Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Dís hoekom Mogoeng aanbod van geld verwerp

Die indruk moet nie gewek word dat hoofregter Mogoeng Mogoeng gesê het hy is omkoopgeld aangebied nie.

Die regter het net gesê dat nadat hy in die openbaar gesê het die regterlike gesag het R600 miljoen nodig om die howe te digitaliseer, is ’n aanbod deur ’n derde party aan hom gemaak, sê Nathi Mncube, woordvoerder van Mogoeng.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng Foto: Simon Sonnekus

“Hy het die aanbod verwerp omdat hy meen só ’n aanbod moet deur die nasionale tesourie gedoen word,” sê Mncube.

“Dit is omdat die regterlike gesag, as deel van die staat, nie regstreekse finansiering van die regering kry nie.

Hy kry sy begroting van die kantoor van die hoofregter. Vroeër was dit van die departement van justisie en korrektiewe dienste.”

Mncube se reaksie volg nadat Mogoeng Maandagoggend in ’n onderhoud met 702 se Bongani Bingwa oor die aanbod gepraat het.

Die regter het gesê het hy is nie regstreeks genader nie.

“Daar was ’n derde party vir wie ek baie respek het, en ek glo in onskuld na my gekom het. Dit maak dit vir my netelig om die besonderhede bekend te maak. Dit was ’n Amerikaanse miljardêr wat ’n aanbod deur ’n spesifieke struktuur gedoen het.

“Die aanbod is aan my oorgedra as ‘ons hoor u sê dit sal R600 miljoen kos om die howe te moderniseer. Ons is bereid om u watter bedrag ons ook al wil te gee. Ons sal nie betrokke wees by watter tenderprosedure ook al begin word nie. U kan die geld gebruik soos u dit goed dink’.”

Die hoofregter sê hy het dit as kaping beskou.

“Hoekom het hulle nie na die staat, die tesourie, gegaan en aan hulle die geld gegee nie.

“Hoekom is ek regstreeks genader? Hoekom moes daar ’n geheime benadering wees? Dit moet in die ope gebeur.

“Hulle weet daar is strukture wat die begroting aan ons beskikbaar stel. Dit is waarheen hulle moet gaan, want as hulle reguit na my toe kom, word ek baie agterdogtig,” het Mogoeng gesê.

Die nasionale tesourie het navrae na die departement van justisie en korrektiewe dienste verwys.

Dié departement het nog nie gereageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.