Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Dink saam om probleme te help oplos – Mogoeng

Suid-Afrikaners behoort strategiese dinkskrums te vorm om oplossings vir die land se probleme te help vind, sê hoofregter Mogoeng Mogoeng.

“Vorm dinkskrums waar jy jou ook al bevind. Worstel binne jou sirkel van vriende oor oplossings vir probleme waarvoor ons te staan kom.”

Hy het Vrydag in ’n toespraak by die Universiteit Stellenbosch gesê Suid-Afrika is baie geseënd met rykdom wat betref natuurlike en minerale hulpbronne.

“As ons net so skerp gefokus kon wees op wat die omstandighede van ons vereis, kon ons al baie ver gewees het.”

Chief Justice Mogoeng Mogoeng. (Photo: MARY-ANN PA
Hoofregter Mogoeng Mogoeng. Foto: MARY-ANN PALMER

Hy het aan die gehoor in die Endler-saal gevra of hulle al ooit gewonder het waarom ’n land soos Switserland “wat niks het nie” so suksesvol is.

“Die oorgrote meerderheid van die mense in daardie land is mense met integriteit. Uit keuse. Hulle het besef hulle het nie die natuurlike hulpbronne soos baie ander lande nie en het ’n nis vir hulself gevind. Hulle het besef dat wat hulle ook al doen uitstekend moet wees. Dit moet van die hoogste gehalte wees. Hul sukses is nie hul hulpbronne nie. Dit is wie hulle is.”

Suid-Afrika was nie baie jare gelede nie ver voor Suid-Korea ten opsigte van sy ekonomie. Dié land is egter nou “kilometers” verder gevorderd as Suid-Afrika vanweë hul skerp fokus op dit wat saakmaak, sê Mogoeng.

Hy het egter beklemtoon dat dit nooit te laat is vir Suid-Afrika nie.

Suid-Afrika vereis volgens hom nou meer as ooit mans en vroue met integriteit.

Hy het ook ’n boodskap gehad vir diegene wat dit oorweeg om Suid-Afrika te verlaat.

“Diegene wat dreig om die land te verlaat, onderskraag ander se idee dat jy nie ’n ware Suid-Afrikaner is nie. Jy sê vir hulle ek gaan eintlik huis toe, na my ware tuiste toe,” het hy onder luide applous gesê.

Die land behoort volgens hom gedryf te word deur familie en alle landsburgers is deel van die groter Suid-Afrikaanse familie.

Hy het die Broederbond as ’n voorbeeld genoem waarbinne ’n noue band gevorm is toe daar gedink is dat die Afrikaner niks vermag nie.

“Mogoeng is ’n Broederbonder? Nee. Ek fokus minder op die foute van mense, maar meer op die goed wat uit hul ondervinding geput kan word,” het hy verduidelik.

“Toe dinge moeilik gegaan het, het hulle besluit om saam te kom. Laat die familiebond werk, en hulle het gevra wat gaan ons doen. Dit behoort die houding van alle Suid-Afrikaners te wees. Wat gaan ons doen? Laat ons strategiese dinkskrums vorm. Wat gaan ons met ons ekonomie doen?

“As lande soos Swede, Switserland en selfs Singapoer kan seker maak daar word goed gekyk na elke landsburger, beteken dit dat Suid-Afrika met al sy hulpbronne kan seker maak dat elke landsburger goed na gekyk word. Daar is meer as genoeg vir almal.

“Laat dit jou bekommer dat daar mense sonder werk is. Laat dit jou bekommer dat wanneer jy rondry jy mense sien wat onder brûe slaap. Dit is onmenslik – ons kan beter doen. Ons hoor elke dag van misdaad en korrupsie. Jy kan ’n oplossing vind! Die moeilikheid is egter – ek hou van die uitdrukking – dat ons geneig is om ons verantwoordelikhede aan ander uit te kontrakteer,” sê Mogoeng.

Meer oor:  Mogoeng Mogoeng  |  Probleme  |  Land
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.