Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Dié Zuma-taktiek ‘lewensgevaarlik’

Voormalige intelligensie-hoë sê ’n lys van spioene bestaan nie, berig Erika Gibson.

Ngoako Ramatlhodi

’n Voormalige lid van die Nasionale Party-regering se intelligensiestrukture sê lyste met die name van apartheidspioene wat die ANC voor 1994 geïnfiltreer het, is met die einde van apartheid vernietig en dat oudpres. Jacob Zuma se bewerings dat hy weet wie hulle was, “lewensgevaarlik” is.

Dr. Nel Marais, ’n risiko-ontleder wat van 1980 tot 2000 in die nasionale intelligensiestrukture gedien het, sê die rigting wat Zuma nou ingeslaan het, is lewensgevaarlik, juis omdat niemand ’n enkele lys het wat die name van operateurs bevat nie.

In sy getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping het Zuma beweer drie eertydse bondgenote was “apartheidspioene”.

Ngoako Ramatlhodi, oudpremier van Limpopo en kabinetsminister tot in 2017, is volgens Zuma in Lesotho as spioen gewerf.

Nog een van Zuma se vermeende “spioene” is genl. Siphiwe Nyanda, voormalige stafhoof van Umkhonto weSizwe (MK), wat ook die hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag geword het. Hy is een van die eerste prominente ANC-figure wat geëis het dat Zuma bedank. Hy het Zuma ook onlangs ’n “faksieleier” en ’n “bitter ou man” genoem.

‘Dit was om die aandag van die ondervra­ging af te lei.’

’n Derde vermeende spioen – “Comrade Fear” oftewel Cyril Raymond, “Ralph” of “Fear” – was ’n MK-bevelvoerder.

Ramatlhodi en Nyanda beoog albei om Zuma aanspreeklik te hou vir sy “lasterlike” bewerings (sien berig hiernaas). Tog het Zuma Vrydag gedreig hy gaan nog name bekend maak nadat hy in die week ’n folio rondgeswaai het asof dit ’n lys met die name van spioene in die ANC bevat wat destyds vir buitelandse regerings of die apartheidstaat gewerk het.

Teen 1994 was nie net Nasionale Intelligensie (NI) binne die landsgrense aktief nie, maar ook die Geheimediens, Militêre Inligting (MI) en die polisie se veiligheidspolisie, sê Marais.

Dié dienste het nie bronbesonderhede gedeel nie en die identiteite van ANC-bronne sou waarskynlik slegs aan enkeles in elke diens bekend gewees het.

’n Enkele lys met al die name het dus nooit bestaan nie. Marais sê wel die ANC het waarskynlik sy eie lyste gehad, maar dié se besonderhede is nooit bekend gemaak nie. Zuma, as intelligensiehoof van die ANC, sou waarskynlik geweet het wie daarvan verdink is dat hulle spioene was.

Marais sê NI het kort ná die ANC se ontbanning as terreur-organisasie in 1990 alle bronverslae verbrand.

“Dit is letterlik verbrand en ook elektronies vernietig. Dit het egter nie die institusionele geheue van die bronhanteerders uitgewis nie en baie van die ouer hanteerders beskik dus steeds oor daardie gegewens. Ek aanvaar dieselfde vernietiging het in MI en in die polisie plaasgevind,” sê Marais.

Wat van die ANC se lyste geword het, is onbekend. Marais meen daar is waarskynlik verskeie lyste wat opgestel is om mense te mislei. Daarom is die inhoud van Zuma se lys verdag.

“Sedert Zuma dié week name begin noem het, was daar ’n oplewing van mense wat bron-inligting smous.

“Dit stel nie net mense se lewe in gevaar nie, maar ook dié van families. Zuma het impliseer dat van die apartheidspioene in hoë ANC-poste dien, wat massiewe agterdog kan saai.”

Marais wys daarop dat almal wat sover deur Zuma daarvan beskuldig is dat hulle spioene was, hom gekritiseer het.

“Zuma en sy regspan het ongetwyfeld eers die taktiek beproef om die aandag van die ondervraging by die Zondo-kommissie af te lei. Dit het nie lank gehou nie, want selfs die hoofstroommedia het nie sy onthullings ernstig opgeneem nie.

“Sy prokureurs het duidelik ook vir hom gesê om so min as moontlik inligting bekend te maak wat hom kan inkrimineer.

“Dít het hy Dinsdag gedoen deur kort en vae antwoorde te gee of om selektief te besluit wat hy nie meer kan onthou nie.

“Zuma kan allermins bekostig om nou getuienis te lewer wat later in ’n strafregtelike saak teen hom gebruik kan word.

“Daarom het hy en sy regspan ratte verwissel en die prosesse en ondervragings van die kommissie begin bevraagteken. Deur dít te doen, skep hy reeds ’n verweer (dat die ondervraging onbillik was) in enige toekomstige hofsake,” sê Marais.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.