Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Die Stem’ sál gehoor word – ANC-LP

“Die Stem”-gedeelte van die nasionale volkslied sal bly en gesing word omdat die ANC nie sal toelaat dat eng nasionalisme weer in Suid-Afrika insluip en die nasie verteer nie.

“Dit verenig ons ook,” het Vuyisile Malomane, ANC-LP, Donderdagmiddag tydens ’n debat oor Erfenisdag in die Nasionale Vergadering gesê voordat sy staande deur alle ANC- én DA-LP’s in die parlement daarvoor toegejuig is.

Die voortdurende aanvalle op Afrikaans as taal is ook tydens die debat – wat ook op inheemse tale gefokus het – sterk deur veral opposisie-LP’s aan die groot klok gehang.

Vuyisile MalomaneFoto: PARLEMENT

Malomane het in haar spreekbeurt veral die EFF skerp gekritiseer omdat hulle tydens die sing van die volkslied gewoonlik gaan sit as “Die Stem”-deel gesing moet word.

Die EFF het onlangs aangedui dat hy hom voortaan sal beywer vir die verwydering van “Die Stem” uit die volkslied.

Malomane het bygevoeg dit is “verkeerd om ‘Die Stem’ te verwerp”.

Ntombovuyo Mente, EFF-LP, het hiertydens egter opgespring en gesê: “Adjunkvoorsitter, wees verseker dat ons nooit ‘Die Stem’ sal sing nie”.

Malomane het voortgegaan en gesê “die Afrikaanse weergawe was deel van die volkslied toe dit bekend gestel is”.

“Ons moet dit daarom aanhou sing omdat dit ons verenig. Ons sal nooit weer toelaat dat eng nasionalisme insluip en ons nasie verteer nie.”

Sy het bygevoeg die ANC sal ook nie toelaat dat die “ou apartheidsvlag” steeds deur sommige in Suid-Afrika rondgeswaai word nie.

Oor Afrikaans het dr. Annelie Lotriet, DA-LP, gesê dit is ironies dat Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, in Erfenismaand “alles in sy vermoë wil doen om Afrikaans uit te werk”.

“Weer word die taal die politieke speelbal en sondebok gemaak om die aandag af te lei van die regering se eie onvermoë en onwilligheid om ons land se inheemse tale te bevorder en te koester.

“Steeds word die geykte argument gebruik dat taal nie as uitsluiting moet dien nie. Dit is tipies van denke wat vasgevang is in ideologiese vooroordeel waar daar nog nooit moeite gedoen is om vas te stel wie die sprekers van die taal is nie.”

Sy het bygevoeg Afrikaans is die derde grootste taal in Suid-Afrika wat as moedertaal spog met die grootste rasse-diversiteit van alle tale.

Heloïse Jordaan, VF Plus-LP, het gesê huidige regeringsbeleid bevorder nie die ontwikkeling van inheemse tale nie.

“Afrikaans, waarvan die hoër funksies reeds ontwikkel is, word gebruik as politieke speelbal en word as die ‘taal van die onderdrukker’ bestempel as deel van die ANC en EFF se apartheidsretoriek om politieke gewin weens ’n gebrek aan werkbare beleid.

“Die EFF se minagting van Afrikaans in sy openlike stryd teen wit mense is welbekend, al is die meerderheid Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika nie wit nie.

“Hoe kan debatte oor taalerfenis gehou word terwyl miljoene Afrikaanssprekendes se taal deur ’n populistiese groep grypdiewe misbruik word in hul desperate poging om aan mag vas te klou?”

Ganief Hendricks, Al-Jama-ah-LP, het gesê Afrikaans “kom van die mense van Java en Maleisië wat as politieke gevangenes hier slawe gemaak is”.

“Hulle het Afrikaans gepraat, maar Arabiese teks gebruik. Die eerste boek in Afrikaans was in Arabies geskryf. Maar as jy dit gelees het, was dit in Afrikaans.”

Volgens Hendricks moet alle kulture en tale daarom as ’n begin omarm word om stamgebondenheid omver te werp.

Meer oor:  Vuyisile Malomane  |  Erfenisdag  |  Debat  |  Volkslied  |  Anc-Lp  |  Politiek  |  Die Stem  |  Da  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.