Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Direkteurs-generaal onreëlmatig oorgeplaas, hoor Zondo

Dit lyk nie of die oorplasing van twee voormalige direkteurs-generaal na ander departemente destyds deur die kabinet bespreek is voordat ’n aankondiging daaroor gedoen is nie.

Dít is onreëlmatig.

Minister of Public Service and Administration, Mr
Richard Baloyi

Richard Baloyi, oudminister van openbare dienste en administrasie, asook Mildred Oliphant, oudminister van arbeid, het Dinsdag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig.

Die oudministers se getuienis het hoofsaaklik gehandel oor die oorplasing van Themba Maseko, voormalige direkteur-generaal van die regering se kommunikasie- en inligtingstelsel (GCIS), na die departement van openbare dienste en administrasie in Februarie 2011.

Maseko se getuienis is van die sterkste nog voor die kommissie.

In sy getuienis het Maseko beweer hy is oorgeplaas omdat hy nie ’n opdrag van die Guptas wou uitvoer nie. Die opdrag was glo dat die GCIS se hele advertensiebegroting na die Gupta-beheerde koerant, The New Age, gekanaliseer moet word.

Maseko beweer oudpres. Jacob Zuma het toe gesorg dat hy wat Maseko is, in Februarie 2011 oorgeplaas word na ’n ander departement. Mzwanele “Jimmy” Manyi is in sy plek aangestel.

Baloyi het getuig die oorplasing van ’n direkteur-generaal is net reëlmatig as die kabinet ’n besluit daaroor neem, as ’n kabinetsmemorandum daaroor bespreek word, as die direkteur-generaal instem en as die president ’n memorandum onderteken.

Adv. Kate Hofmeyr, ’n ondervraer vir die kommissie, sê die presidensie het intussen die notule van ’n kabinetsvergadering op 2 Februarie 2011 nagegaan waarop die kwessie bespreek moet gewees het.

“Die presidensie kon nie ’n memorandum kry dat die oorplasing van Maseko en Manyi op die kabinetsvergadering bespreek is nie. Tog is hul oorplasing op dieselfde dag aangekondig,” sê Hofmeyr.

Baloyi sê hy sal baie geskok wees as die kwessie nie deur die kabinet bespreek is nie, veral omdat sy eie handtekening verskyn op die presidensiële memorandum wat Maseko se oorplasing goedkeur.

Themba Maseko Foto: Argief

“Ek sou baie teleurgesteld wees in myself, want dit is my handtekening wat langs dié van die president (Zuma) verskyn,” sê hy.

Baloyi sê hy wil nie sommer verder praat sonder dat die kommissie ondersoek doen nie, want volgens hom is daar ander dokumente wat ontbreek.

Baloyi se getuienis het op party plekke van Maseko s’n verskil.

Maseko het getuig hy het nie voor die kabinet se aankondiging met Baloyi vergader nie, maar Baloyi sê hy het wel.

“Ek sê nie Maseko jok nie, maar my weergawe verskil. Die kommissie moet nou bepaal wie se weergawe van gebeure nader aan die waarheid is,” sê hy.

Oliphant het in haar getuienis dié van Manyi betwis.

Manyi het getuig dat hy Oliphant op die lughawe ontmoet het op dieselfde dag dat sy in November 2010 as minister van arbeid ingehuldig is.

Oliphant het dit ontken, en sê sy het Manyi eers weke later vir die eerste keer ontmoet.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.