Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Dís hoe LP’s Woensdag beëdig word

Hoofregter Mogoeng Mogoeng sal die eerste sitting van die Nasionale Vergadering (NV) vir die sesde demokraties verkose parlement saamroep.

Die eerste sitting sal ’n formele sitting wees waar die NV homself formeel sal saamstel.

Mogoeng sal die LP’s beëdig ingevolge die kandidatelyste van politieke partye wat genoeg stemme in die 8 Mei-verkiesing gekry het om vir setels in die NV te kwalifiseer.

Die hoofregter sal ook voorsittende beampte wees tydens die verkiesing van die speaker van die NV, sowel as dié van die president.

Die eerste sitting van die NV sal deur diplomate en gaste van die presidensie bygewoon word, asook leiers van politieke partye wat in die parlement verteenwoordig word en gaste van mense wat as LP’s beëdig sal word.

Só sal die verrigtinge Woensdag verloop:

* Gaste en LP’s wat beëdig word, sal vanaf 08:30 by die parlement begin aankom. Hulle moet teen 10:15 reeds in die NV sit.

* Teen 10:30 sal Mogoeng die sitting amptelik begin.

* LP’s sal dan in groepe van tien deur Mogoeng beëdig word. LP’s lê ’n gelofte af of bevestig dat hulle getrou aan die Republiek sal wees en die Grondwet sal gehoorsaam.

* Ná die inhuldiging sal Mogoeng benoemings vir kandidate vir die posisie van speaker van die NV versoek. As meer as een benoeming ontvang word vir die posisie van speaker, sal ’n geheime stemming daaroor gehou word. Die stembriewe sal daarna in die teenwoordigheid van die hoofregter getel word. Die uitslae word dan in die NV bekend gemaak.

Thandi Modise is die ANC se benoeming vir die posisie. Die party sal sy meerderheid in die NV gebruik om haar in te stem.

* Sodra die speaker verkies is, sal benoemings vir die posisie van adjunkspeaker van die NV uitgenooi word. Die nuwe speaker sal die voorsittende beampte hiervan wees. As meer as een benoeming vir die posisie ontvang word, sal daar weer ’n geheime stemming wees. Die stembriewe word dan weer in die teenwoordigheid van die hoofregter getel en die uitslae daarna bekend gemaak.

Lechesa Tsenoli is deur die ANC hiervoor benoem en sal ook heel waarskynlik deur ’n meerderheidstem ingestem word.

* Die NV sal dan omstreeks 13:00 verdaag en weer 14:00 bymekaar kom.

* Omstreeks 14:00 sal Mogoeng vir die benoeming vir kandidate vir die posisie van president van die Republiek van Suid-Afrika aanvra. As meer as een benoeming ontvang word, sal ’n geheime stemming weer eens plaasvind en die uitslae in die NV bekend gemaak word.

Pres. Cyril Ramaphosa is die ANC se keuse vir die posisie van staatshoof en sal deur ’n meerderheidstem tot die posisie verkies word. Die DA het egter aangedui dat hy ook sy eie kandidaat vir die pos sal benoem.

* Die president is ingevolge wetgewing nie meer ’n LP sodra hy of sy verkies is nie.

Bykomende inligting: Parlement

Meer oor:  Politiek  |  Beëdig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.