Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Dís hoekom Mabuza-verslag nou skielik opduik – ontleder
Adj.pres. David MabuzaFoto: Leon Sadiki

Die rede waarom ’n verslag van die integriteitskommissie van die ANC oor adj.pres. David Mabuza nou skielik voor die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die party opgeduik het, is moontlik ’n stap om planne van Mabuza om ’n derde faksie in die ANC te skep, teen te werk.

Só sê die politieke ontleder Theo Venter van die Noordwes-Universiteit.

Dit kom nadat daar in ’n verslag van die integriteitskommissie wat die naweek voor die NUK gedien het, gesê word dis nie waar dat die kommissie Mabuza verlede jaar voor sy inhuldiging as adjunkpresident vrygespreek het van beweerde wandade toe hy nog premier van Mpumalanga was nie.

Daar is ná verlede jaar se algemene verkiesing berig Mabuza het geweier om as adjunkpresident ingehuldig te word alvorens hy deur die integriteitskommissie vrygespreek word. Dit is glo inderhaas gedoen en hy is ná die ander lede van die kabinet ingehuldig.

Die kommissie sê hy het verlede jaar ’n verklaring aan die NUK gestuur waarin hy sê hy het geen besluit oor Mabuza geneem nie omdat hy (die kommissie) nie deur enigiemand gemanipuleer of geïntimideer sal word nie.

Die verklaring is egter nooit aan die NUK voorgelê nie.

Sondagkoerante het die naweek berig die integriteitskommissie het in sy verslag ontken hy het met Mabuza gepraat of hom vrygespreek.

Mabuza het ’n in 2017 ’n kernrol gespeel in pres. Cyril Ramaphosa se verkiesing tot ANC-president toe hy kort voor die presidentsverkiesing op die ANC se nasionale konferensie by Nasrec, Johannesburg, sy rug op die faksie van dr. Nkosazana Dlamini-Zuma gedraai het.

Hy is toe tot adjunkpresident van die ANC verkies en Ramaphosa tot president.

“Die Dlamini-Zuma-faksie (wat deel was van die eertydse sogenaamde premierliga wat oudpres. Jacob Zuma gesteun het) het Mabuza nou nog nie vergewe nie.

Die Dlamini-Zuma-faksie (wat deel was van die eertydse sogenaamde premierliga wat oudpres. Jacob Zuma gesteun het) het Mabuza nou nog nie vergewe nie.

“Ek het in gesprekke met mense in die ANC gehoor Mabuza het die boodskap gekry dat as Ramaphosa skielik nie meer president kan wees nie, sal dit nie hy (Mabuza) wees wat sal oorneem nie.

“Dit is glo aan hom duidelik gemaak hy sal hoogstens waarneem totdat die parlement ’n opvolger sal aanwys, wat nie hy sal wees nie,” sê Venter.

Dis die rede waarom Mabuza nou begin planne beraam het om ’n derde faksie te skep wat hom sal steun. En dis die rede waarom die verslag nou skielik voor die NUK gedien het, meen Venter.

“Ja, dit is vreemd dat die verslag van kommissie nou ná meer as ’n jaar eers voor die NUK dien, maar onthou die kommissie val onder die sekretaris-generaal (Ace Magashule, ’n senior lid van die Dlamini-Zuma-faksie).”

Dr. Ralph Mathekga, ’n ander politieke ontleder, sê die werking van die integriteitskommissie is baie onbetroubaar omdat niemand werklik weet wat sy werkwyse is nie.

“As die integriteitskommissie sê hy het Mabuza nie vrygespreek nie, hoekom het hy dan nooit beswaar aangeteken teen sy aanstelling in die kabinet nie?

“Hulle kan nie nou kom en sê hulle het hom nie vrygespreek nie,” sê Mathekga.

Daar is die laaste paar weke druk bespiegel oor Mabuza se gesondheidstoestand, maar die presidensie het Sondagaand in ’n verklaring gesê hy gee Suid-Afrikaners die versekering dit gaan goed met Mabuza. Hy is by die huis en gesond.

“Enige gerugte tot die teendeel is kwaadwillig.”

Matshepo Seedat, die adjunkpresident se woordvoerder, het Maandag navrae na die ANC verwys.

Sy het wel gesê dat hy (Mabuza) homself beskikbaar gestel het vir die integriteitskommissie en gewillig was om vrae te beantwoord oor die beweringe teen hom.

Seedat het ook beweringe ontken dat Mabuza druk op enigiemand geplaas het oor sy inhuldiging. Hy was in daardie stadium reeds as parlementslid ingehuldig.

Pule Mabe, ANC-woordvoerder, het nog nie gereageer op ’n versoek om kommentaar nie.

George Mashamba, voorstter van die integriteitskommissie, kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Meer oor:  Theo Venter  |  David Mabuza
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.