Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Dis als ’n komplot teen my,’ sê Zuma voor Zondo

Pres. Jacob Zuma stel homself voor as ’n politieke slagoffer van ’n grootskaalse samesweringskomplot deur plaaslike en buitelandse intelligensie-agentskappe wat volgens hom sedert 1990 alles moontlik gedoen het om van hom as ANC-leier ontslae te raak, meen politieke ontleders.

Oudpres. Jacob ZumaFoto: FELIX DLANGAMANDLA

Dit volg nadat Zuma Maandag vir die eerste keer voor die Zondo-kommissie van ondersoek in Johannesburg verskyn het en oor die beweerde sameswerings en selfs sluipmoordkomplotte teen hom getuig het.

Ralph Mathekga, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland, het gesê Zuma was in sy getuienis baie konsekwent deur te herhaal dat staatskaping nie bestaan nie en dat alles, selfs die kommissie, deel van ’n komplot teen hom is.

“Die probleem is egter dat sy argument baie algemeen van aard is omdat hy nie in detail daaroor ingaan nie. Dit is altyd moeilik om die waarheid met samesweringsteorieë te bepaal.

“Daar mag wel ook baie ander ANC-leiers wees wat hulle ook aandadig aan korrupsie gemaak het, maar die werklikheid is dat Zuma as staatshoof ’n kardinale rol gespeel het.

“Hy sal daarom moet verduidelik waarom hy as president byvoorbeeld die Guptas gehelp het om hul koerant en televisiestasie te stig en selfs name daarvoor uitgedink het. Het hy dit met ander sakemense ook gedoen?”

Prof. Dirk Kotze, politieke ontleder aan Unisa, sê Zuma het ’n baie slim taktiek ingespan deur die invalshoek te gebruik dat intelligensie-agentskappe sedert 1990 al probeer om van hom ontslae te raak.

Hy stel homself dus voor as ’n politieke slagoffer en probeer so openbare simpatie vir homself werf.
Prof. Dirk Kotze, politieke ontleder aan Unisa

“Hy gaan egter nie in detail hierop in nie en dit is baie maklik om die vyand as buitelandse intelligensiedienste te identifiseer, omdat hy daarmee in ’n mate ook talle ANC-lede se anti-Westerse sentiment uitbuit. Hy noem veral die Amerikaanse intelligensiedienste, maar ek vermoed die ander een is die Britte.

“Hy sê ook dat daar ’n politieke komplot teen hom is, en dat dit vandag steeds in die ANC voortduur. Hy stel homself dus voor as ’n politieke slagoffer en probeer so openbare simpatie vir homself werf.”

Kotze sê Zuma glo daar is geen direkte bewyse teen hom nie en probeer in ’n mate ook die Zondo-kommissie se integriteit en geloofwaardigheid aan te val deur te sê dat dié kommissie ook deel van die komplot teen hom is.

“Hy is egter nou in ’n moeilike posisie omdat die kommissie hom kan ondervra en hy met al die oë op hom nie kan huiwer om vrae te beantwoord nie,” sê Kotze.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.