Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Diplomate hoor Cyril kan dán verkiesing proklameer
Lindiwe Sisulu (voor in die middel in oranje), minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Dinsdag in Pretoria saam met die buitelandse diplomatieke korps in Suid-Afrika. Links van haar sit Luwellyn Landers, een van haar adjunkte.Foto: GCIS

Die diplomatieke korps in Pretoria het Dinsdag gehoor pres. Cyril Ramaphosa sal die algemene verkiesing op 8 Mei moontlik op 26 Februarie in die Staatskoerant proklameer.

Sy Mamabolo, die hoofkiesbeampte van die Verkiesingskommissie (OVK), het dit op ’n ontbytbyeenkoms van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking gesê.

Sodra die verkiesing geproklameer is, tree die OVK se prosedures vir die verkiesing amptelik in werking en kan niemand hulle meer as kiesers registreer nie.

Die byeenkoms is bygewoon deur die ambassadeurs, hoë kommissarisse en ander senior diplomate van meer as 137 buitelandse missies en 24 internasionale organisasies wat in die stad verteenwoordig word.

Pretoria het naas Washington, die Amerikaanse hoofstad, die meeste ambassades en konsulate ter wêreld.

Die diplomate het onder meer gehoor Gauteng is die provinsie waar die minste kiesers (67%) geregistreer het.

“Omdat baie Gautengers naweke terugkeer na die provinsies van waar hulle oorspronklik kom, glo ons baie van dié mense het in hul tuisprovinsies geregistreer,” het Mamabolo gesê.

Hy sê sedert die konstitusionele hof die OVK in 2016 opdrag gegee het dat die adresse van kiesers saam met hul name op die kieserslys moet verskyn, het die OVK hard gewerk om dit reg te kry.

“Toe die konstitusionele hof dié opdrag gegee het, het ons die adresse van 8,4 miljoen kiesers gehad. Ons het nou die adresse van 21,6 miljoen kiesers.

President Cyril Ramaphosa

“Dit verteenwoordig 83% van die kiesers. Ons glo ons het groot vordering op dié gebied gemaak, al was ons mikpunt 90%,” het Mamabolo gesê.

Hy het aan die diplomate gesê die OVK het ’n onafhanklike ouditeursfirma versoek om ’n oudit te doen na die veiligheid van die OVK se uitslagstelsel. Dieselfde uitnodiging is aan politieke partye gerig om dit ook te doen.

“In hierdie stadium het ons 299 geregistreerde politieke partye in die land, terwyl tien ander se aansoeke nog oorweeg word.”

Dit is nie bekend hoeveel van dié 309 partye aan die verkiesing sal deelneem nie. Met die eerste demokratiese verkiesing in 1994 het 34 partye deelgeneem.

Partye wat aan die nasionale verkiesing wil deelneem, moet ’n deposito van R200 000 betaal en dié aan die provinsiale verkiesings R45 000. Hulle verbeur dié geld as hulle nie ’n enkele setel wen nie.

Die aansoeke van diplomate om die verkiesing as waarnemers by te woon, word tans verwerk.

Janet Love, ondervoorsitter van die OVK, het gesê ’n stempersentasie van hoër as 78% word verwag. “Ons hoop op 80%,” het sy gesê.

Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het aan die diplomate gesê Suid-Afrika is baie trots daarop dat sy verkiesingsproses baie deursigtig is.

* Sy het die diplomatieke korps verseker dat hul veiligheid vir die Suid-Afrikaanse regering van die allergrootste belang is. Dit is hoekom die polisie ’n spesiale diplomatieke eenheid gestig het wat na die veiligheid van die diplomate omsien.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.