n bron na aan Ace Magashule, sekretaris-generaal en ’n sleutelfiguur in die RET-faksie.

In KwaZulu-Natal moes nuwe leiers in Desember gekies word in eThekwini, die provinsie se belangrikste streek en die grootste enkele streekstruktuur in die ANC. Die omstrede Zandile Gumede is steeds die dienende voorsitter, ondanks haar afdanking as burgemeester in Augustus weens beweerde korrupsie en bedrog. Die streekkomitee is ook ná haar afdanking deur die ANC-hoofkantoor ontbind.

“As sy herkies word, sal dit die posisie van die premier, Sihle Zikalala, erg verswak. Zikalala het die ankerpunt van Ramaphosa se steun in KZN geword, terwyl Gumede nou die vaandeldraer van die RET-mense is,” het ’n bron in Luthuli-huis aan Rapport gesê.

‘Hulle sê Gordhan is deesdae die land se werklike president.’

Gumede, wat Donderdag vir die derde keer in die Durbanse landdroshof verskyn het op aanklagte van bedrog en korrupsie wat verband hou met ’n tender van R208 miljoen vir vullisverwydering, het ná die hofverskyning aan ondersteuners gesê die aanklagte teen haar is deel van ’n politieke veldtog “om my naam as ’n politieke aktivis te beswadder”.

Sy word in die streekverkiesing teengestaan deur Thabani Nyawose, ’n takleier in eThekwini wat in 2017 een van Ramaphosa se verkiesingsagente was in sy veldtog om president van die ANC te word.

Die verkiesing sou in November plaasgevind het, maar is deur die provinsiale komitee tot Februarie uitgestel. Gumede se ondersteuners voer aan daar was geen rede vir die uitstellery nie – dis net gedoen om Nyawose meer tyd te gee vir sy veldtog teen Gumede.

In Mpumalanga word nuwe provinsiale leiers ook binnekort gekies. Dit word beskou as ’n toets vir die steun van adj.pres. David Mabuza, wat volgens Rapport se bron sy greep op die provinsie begin verloor.

Die premier, Refilwe Mtsweni, is ’n vertroueling van Mabuza, maar sy word teengestaan deur die waarnemende voorsitter, Mandla Ndlovu, ’n voormalige Mabuza-bondgenoot wat teen hom gedraai het. Ndlovu neem as voorsitter waar sedert Mabuza einde Desember 2018 adjunkpresident van die ANC geword het.

Geen datum vir die provinsiale konferensie is nog aangekondig nie, maar dit sal voor die hoofraadsvergadering middel vanjaar gehou moet word.

’n Bron in die Ramaphosa-kamp is onseker of Mabuza se uitlatings dat die direksie van Eskom moet bedank omdat hulle Ramaphosa mislei het oor beurtkrag, daarop dui dat Mabuza deel is van die pogings om Rama­phosa te knou.

“Tot dusver het hulle uitstekend klaargekom. Ramaphosa hou Mabuza ingelig en daar is geruime tyd reeds sprake daarvan dat Jabu Mabuza vervang moet word. Dit kan wees dat David Mabuza die weg gebaan het vir Jabu se bedanking.

“Dit sal nietemin duidelik word op die naweek se NUK-vergadering of adj.pres. Mabuza se posisie verander het. Hy is baie afhanklik van die Ramaphosa-groep, want die RET-groep slyp hul messe vir hom oor sy verraad teen hulle by die Nasrec-konferensie.

“Daar is geen kans dat hy hom by die RET-groep sal skaar nie, maar dis moontlik dat hy en Paul Mashatile (ANC-tesourier) teen Ramaphosa kan saamspan. Tot dusver was Mashatile die een mens in die topstruktuur wie se lojaliteit aan Ramaphosa die moeilikste is om te peil,” sê die bron.

Ramaphosa se betrekkinge met Cosatu het dramaties verswak nadat die SAL in sakeredding geplaas is, en weens die regering se plan om Eskom te ontbondel.

“Daar is groot wrywing tussen Ramaphosa en Cosatu. Mense in Cosatu wat by Nasrec van Rama­phosa se belangrikste soldate was, het teen hom gedraai en eis dat hy van Pravin Gordhan as minister van staatsbeheerde ondernemings ontslae raak.

“Hulle sê Gordhan is deesdae die land se werklike president, en hulle het besluit dis Gordhan of hulle,” sê die bron in Luthuli-Huis.

Hy verwag Ramaphosa gaan op die hoofraadsvergadering kwaai onder skoot kom oor Eskom, wat inkonk, die SAL, wat dan in likwidasie kan wees, en die Reserwebank, wat die ANC in 2018 besluit het genasionaliseer moet word.

Meer oor:  Zandile Gumede  |  Pravin Gordhan  |  Cyril Ramaphosa  |  David Mabuza  |  Anc  |  Eskom  |  Korrupsie  |  Cosatu  |  Verdeeldheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.