Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Digital Vibes: Mkhize pak skuld op werknemer

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, hou voet by stuk dat hy nooit die omstrede Digital Vibes-maatskappy versoek het om vir instandhoudingswerk by sy private woning in Sandton te betaal nie.

In ’n onderhoud met die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het hy die blaam daarvoor eerder gepak op ’n “boodskapper” wat glo dié maatskappy genader het om vir die instandhoudingwerk van R6 720 te betaal.

Dié inligting is vervat in die SOE se hofstukke voor die spesiale tribunaal in die aansoek waarin hulle bykans R4 miljoen net van Mkhize en sy seun, Dedani Mkhize, wil verhaal.

Die SOE wil ook hê die Mkhizes moet strafregtelik aanspreeklik gehou word.

Kaizer Kganyago, SOE-woordvoerder, het Maandag bevestig dat die SOE-hofstukke die afgelope naweek op Mkhize, Dedani en meer as 20 ander mense en entiteite beteken is.

“Hulle moet nog aandui of hulle die aansoek gaan teenstaan.”

Kganyago het ook Dedani se vroeëre bewerings ontken dat hy nie die geleentheid gegun is om sy naam in ere te herstel of om stukke by die spesiale tribunaal in te dien nie. Hy beweer ook die SOE se bevindinge is op koerantberigte gegrond.

“Uit die meer as 20 respondente is dit net hy wat kla. Hy sal egter die kans kry om sy saak voor die spesiale tribunaal te stel.”

EWN het berig dat Mkhize se lot én die Digital Vibes-tenderskandaal Maandag na verwagting ook hoog op die agenda van ’n vergadering van die ANC se nasionale werkkomitee was.

Pule Mabe, ANC-woordvoerder, kon egter nie vir kommentaar bereik word nie.

Mkhize is met spesiale verlof.

Pres. Cyril Ramaphosa het verlede week gesê hy sal die land oor die SOE se finale Digital Vibes-ondersoekverslag toespreek sodra enkele kwessies afgehandel is.

Uit die meer as 20 respondente is dit net hy wat kla. Hy sal egter die kans kry om sy saak voor die spesiale tribunaal te stel.
Kaizer Kganyago

Mkhize en sy seun is twee van meer as 20 mense en entiteite in die aansoek voor die spesiale tribunaal waarmee die SOE die Digital Vibes-kontrak van R150 miljoen met die departement van gesondheid as onwettig wil laat verklaar en ook alle uitbetaalde geld van die betrokkenes wil verhaal.

Die SOE beskryf Digital Vibes in hofstukke as ’n “bedrogspul” wat beheer is deur Tahera Mather en Naadhira Mitha, “jare lange vennote en vermeende vriende van Mkhize”. Luidens die stukke het Mkhize as minister glo die Digital Vibes-kontrakte laat goedkeur.

Rajendra Chunilall, hoofondersoeker van die SOE, voer ook in die stukke aan dat Mkhize die SOE ingelig het dat hy nie die betrokke R6 720 van Digital Vibes gevra het vir instandhoudingswerk by sy private woning in Bryanston nie.

Mkhize se vrou het die dienste versoek.

’n Selfoonnommer wat egter met hom verbind word, is op die fakture vir die instandhoudingsdienste gekry.

“Die minister het aangedui dat ’n boodskapper, wie se van ook Mkhize is en wat vir hom gewerk het, agterna gebieg het dat hy die kontant vir die instandhoudingsdienste wat aan die minister se huiswerker verskaf is, gesteel het. Toe daar vir die dienste betaal moes word, het die boodskapper me. Mitha genader, wat volgens die boodskapper die R6 720 aan die diensverskaffer betaal het.”

Daar is egter bewyse dat Digital Vibes vir die instandhoudingsdienste betaal het.

Mkhize het met sy ondervraging nie aangedui of die boodskapper weens die beweerde diefstal afgedank of strafregtelik aangekla is nie.

“Daarom is die egtheid van die verduideliking na die SOE se mening twyfelagtig.”

Luidens die hofstukke het Mkhize ook aan die SOE gesê Dedani het hom ingelig dat geld van Mather, met wie Dedani ook ’n nabye verhouding gehad het, “geskenke” aan hom (Dedani) was. Die SOE eis sowat R3,8 miljoen terug van hom.

Meer oor:  Digital Vibes  |  Zweli Mkhize
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.