Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Die staat wil sport oorvat

Die regering het ’n wetsontwerp gepubliseer wat alle sportliggame soos SA Rugby, SA Krieket, en Atletiek SA sal “nasionaliseer” sodat die minister van sport selfs spankeuses kan dikteer.

Kobus Marais, raadslid van die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee. Foto: Wessel Oosthuizen

Die wetsontwerp is so ingrypend dat dit ’n soort nasionale diensplig vir atlete instel, tronkstraf van tot twee jaar vir sekere oortredings voorskryf en byna alle magte van die huidige sportbeheerliggame oordra aan ’n adjunk-direkteur-generaal van die departement van sport en ontspanning.

Die Wysigingswetsontwerp op Sport en Ontspanning is kort voor Kersfees gepubliseer en het die land se sportadministrateurs onkant betrap.

Kobus Marais, raadslid van die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Sas­kok), sê as die wet in sy huidige vorm aanvaar word, sal Suid-Afrika uit die Olimpiese Spele geskop word omdat dié internasionale liggaam regeringsinmenging verbied.

Ook Gay Mokoena, waarnemende uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa), sê hy voorspel probleme met die internasionale sokkerliggaam Fifa.

Mokoena sê hulle het by Rapport verneem van die wetsontwerp se bestaan.

‘Die gevolg hiervan is baie ernstig.’

Sumayya Khan, waarnemende direkteur-generaal van die departement, het aan Rapport gesê dis nie waar dat die minister sport wil oorneem nie.

“Die minister wil net ’n meganisme skep sodat hy kan ingryp om ondersoeke in te stel sonder om (in die daaglikse administrasie) in te meng.”

Sy sê die regering sal interna­sionale sportliggame se reëls re­spekteer.

“Daar is net te veel sportfederasies wat in hofsake betrokke raak – en ons soek ’n manier om geskille intern te hanteer.”

Rolspelers verskil skerp van dié interpretasie van die wetsontwerp.

Volgens Marais neem die wetsontwerp al Saskok se magte weg.

“Die minister sal direk kan inmeng by die administrasie van alle sportbeheerliggame en selfs in beheer geplaas word van die keuring van sportlui.

“Die gevolg hiervan is baie ernstig.

Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur.

“(Die Internasionale Olimpiese Komitee en Fifa) sal nie skroom om plaaslike sportverenigings te skors as die minister toegelaat word om direk by sport in te meng soos wat die wysigingswetsontwerp voorstel nie.”

Die wysigingswetsontwerp bepaal onder meer:

  • Alle sport en fisieke ontspanningsaktiwiteite “wat ’n bydrae lewer tot fiksheid, geestelike welstand en sosiale wisselwerking” word deur die departement beheer;
  • Selfs gimnasiums soos Virgin Active en Planet Fitness word deur die departement gereguleer en geregistreer;
  • Fiksheidsinstrukteurs en sportagente sal almal by ’n regeringsinstelling geregistreer moet word en jaarlikse tariewe hiervoor betaal;
  • Die departement sal “beheer uitoefen” oor alle nuwe sportgeriewe wat aan munisipaliteite toegewys word;
  • ’n Tribunaal sal gestig word om geskille oor sport aan te hoor; en
  • Die minister sal aan sportkodes mag voorskryf wat hulle moet doen vir ontwikkeling van spelers.

Marais sê die wetsontwerp neem sportfederasies se magte weg én lê ekstra verpligtinge op.

“Dit kom daarop neer dat sport genasionaliseer word sonder dat die staat enige finansiering daarvoor beskikbaar stel. Dit is verregaande.”

Die nuwe liggaam binne die departement, Sport and Recreation South Africa (SRSA), sal ook die finale seggenskap hê oor watter atlete vir nasionale kleure kwalifiseer.

Netbal SA en Rugby SA het Rapport se vrae verwys na prof. Steve Cornelius, ’n sportregkenner verbonde aan die Universiteit van Pretoria.

Cornelius sê daar is geen twyfel dat die wetsontwerp die minister in beheer sal stel van alle sport nie.

“Ingevolge bestaande wetgewing is daar ’n proses van eskalasie voordat die minister kan inmeng. Wanneer daar ’n dispuut in sport is, is Saskok die aangewese liggaam om dit te hanteer voordat die minister kan ingryp.”

Die nuwe wetsontwerp sê die minister kan nou direk ingryp.

Die regering maak al lank geluide dat hy meer beheer oor sport wil hê.

Rapport het in Julie berig dat Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, in sy begrotingstoespraak benadruk het dat die demografie van nasionale spanne moet verander “vir nasiebou om te verbeter”.

Mthethwa het in Junie op ’n parlementêre vraag van Bhekiziz­we Luthuli, IVP-LP, gewaarsku dat unies gestraf kan word as hulle nie hul teikens haal nie.

Min. Mthethwa se voorganger,  Tokozile Xasa, het vroeër aan Rapport gesê die moontlike “straf” sluit in die onttrekking van finansiering  en hul erkenning as sportbeheerliggame van betrokke kodes, om hulle te verbied om internasionale toernooie aan te bied of na­sionale kleure toe te ken.

Elk van dié dreigemente is tot ’n mindere of meerdere mate in die wetsontwerp vervat.

Solidariteit het Xasa daaroor hof toe gevat en aangevoer dat die strafmaatreëls onwettig is, en dat kwotas op sigself onwettig is ingevolge die Wet op Gelyke Indiensneming.

Hul aansoek is egter van die hand gewys, en hulle wag nou vir toestemming om te appelleer.

Solidariteit het onder meer in sy saak aangevoer talle internasionale sportbeheerliggame, soos Wêreldrugby en die Internasionale Krieketraad (IKR), laat geen inmenging van regerings toe nie.

Tsepo Mhlongo, DA-woordvoerder oor sport, het die wetsontwerp as “skokkend” en “niks anders nie as die nasionalisering van sport” beskryf.

“Dit oortree die meeste Olimpiese kodes, insluitende die kodes van die Internasionale Olimpiese Komitee en van die Internasionale Paralimpiese Komitee.”

Scott Schreuder, voorsitter van die Register of Exercise Professionals South Africa (Repssa), sê pogings deur die minister om die fiksheidsbedryf  te reguleer, is ook onnodig.

“Ons doen sedert 2011 selfregulering, en 89% van alle fiksheidsinstrukteurs is by Repssa geregistreer.

“Dit maak daarom vir ons geen sin dat die minister nou ons rol wil oorneem nie.”

Schreuder sê gimnasiums moet reeds aan verskeie bou-, gesondheid-, sonering- en stadsregulasies voldoen en dat dit eenvoudig deur die minister gedupliseer gaan word.

Kommentaar op die wetsontwerp word tot 28 Februarie ingewag.

Meer oor:  Nathi Mthethwa  |  Safa  |  Sa Rugby  |  Saskok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.