Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Dié verwysings na joernaliste gevaarlik, sê Sanef
Mahlatse Mahlase Foto: City Press

Dit is ’n uiters gevaarlike tendens by veral politici om na joernaliste van wie hulle verskil as Stratcom-agente te verwys omdat dít die hele mediabedryf onder verdenking kan plaas én joernaliste se veiligheid in gevaar kan stel.

Dit is die mening van Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef).

Mahlatse Mahlase, Sanef-voorsitter, het Woensdag in ’n verklaring gesê politieke partye soos die ANC en die EFF het albei die afgelope paar weke gesê dat joernaliste van wie hulle verskil, deel van Stratcom is.

“In die jongste voorval het die ANC ’n verklaring uitgereik waarin Pieter-Louis Myburgh as Stratcom gebrandmerk is omdat hy ’n boek oor Ace Magashule (ANC sekretaris-generaal) geskryf het.”

Volgens Mahlase het van die publikasies in die Independent Media-groep ook joernaliste wat in April verlede jaar krities oor Iqbal Survé, Independent-voorsitter, berig het, gebrandmerk as Stratcom-lede.

“Stratcom was die naam van ’n eenheid wat in die apartheidsera deur die veiligheidspolisie bedryf is. Die Waarheids-en-versoeningskommissie het destyds getuienis aangehoor van voormalige Stratcom-lede oor hoe hulle media-instellings sou infiltreer om waninligting oor struggle-leiers soos Winnie Madikizela-Mandela te versprei.

“Dié inligting het dikwels gelei tot die dood van aktiviste en die manipulasie van die waarheid om die Nasionale Party te pas,” het Mahlase gesê.

Sy meen om vandag ’n joernalis só te brandmerk, kom daarop neer dat hy of sy deur die staatsveiligheidsagentskap betaal word om die waarheid te verdraai of om waninligting te versprei.

“Dit is ’n ongelooflik gevaarlike tendens om na joernaliste as Stratcom te verwys sonder bewyse dat hulle korrup of betrokke by misdadige aktiwiteite is.

“Dit plaas die hele mediabedryf onder verdenking en stel joernaliste in gevaar.”

Sanef versoek dus politici en sakelui wat oor die werk van joernaliste gegrief is om die beskikbare regulatoriese meganismes by die Persombudsman van Suid-Afrika te gebruik of om lastergedinge in te stel pleks daarvan om te probeer om joernaliste met ’n Stratcom-kwas te bevlek.

Meer oor:  Sanef  |  Joernaliste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.