Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Dis dié les wat DA uit De Lille-sage moet leer’
Patricia de Lille wat deur die DA uit die party geskop is. Foto: Jaco Marais

Mense wat tussen politieke partye rondspring kan nie vertrou word nie. Dit is dié les wat die DA uit die Patricia de Lille-sage moet leer.

Prof. Pieter Labuschagne, ’n politieke ontleder van Unisa, sê die DA het geen ander keuse gehad as om van De Lille ontslae te raak nie.

De Lille het volgens Labuschagne ’n “ongeleide missiel” geword en hy meen sy sal haar waarskynlik nou by die ANC aansluit.

Labuschagne sê in sy reaksie op die DA se besluit om De Lille die trekpas te gee, hy glo hoewel die DA in die Wes-Kaap stemme sal inboet weens die party se hantering van dié sage, sal dit nie te veel wees nie.

“Die party het nog genoeg kans om te herstel voor die volgende verkiesing in 2019. ’n Sterk party is altyd groter as ’n individu,” sê Labuschagne.

Hy meen Mmusi Maimane, DA-leier, sal in die toekoms versigtig moet wees om ook nie wit steun te verloor nie.

“Myns insiens is die DA by ’n kruispad. Maimane besef as sy party substantiewe vordering wil maak, sal hy sterker swart steun moet kry.

“Dit verklaar sy uitlating van wit bevoorregting. Maar hy sal balans moet handhaaf en nie onnodig swak beoordeelde koppelings maak nie. Hy kan wit steun verloor.

“Die DA se steun onder wit mense begin wankelrig en problematies raak. Maimane moet versigtig wees. As hy ’n wig indryf, kan die party selfs skeur,” meen Labuschagne.

Die kommunikasie-strateeg Coenraad Bezuidenhout sê hoewel dit nog lank voor die volgende algemene verkiesing is, kan die DA se leierskap in die Wes-Kaap in die aanloop tot die verkiesing getoets word.

“Met die vorige verkiesing het die DA in die Wes-Kaap 59% van die stemme gekry. Dit is nie onmoontlik nie dat dit kan daal tot 52% of selfs minder as die bruin steun wegval.

Die groot probleem wat die DA het, is dat die besluitneming en konsultering by ’n te klein groepie mense berus.

“Daar word al lank lankal gesê die party se steun op die Kaapse vlakte is in die gedrang. Ek het nie bewyse daarvoor nie, maar ek dink tog dit is die geval,” sê Bezuidenhout.

Daarteenoor het die ANC in pres. Cyril Ramaphosa, die ANC-leier, iemand wat baie gewild in die Wes-Kaap is. ’n Organisasie soos AfriForum kan ook ’n faktor weens omdat hy wit steun kan radikaliseer.

Die feit dat die DA tot nou nie duidelik was oor wat sy ongelukkigheid met De Lille was nie, hou ook ’n groot risiko in.

“Die DA het nie ’n baie goeie rekord wanneer dit kom by die leierskap wat hy van buite ingebring het nie – mense soos Peter Marais en Gerald Morkel.

“Die groot probleem wat die DA het, is dat die besluitneming en konsultering by ’n te klein groepie mense berus.

“Die DA se hantering van die waterkrisis in Kaapstad vroeër vanjaar is tekenend hiervan,” sê Bezuidenhout.

Hy meen ook die publiek het vrae oor Maimane se leierskap.

Sy vermoë om die DA in ’n volgende rat te plaas, word betwyfel.

“Die grootste toets vir sy leierskap is of hy die nodige interne hervorming van die DA se besluitnemingsprosesse sal kan deurvoer.”

Meer oor:  Da  |  Verkiesing  |  Patricia De ­Lille  |  Cyril Ramaphosa  |  Mmusi Maimane  |  Leierskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.