Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Direkteur waai oor Wesgro sy hoof ‘beloon’

Die Wes-Kaapse LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede, David Maynier, bekyk die besluit deur die Wes-Kaapse agentskap vir toerisme, handel en beleggings (Wesgro) om sy uitvoerende hoof se jaarlikse salaris ’n maand voor die inperking met sowat R700 000 te verhoog.

Tim Harris, uitvoerende hoof van Wesgro.

Die regsgeleerde en kommentator Judith February het uit protes teen die verhoging by Wesgro bedank. Nog direksie-lede is glo ook ongelukkig.

Met dié salaris van R2,6 miljoen verdien Tim Harris nou meer as die minister van finansies, het February in ’n beswaarskrif geskryf.

Prof. Brian Figaji, voorsitter van die Wesgro-direksie, sê egter die verhoging is regmatig toegeken om Harris vir ’n tweede termyn van vyf jaar aan te stel. Harris was voorheen die DA se woordvoerder vir finansies.

Figaji sê die direksie het Harris se vergoeding vergelyk met dié van ander mense in soorgelyke posisies en met soortgelyke prestasies in provinsiale agentskappe en NRO’s. Uitvoerende hoofde van soortgelyke provinsiale agentskappe verdien tussen R2,8 miljoen en R3,5 miljoen per jaar, sê hy.

Luidens die jaarverslae van ander provinsies se agentskappe vir die bevordering van beleggings het Harris voor die verhoging inderdaad minder verdien as ander uitvoerende hoofde. Hy verdien nou die vierde meeste.

Die Wes-Kaapse regering het verlede jaar R180 miljoen tot Wesgro bygedra. Luidens Wesgro se jongste jaarverslag het die organisasie in 2018-’19 sowat R10 miljard vir die Wes-Kaap deur beleggings en ooreenkomste genereer.

“Ons wonder egter hoeveel van die beleggings deur ander plaaslike munisipaliteite, behalwe die Stad Kaapstad, gesien word,” het ’n openbare verteenwoordiger van die DA in die Wes-Kaap dié week op voorwaarde van anonimiteit gesê.

“Ek ondersteun nie die verhoging nie en ek is besig om die kwessie op te neem met die direksie, wat verantwoordelik is vir die vasstel en goedkeur van vergoeding by Wesgro,” het Maynier by navraag gesê.

Hy wou nie uitwei oor gerugte dat hy reeds ’n regsmening oor die prosedure vir die verhoging gekry het nie.

Figaji sê Maynier is van die proses om die verhoging ingelig, soos deur die wet vereis.

February, wat in Januarie in die direksie aangestel is, het die volgende maand op die eerste vergadering wat sy as lid bygewoon het, ten gunste van die verhoging gestem.

“Ek was onder die indruk dat ons nog beswaar sou kon aanteken in die toekoms; nie dat die verhoging dadelik in werking sou tree nie,” sê sy.

’n Week later het sy aan Figaji geskryf sy is “ongemaklik” met die verhoging.

Sy het drie redes gegee:

* Sy twyfel of Harris ’n posisie as ’n uitvoerende hoof in die private sektor sou kry;

* Sy weet nie wat die werklike gevolge sou wees as Harris nie sy teikens behaal nie; en

* Wesgro kry die meeste van sy geld van die Wes-Kaapse regering en van plaaslike munisipaliteite.

“In die huidige ekonomiese klimaat, is dit reg dat die uitvoerende hoof van ’n provinsiale agentskap vir die bevordering van handel en die ekonomie meer verdien as die minister van finansies (R2,4 miljoen) en ’n rapsie minder as die president (R3,1 miljoen)?” het February geskryf.

Sy het by navraag gesê sy is nie oortuig die korrekte prosedure is gevolg nie. “Die voorsitter (Figaji) het laat blyk dat daar navorsing gedoen is waarvan die uitslag was dat Tim (Harris) te min betaal word.

“Maar geen dokumente hieroor is aanvanklik aan die direksie gegee nie.”

In Figaji se antwoord op haar brief sê hy Lance Greyling, direkteur van onderneming en belegging by die Stad Kaapstad en ook ’n Wesgro-direksielid, het ook sy kommer uitgespreek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.