Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Dis duur uitsendings wat SAUK se rug kan breek’

Die SAUK het in vyf jaar R2,3 miljard betaal om uitsaairegte vir sportgebeure te bekom. Dit is een van die redes waarom die openbare uitsaaier se geldsake so beroerd lyk.

Bongumusa Makhathini, voorsitter van die SAUK-raad, getuig Maandag voor die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep

Vir die SAUK om sy mandaat uit te voer as openbare uitsaaier, sal TV-lisensiegeld verhoog moet word én die regering sal hom daartoe moet verbind om geld aan dié openbare entiteit te bewillig.

Dit was Maandag die getuienis van Bongumusa Makhathini, voorsitter van die SAUK-raad, voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.

Makhathini het gesê een van die besluite deur die SAUK-raad is dat kontrakte vir die uitsaairegte vir sportgebeure net aangegaan kan word as die SAUK finansieel voordeel daaruit kan trek.

Hy het gesê as ’n mens R20 miljoen vir iets betaal en jy maak net R5 miljoen daaruit, is dit nie haalbaar nie. Om van die SAUK te verwag om sulke verliese alleen te dra, is nie reg nie.

Makhathini het gesê die verlies van R483 miljoen wat die SAUK reeds in die huidige boekjaar het, sluit in R410 miljoen vir die verkryging van uitsaairegte vir sport. “Die sport-uitsaairegte is te duur,” volgens Makhathini.

Adv. Thandi Norman SC, getuienisleier van die kommissie, het Makhathini uitgevra oor die veelbesproke MTN-ooreenkoms vir PSL-sokker-uitsaairegte en klagtes in die media waarin gesê word dat die SAUK arm mense in die steek laat. Daarin word genoem die openbare uitsaaier is gierig.

Norman het gesê daar word ook gekla dat rugby-ondersteuners moet wag tot nadat rugbywedstryde klaar op betaalkanale uitgesaai is. Hoe verduidelik Makhathini dat die belangrike wedstryde nie regstreeks vir mense uitgesaai word nie?

Makhathini het geantwoord rolspelers soos e-media probeer nie eens om te bie vir die uitsaairegte van sekere sportsoorte nie omdat dit so duur is, maar die SAUK moet dit teen groot bedrae aankoop.

Die SAUK moet uitsaairegte teen miljoene rande bekom. Dan gaan dieselfde mense wat kla oor sportuitsendings, weer kla dat die SAUK se uitgawes te hoog is, volgens Makhathini.

“Dit is onmoontlik vir die SAUK om finansieel volhoubaar te wees. Vir die SAUK om sy mandaat uit te voer, moet mense onthou dit kom teen ’n prys, die SAUK kan dit nie alleen doen nie,” het Makhathini getuig.

Makhathini het gesê ’n TV-lisensie kos R265 per jaar, oftewel 72c per dag – en dit vir ’n diens met onder meer 19 radiostasies wat in 14 tale uitsaai. Dit is deel van die voorgestelde omkeerplan dat verhoogde lisensiegeld oorweeg moet word, het hy gesê.

Norman het spesifiek aan Makhathini gevra wat het vanjaar skeefgeloop by die SAUK. Hy het geantwoord die nagevolge van die verkeerde besluite wat in die verlede geneem is, word vandag gevoel.

Die SAUK se geldsake het wel oor die laaste jare verbeter. In die 2016-’17-boekjaar was die SAUK se verlies R1 miljard; in die 2017-’18-boekjaar was die verlies R602 miljoen; en in die 2018-’19-boekjaar was dié verlies R483 miljoen.

Dit gaan beter met die SAUK, maar die regering moet daarin belê om die openbare uitsaaier in die toekoms te verbeter, sê Makhathini.

Hy het gesê die SAUK het nie geld om te belê in goeie inhoud nie en kan nie sy maandelikse verskaffers betaal nie.

Ons leef steeds so. Ons vrees steeds vir ons lewe omdat ons wil doen wat reg is.
Bongumusa Makhathini, voorsitter van die SAUK-raad

Op ’n vraag van adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, of die SAUK gekaap is soos wat daar al in getuienis voor die kommissie oor ander staatsentiteite aangevoer is, het Makhathini geantwoord soos hy verstaan, het die kaping van die entiteite gebeur en diegene wat om eerlike redes daar is, word persoonlik aangeval. Selfs hul lewe is in gevaar bloot omdat hulle die werk moet doen wat reg is.

“Ons leef steeds so. Ons vrees steeds vir ons lewe omdat ons wil doen wat reg is,” sê Makhathini.

Hy sê die jongste SAUK-raad is nou 24 maande daar en dinge gaan erger. Die SAUK kan nie die mense betaal wat vir hom inhoud verskaf nie. Hy skuld meer as R2 miljard aan inhoudsverskaffers.

As die SAUK-raad nie kan doen wat gedoen moet word nie, moet daar alternatiewe planne gebied word (deur die regering). Die SAUK-raad kan nie alleen die skuld dra hiervoor nie.

* Maandag het Mxolisi Nxasana, voormalige direkteur van openbare vervolging, sy getuienis voor die kommissie vir eers afgesluit. Hy het getuig dat dit oudpres. Jacob Zuma was wat sy dienskontrak van tien jaar voortydig wou beëindig.

As hy self wou bedank, sou hy dit eers op skrif gestel het en hy sou nie aangedring het dat hy die hele bedrag kry vir die balans van sy kontrak nie.

Hy beskou dit dat Zuma die kontrak met hom verbreek het. Daarom moes hy uitbetaal word.

Oor die beskrywing in die media dat hy ’n goue handdruk gekry het, het Nxasana gesê: “Ek het niemand met ’n vuurwapen aangehou en gesê dit is wat ek wil hê nie.

“Ek is afgedank hoewel ek niks verkeerd gedoen het nie. Dit was binne my reg om vir my belange en regte as mens te baklei,” sê Nxasana.

Meer oor:  Zondo-Kommisie  |  Sauk  |  Bongumusa Makhathini
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.