Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Dis die einde van dié pad vir Zuma’

Die gevolg van die besluit van die konstitusionele hof in Johannesburg om oudpres. Jacob Zuma se aansoek om tot dié hof te appelleer met koste van die hand te wys, is terselfdertyd die “tragiese én welverdiende einde” van die voormalige staatshoof se pad in dié sage.

Zuma se enigste en laaste uitweg is nou, soos dié van Ace Magashule, tydelik geskorste sekretaris-generaal van die ANC, die desperate uitbuiting van populistiese steun.

Dít is die mening van emeritusprofessor Pieter Labuschagne, regs- en politieke kenner van Unisa.

Oudpres. Jacob Zuma ná sy verskyning Woensdag in die hooggeregshof in Pietermaritzburg. Foto: Deaan Vivier

Zuma het by die konstitusionele hof aansoek gedoen om te appelleer teen ’n hofbevel van die hooggeregshof in Pretoria in 2017 wat hom dwing om ’n beraamde R10 miljoen in regskoste terug te betaal.

Die regters van die konstitusionele hof het Donderdag ná enkele minute besluit om Zuma se aansoek met koste van die hofrol te skrap omdat die oudpresident geen betooghoofde oor sy aansoek by die hof ingedien het nie.

Die hooggeregshof het die bevel dat Zuma vir die regskoste moet opdok uitgereik ná Zuma se onsuksesvolle poging vroeër om prof. Thuli Madonsela, toe die openbare beskermer (OB), se verslag oor staatskaping te hersien en tersyde te laat stel.

Zuma het hom eers na die appèlhof in Bloemfontein gewend, maar dié het in April sy appèl ook met koste van die hand gewys.

Daarna het hy besluit om by die konstitusionele hof om hulp aan te klop.

Zuma het in sy aansoek by dié hof aangevoer hy kan nie aanspreeklik gehou word nie omdat dit sy grondwetlike plig was om Madonsela se verslag te bevraagteken.

Op geen wyse kan ’n openbare amptenaar R10 miljoen aan regskoste betaal nie.
Pieter Labuschagne

In die hooggeregshof se uitspraak word verskeie onsuksesvolle hofgedinge van Zuma, waarvoor die staat tussen 2005 en 2009 gesamentlik R25 miljoen aan sy regskoste betaal het, genoem.

Daar was volgens die volbank regters nie “behoorlike regsgronde” hiervoor nie.

Verskeie prokureurs het die laaste ruk besluit om nie meer vir Zuma op te tree nie omdat hulle nie betaal is nie.

Carl Niehaus, woordvoerder van die Umkhonto we Sizwe-militêre-veterane-vereniging, wat gereeld as Zuma se woordvoerder optree, het Donderdag gesê hy het nog nie iets van Zuma gehoor oor die konstitusionele hof se uitspraak nie.

Dit is nie bekend presies hoeveel geld Zuma aan regskoste verskuldig is nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het vroeër reeds opdrag gegee dat die staat nie meer vir die oudpresident se regskoste sal pa staan nie.

Labuschagne sê dit is verstommend dat iemand soos Zuma, wat herhaaldelik aanvalle op die regbank geloods en die integriteit van regters bevraagteken het, so “kundig” die regsproses deur “appèl op appèl” kon uitbuit.

“Op geen wyse kan ’n openbare amptenaar R10 miljoen aan regskoste betaal nie.”

Die konstitusionele hof moet nog uitspraak lewer in die saak waarin die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping dié hof gevra het om Zuma aan minagting van die hof skuldig te bevind. Dit is omdat die oudpresident ’n opdrag van dié hof verontagsaam het om voor die kommissie te verskyn.

Die kommissie het gevra die hof moet Zuma twee jaar tronkstraf oplê.

Zuma staan tans saam met die Franse wapenvervaardiger Thales in die hooggeregshof in Pietermaritzburg tereg op 16 aanklagte van korrupsie, bedrog, geldwassery en rampokkery. Dit hou verband met die destydse wapenskandaal.

Sowel Zuma as Thales het Woensdag skuld ontken in dié saak.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Konstitusionele Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.