Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Dié wet het geen plek in SA – Motlanthe

’n Klap is Maandag onregstreeks na die ANC gewaag toe oudpres. Kgalema Motlanthe dit onomwonde gestel het dat daar geen plek in Suid-Afrika vir uitgediende apartheidswette is nie – veral nie die Wet op Oproerige Byeenkomste ingevolge waarvan Julius Malema, EFF-leier, onlangs aangekla is nie.

Motlanthe is aan die stuur van die taakspan wat ondersoek instel na die uitwerking van wette wat sedert 1994 gemaak is.

Openbare vergaderings is Maandag in Goodwood, Kaapstad, gehou.

Die ANC het onlangs sy meerderheid in die parlement gebruik om ’n mosie van die EFF vir die herroeping van apartheidswette – veral die Wet op Oproerige Byeenkomste – te herroep. Die mosie is met 179 teen 86 verwerp.

Motlanthe, wat sy woorde versigtig gekies het op ’n vraag of hy dink dat dit verkeerd van die ANC was om teen die mosie te stem, het gesê: “So ’n wet het geen plek in ’n demokratiese Suid-Afrika nie. Dit hoort tot die verlede.” Dit is belangrik om te verstaan wat die bedoeling met ’n wet was toe dit geskep is.

“Die wet is in 1956 gepromulgeer om mense te verbied om te vergader, debat te voer en hul gemeenskaplike ervaringe te deel. Ek verstaan nie hoe dit nog ná 1994 kon voortleef nie.”

Hy het gesê ná 1994 is ou wette herroep en met meer demokratiese wette vervang. Die taakspan is juis geskep om nou te bepaal watter uitwerking dié wette op mense se lewens gehad het. “Die wet is ’n anachronisme.”

Ek verstaan nie hoe dit nog ná 1994 kon voortleef nie.

Moloto Mothapo, ANC-koukuswoordvoerder, het vroeër in reaksie op die mosie die EFF van opportunisme beskuldig.

Hy het gesê die ANC het sedert 1994 reeds 2 000 wette herroep en die EFF moes eerder ’n private ledewetsontwerp ingedien het om die betrokke wet te wysig.

Motlanthe het Maandag ook kommer uitgespreek oor leemtes in wetgewende prosesse.

“Ek dink wette bereik nie alle Suid-Afrikaners in ’n taal wat hulle verstaan nie. Die Nasionale Raad van Provinsies en die Nasionale Vergadering het bepaalde prosesse om openbare deelname oor wette te verseker, maar dit sluit meestal gewone mense uit.”

Volgens Motlanthe is openbare deelnameprosesse waarvolgens die publiek bydraes oor wetsontwerpe moet lewer gewoonlik beperk tot diegene wat goed ingelig is, soos navorsingsinstellings en mense wat ’n belang het by spesifieke kwessies wat in wetsontwerpe ter sprake is.

Talle mense wat nie kan lees of skryf nie, word uitgesluit.

“Talle mense wat nie kan lees of skryf nie, word uitgesluit. Taal is ’n groot kwessie en dalk moet daar meer gesteun word op gemeenskapsradiostasies vir die bewusmaking van die publiek.”

Van die kwessies wat tot dusver die meeste geopper is in die openbare vergaderings in ses provinsies, wys dat die grondkwessie oral beskou word as die basis van alle griewe ten opsigte van armoede en ongelyke toegang tot gemeenskapsgeriewe, soos sportvelde en sentrums vir vroeë kinderontwikkeling.

“Talle mense opper die grondkwessie oral en glo totdat dit nie regverdig opgelos word nie, sal dit moeilik wees om probleme soos ongelykheid op te los en eenheid te skep.

“Die grondkwessie sal proaktief gepak moet word. Verdere gesloer daarmee gaan openbare onrus aanwakker.”

Motlanthe het gesê wanneer die taakspan sy aanbevelings maak, sal wetgewing oor grond en herverdeling wel geopper word.

Meer oor:  Julius Malema  |  Kgalema Motlanthe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.