Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Die slegte nuus: Ons geld is op, sê Cyril

Die land se geld is op en Suid-Afrikaners se pensioenfonds­bates word ’n al hoe waarskynliker teiken vir die regering om die wa deur die drif te trek, het dit Donderdag duidelik geblyk.

Hoewel pres. Cyril Ramaphosa Donderdag in vraetyd in die parlement herhaaldelik daarvan weggeskram het om reguit te sê of hy “voorgeskrewe bates” steun, het hy wel later gesê daar moet met die pensioenfondsbedryf en ander rolspelers gepraat word oor die gebruik van pensioenfondsbates om die land ekonomies te ondersteun.

Pres. Cyril Ramaphosa

Dit moet “ ’n nasionale gesprek” wees, sê hy.

“Ons finansiële bronne is uitgeput, terwyl ons ontwikkelingsbehoeftes enorm is.”

In ander lande waar pensioenfondsbates gebruik word om in die land se ontwikkeling te belê, behaal pensioenfondse goeie opbrengste uit veral infrastruktuurprojekte, sê hy.

Volgens hom steun die vakverbond Cosatu die siening dat werkers se pensioengeld só gebruik word.

Geordin Hill-Lewis, DA-woordvoerder oor finansies, het ná die tyd gesê Cosatu sal nou sy standpunt oor voorgeskrewe bates duidelik moet stel.

Tot dusver was vakbonde krities oor die idee dat hul lede se pensioengeld gebruik kan word om sukkelende staatsondernemings staande te hou.

Op ’n aanvanklike vraag van Mmusi Maimane, DA-leier, oor die ANC se planne om pensioenfondse te dwing om in staatsprojekte te belê, sê Ramaphosa beleid sal gevolg word wat die belange van “ons mense in Suid-Afrika” en die belange van pensioenfondslede – ook lede van vakbonde – sal bevorder.

Volgens Ramaphosa word dit deur die beleggerswêreld as positief beskou.

Hill-Lewis meen Ramaphosa se antwoorde is die naaste tot nog toe aan ’n amptelike bevestiging dat die regering wel aan pensioenfondse gaan voorskryf waar om hul bates te belê.

“Dit is ’n onaanvaarbare en roekelose beleidsvoorstel, en kom reg uit die apartheidsregering se beleid. Dit behoort deur alle Suid-Afrikaners teengestaan te word. Dit sal ’n slag wees vir beleggersvertroue in Suid-Afrika, sal die hele ekonomie skaad en dit moeiliker maak om die ekonomie te laat groei en werk te skep,” sê Hill-Lewis.

Werkloosheid is die grootste risiko vir die land, sê Ramaphosa.

Daarom word ’n tweede Suid-Afrikaanse beleggingskonferensie van 5 tot 7 November ge­reël.

Hy gee toe meer moet baie vinniger gedoen word om werkloosheid te bekamp.

CR17-veldtog

“Daar was geen kwaaddoenery, misdadigheid of misbruik van openbare geld of hulpbronne nie.”

Onder diegene wat geld uit die CR17-veldtogfonds gekry het, is glo Khumbudzo Ntshavheni, minister van kleinsakeontwikkeling, Thembi Siweya, adjunkminister in die presidensie, Fikile Mbalula, minister van vervoer, en Zizi Kodwa, adjunkminister van staatsveiligheid.

Ramaphosa het in antwoord op ’n vraag van Mmusi Maimane, DA-leier, ontken hy het dié vier in sy kabinet aangestel as beloning vir hul rol in die veldtog. Hy sê die geld was bedoel vir wettige oogmerke om te verseker die veldtog beweeg vorentoe. – Philda Essop

Bosasa

Maimane het Ramaphosa gevra oor ’n brief waarin die ANC Bosasa bedank vir ’n R3-miljoen-skenking.

Hy wou weet of die ANC al die skenkings wat hy die afgelope 15 jaar van Bosasa gekry het aan die fiskus gaan betaal omdat dié geld “uit die opbrengs van korrupsie” gevloei het. DA-amptenare het toe afskrifte van die brief onder joernaliste in die persgalery versprei.

Ramaphosa het Maimane die brief gevra en gesê hy sal daaroor nadink.

John Steenhuisen, DA-hoofsweep, het grappenderwys gesê die brief is kort en die DA is bereid om te wag terwyl hy dit lees, maar Thandi Modise, speaker, het dit nie toegelaat nie. – Philda Essop

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.