Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Dié wette help bruin mense nie, hoor taakspan

Openbare vergaderings oor die uitwerking van wetgewing op Suid-Afrikaners se daaglikse lewens is Maandag gebruik om die sweep te klap oor die nuwe Wetsontwerp op Tradisionele en Khoisan-leiers en ander wette waaruit bruin mense “min voordeel” trek.

Oudpres. Kgalema Motlanthe, hoof van die taakspan wat deur Baleka Mbete, speaker, aangestel is om al die wette sedert 1994 te evalueer, het die openbare vergaderings in Goodwood gelei.

Veterane soos Peter Marais, leier van die Bruin Bewussynsbeweging, het ’n vurige uiteensetting gegee van hoe wetgewing en die gebrek aan sekere wetgewing volgens hom bruin mense raak.

Hulle is die eienaars van grond as ’n stam, jy het ’n stukkie grond as ’n individu en so gou as wat jy vir Lewis Stores geld skuld, verkoop jy jou plot.

Hy het arbeidswetgewing, wetgewing oor inheemse kennis, die Khoisan-wetsontwerp, asook wette oor mariene hulpbronne en die status van Afrikaans onder luide toejuiging vanuit die gehoor gekap.

Marais het die destydse driekamerparlement verdedig.

“Die meeste van julle het die driekamerparlement verwerp. Ek het nie, want dit is waar ek my tande vir die politiek geslyp het. Maar weet julle, die driekamerparlement het jurisdiksie gehad oor al die bruin groepsgebiede en dus het mense soos David Curry en Allan Hendrickse seggenskap gehad oor goed soos onderwys, plaaslike regering en grond. En julle het dit alles opgegee. Alles. Nou sit julle met niks.”

Marais het gesê die wetgewing oor groepsgebiede is geskrap om bruin mense private huiseienaarskap te gee terwyl die Nguni-stamme gemeenskaplike grond het waaroor hulle eienaarskap het.

“Hulle is die eienaars van grond as ’n stam, jy het ’n stukkie grond as ’n individu en so gou as wat jy vir Lewis Stores geld skuld, verkoop jy jou plot.”

Marais het ook arbeidswetgewing gekap wat bepaal dat nasionale demografie eerder as provinsiale demografie gebruik word vir regstellende aksie. Volgens hom is dit net nóg ’n voorbeeld van hoe bruin mense aan die kortste ent van wetgewing trek.

Ook wetgewing wat mariene hulpbronne beperk, het onder sy tong deurgeloop. “Krismis is om die draai en jy gaan nie eens ’n stukkie kreef kan koop nie. Kreef en wit mossel was die Khoisan se kos. En nou, nou kan jy dit nie eens vang nie. Al bly jy teenaan die see, kry jy nie ’n kwota nie, maar mense in Gauteng wat nie eens ’n see sien nie, het ’n kwota. Ons is die Eerste Nasie, maar ons word behandel soos derdeklasburgers.”

’n Ander inwoner het die taakspan gevra om die Handves van Menseregte te wysig omdat “dit verkragters en moordenaars beskerm”.

“Hulle verkrag en vermoor ons kinders en binne twee dae is hulle weer op straat. Die handves moet gewysig word. Dit moet dit duidelik maak dat dit nie misdadigers beskerm nie.”

’n Verteenwoordiger van die Khoisan in die Wynlanddistrik het op sy beurt gesê: “Niks het vir ons verander nie. Dit is asof ons steeds in 1988 leef. Ons is steeds plaashandlangers en niemand se gelyke nie. Wette beskerm steeds die mense wat ons in dié posisie geplaas het. Alles pla my omtrent wette wat gemaak word, want ek het geen baat daarby gevind nie.”

Meer oor:  Kgalema Motlanthe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.