Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Dís hoekom CR17-dokumente verseël is

Die hof se beslissing dat sekere dokumente rakende die bevinding van Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), teen pres. Cyril Ramaphosa geheim gehou moet word, hou nie verband met die manier waarop die dokumente bekom is nie.

Netwerk24 verneem betroubaar dat adjunkregterpresident Aubrey Ledwaba se besluit Donderdag op ander oorwegings berus.

Die OB se regspan het die dokumente Woensdag ter stawing van haar verslag by die hooggeregshof in Pretoria ingedien.

Ledwaba het besluit om die dokumente op versoek van Ramaphosa se prokureurs te verseël, wat beteken dat die publiek nie insae daarin mag hê nie.

Oupa Segalwe, woordvoerder van die OB, sê een van die redes vir Ledwaba se besluit is dat die inhoud derde partye kan benadeel indien dit openbaar gemaak word.

Die dokumente bevat onder meer bankstate van Ramaphosa se CR17-veldtogrekening om ANC-president te word, die Cyril Ramaphosa-stigting, Linked Environmental Services en die Ria Tenda Trust.

Hoewel Ramaphosa vroeër deur sy regspan aangevoer het dat Mkhwebane moontlik die dokumente onwettig bekom het, hou sy vol dat sy dit op ’n wettige manier gekry het.

Netwerk24 verneem dié kwessie het nie die besluit om die dokumente geheim te hou geraak nie.

Die dokumente wat nou verseël is, is egter nie al dokumente wat sy by die hof ingedien het nie.

Die hof hou die res van die dokumente vertroulik totdat die adjunkregterpresident op 26 Augustus besluit of dié dokumente ook verseël moet word, sê Ramaphosa se prokureur, Peter Harris.

Khusela Diko, Ramaphosa se woordvoerder, het vroeër aan Netwerk24 gesê daar is niks in die verseëlde dokumente wat Ramaphosa wil wegsteek nie.

Die verseëlde dokumente is die kernbronne wat die OB vir haar verslag gebruik het. Sy het in haar ondersoek veral die geldsake van Ramaphosa se sogenaamde CR17-veldtog om president van die ANC te word, ondersoek.

In haar regstellende optrede het Mkhwebane aanbeveel dat Ramaphosa voor die parlement verskyn en dat sy CR17-veldtog weens beweringe van geldwassery ondersoek word.

Sy het bevind dat Ramaphosa die uitvoerende gesag se etiese kode oortree het en dat hy die parlement oor ’n R500 000-skenking van Bosasa aan sy CR17-veldtog mislei het.

Mkhwebane se ondersoek kom nadat Ramaphosa in November 2018 op ’n parlementêre vraag van die DA-leier, Mmusi Maimane, gesê het dat Bosasa R500 000 inbetaal het in ’n trustrekening van sy seun Andile vir dienste wat hy gelewer het.

Tien dae later het Ramaphosa in ’n brief aan Baleka Mbete, toe speaker van die parlement, geskyf dat die R500 000 waarna Maimane verwys het, by sy CR17-veldtogrekening inbetaal is.

Hy hou vol dat hy nie van die betaling geweet het nie.

Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, het in Maart voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig dat Gavin Watson, grootbaas van Bosasa, die betaling aan Ramaphosa se veldtog gemaak het.

Mkhwebane het bevind dat R191 miljoen tussen Desember 2016 en Januarie 2018 by die CR17-rekening inbetaal is. Min of meer dieselfde bedrag is weer uit die rekening na ’n ander rekening oorgeplaas.

Mkhwebane het gesê die meer as R121 miljoen wat deur een skenker aan die veldtog geskenk is, kan dalk “die risiko van ’n soort staatskaping skep”.

Wat word nou van dié dokumente?

Dr. Willem Gravett, ’n senior lektor in prosesreg aan die Universiteit van Pretoria (UP), sê dokumente wat verseël word, sal nie noodwendig verseël bly nie.

Volgens Gravett is die rede dat die openbaarmaking van die dokumente derde partye kan benadeel, op sigself goed genoeg dat die inhoud van die dokumente geheim gehou word.

“Normaalweg sal ’n verkorte weergawe van die dokumente later bekend gemaak word. In dié weergawe sal inligting oor derde partye gesensor wees sodat hulle nie geïdentifiseer kan word nie,” sê Gravett.

Hy sê dit is moeilik om te skat hoe lank die proses kan neem.

Hoewel dit onwaarskynlik is, kan die adjunk-regterpresident egter ook besluit dat die dokumente onbepaald verseël bly.

“Maar dan moet die inligting in groot belang van die staat wees of dit moet nasionale veiligheid bedreig,” sê Gravett.

Volgens hom is dit baie selde dat dokumente wat as deel van litigasie ingedien is, verseël word.

“Die hof wil in die algemeen prosesse deursigtig hou omdat dit van groot belang vir die hof se geloofwaardigheid is,” sê hy.

Meer oor:  Busisiwe Mkhwebane  |  Cyril Ramaphosa  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.