Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Dirco se DG ondersoek Zindzi se twiets

Die ondersoek na die omstrede twiets van Zindzi Mandela, Suid-Afrika se ambassadeur in Kopenhagen, Denemarke, is nou in die hande van Kgabo Mahoai, direkteur-generaal van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco).

Mahoai sal ná sy ondersoek ’n verslag uitreik, sê Clayson Monyela, woordvoerder van Dirco.

’n Storm het die naweek om dié 59-jarige dogter van wyle oudpres. Nelson Mandela en sy eksvrou Winnie Madikizela-Mandela oor haar omstrede inskrywings op Twitter losgebars.

Mandela het onder meer getwiet dat wit Suid-Afrikaners “gronddiewe” en “apartheidsapologete” is wat net soos “ongenooide gaste . . . weier om te loop”.

Zindzi Mandela. Foto: Loanna Hoffmann

Mandela het geskryf wit mense maak ’n fout deur vas te klou aan “fantasieë van die goeie inboorling” en dat dit tyd is dat swart Suid-Afrikaners “hul grond” terugvat.

Monyela kon nie sê of Mahoai al met Mandela gepraat het nie. Hy sê Mahoai sal by Mandela uitvind wat haar kant van die storie is en of dit wel haar twiets was.

"Nie op kantoor nie"

Netwerk24 het die Suid-Afrikaanse ambassade in Kopenhagen Dinsdag twee keer gebel om Mandela se kommentaar te vra. Albei kere is daar gesê “sy is nie op die oomblik op kantoor nie”.

In diplomatieke kringe is aan Netwerk24 gesê omdat ’n Mandela betrokke is, sal Dirco die saak met groot omsigtigheid hanteer.

Mandela is sedert Junie 2015 ambassadeur in Kopenhagen. Sy is deur oudpres. Jacob Zuma aangestel.

Die tydperk wat ambassadeurs in ’n pos dien, is gewoonlik vier jaar, het ingeligtes gesê. Mandela is dus nou presies vier jaar in haar pos.

Denemarke was een van die grootste ondersteuners van die ANC met die bevrydingstryd.

Die Deense ambassade in Pretoria het alle navrae oor die saak na Dirco verwys.

EFF steun Zindi

Intussen het die EFF sy volle steun aan Mandela toegesê.

Die organisasie het in ’n verklaring gesê sy was reg in haar twiet oor die nodigheid dat swart mense hul grond terugkry van “wit gronddiewe en rassiste”.

Die EFF het AfriForum, wat gevra het dat Mandela afgedank word, daarvan beskuldig dat hy rassisties is.

“Ons verwerp dié oproep as rassisties en ’n poging om die legitieme roepstem van die Afrika-kind stil te maak dat die grond terugbesorg moet word aan sy regmatige eienaars – die swart mense.”

Die EFF het gesê Mandela moet beskerm word teen die rassistiese aanslae. “Sy het die reg tot vryheid van spraak.”

Die Nelson Mandela-stigting het Dinsdag ontken hy het gesê hy wou die saak eers met Mandela bespreek. Die organisasie het in ’n verklaring gesê hy het nie ’n ontmoeting met die oudpresident se dogter aangevra nie.

Die stigting sê hy wil nie kommentaar oor die twiets lewer nie.

Herroep

Die DA het in sy reaksie gesê hy glo Mandela se kommentaar is van só 'n aard dat sy as ambassadeur herroep moet word.

Darren Bergman, die DA se woordvoerder oor internasionale betrekkinge en samewerking, sê in 'n verklaring hy het 'n brief aan dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, gestuur waarin hy vra of Mandela se menings ook dié van die Suid-Afrikaanse regering is.

'n Ambassadeur mag nie enige enige menings uitspreek sonder die toestemming van die minister (Pandor) nie, sê Bergman.

Hy sê dit is kommerwekkend dat Mandela nie opgespoor kan word nie omdat sy "glo op reis is". Dit is 'n oortreding dat 'n ambassadeur die land waar hy/sy geakkrediteer is, sonder toestemming van Dirco verlaat.

Meer oor:  Dirco  |  Zindzi Mandela  |  Ambassadeur  |  Politek  |  Twiets  |  Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.