Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Diplomaties oor Bathabile Dlamini

Die terugroep van Bruce Koloane as Suid-Afrikaanse ambassadeur in Nederland kan die eerste teken wees dat pres. Cyril Ramaphosa nie langer gaan toelaat dat ambassades plekke word waarheen oneervolle politici gepos word nie.

Bruce Koloane – hy moet terugkom uit Nederland.

“Dit was ’n openlike terugroep van ’n ambassadeur wat duidelik ’n verleentheid is vir die land. Dit gebeur baie selde,” het ’n ervare oudambassadeur Vrydag gesê.

Koloane het in Augustus voor die Zondo-kommissie erken dat hy onbehoorlike druk op amptenare geplaas het om in te stem dat die Guptas die strategiese Waterkloof-lugmagbasis kan gebruik as private landingsplek vir huweliksgaste vir ’n uitspattige onthaal by Sun City in 2013.

Dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het Woensdag in die parlement bekend gemaak dat sy Koloane van sy ambassadeurspos in Den Haag terugverplaas het na Pretoria. “Hy het die departement en die land in ’n verleentheid gestel. Daarom het ek besluit om hom te verplaas,” het sy gesê in antwoord op ’n vraag van Darren Bergman, DA-woordvoerder oor internasionale aangeleenthede.

Koloane moes op 13 September by die hoofkantoor van die departement in Pretoria aanmeld, maar was nie daarmee gediend nie en het bedank. Hy dien nou sy kennismaand in Den Haag uit.

Koloane sou verplaas word, bedank liewer self.

Bergman wou ook Woensdag by Pandor weet of Bathabile Dlamini, president van die ANC-vroueliga wat die konstitusionele hof probeer mislei het tydens die Sassa-skandaal in 2017, vir ’n diplomatieke pos oorweeg word.

“Ek stel nie ambassadeurs aan nie. Die president doen die aanstellings. Ek kan dus nie die vraag antwoord nie. Maar ek glimlag oor die vraag – jy kan daaruit ’n afleiding oor ’n moontlike antwoord maak,” het Pandor gesê.

Rapport se bron wys daarop dat Koloane nou sy ambassadeurstatus en die pensioenvoordele van ’n ambassadeur behou. Hy was ’n beroepsdiplomaat en hoof van staatsprotokol tot hy in 2015 deur oudpres. Jacob Zuma met die ambassadeurspos beloon is omdat hy skuld aanvaar het vir die Waterkloof-skandaal.

“Ja, binnekort verteenwoordig hy nie meer die land nie, maar hy word vir die res van sy lewe beloon met die volle voordele, ingesluit salaris, titel en status van ’n ambassadeur, terwyl hy dinge gedoen het waarvoor hy gestraf moet word. Dis ’n stelsel wat ons sal moet regmaak,” het ’n hooggeplaaste bron in die regering gesê.

Ambassadeursposte in verskeie lande is of raak binnekort vakant, waaronder Denemarke, waar Zindzi Mandela se termyn in Junie verval het maar met ses maande verleng is totdat ’n opvolger aangewys is.

Pandor het Mandela in Junie tereggewys oor uitlatings wat sy teen wit Suid-Afrikaners gemaak het in ’n emosionele debat op sosiale media oor grond. Toe Mandela se termyn van vyf jaar einde Junie verstryk, is dit nie hernu soos dikwels gedoen word nie, maar wel tydelik verleng.

Die bron sê dit is onwaarskynlik dat gerugte waar is dat oudministers wat onbevoeg is as diplomate, onder wie Dlamini en Siyabonga Cwele, wat minister van staatsekuriteit was tydens van die ergste vergrype, deur Ramaphosa as ambassadeurs aangestel gaan word.

“Dit beteken nie dat politici nie meer as ambassadeurs aangestel gaan word en dat net professionele diplomate voortaan die land in ambassadeursposte sal verteenwoordig nie. Daar is talle voorbeelde van voormalige politici wat veral in die Mandela-Mbeki-tydvak uitstekende ambassadeurs van die land geword het.

“Ambassadeursposte kan egter nie bloot gebruik word om politici te beloon vir lojaliteit aan die president, die ANC of wat ook al nie. Dit berokken die land oneindige skade as oneerbare mense aangestel word. Ek is taamlik seker dat daardie tydperk verby is.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.