Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Dís jou premiers-kandidate

Die aangekondigde premierskandidate is ’n aanduiding daarvan dat pres. Cyril Ramaphosa sy stempel in die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) begin afdruk, terwyl hy aan die ander kant ook die ANC verenig wil hou.

Dit was Dinsdagoggend politieke kenners se reaksie op die premierskandidate wat die ANC Maandag ná ’n spesiale sitting van sy NUK in Pretoria aangekondig het.

Theo Venter

Dr. Zwelinzima Ndevu, politieke ontleder aan die Universiteit Stellenbosch se skool vir openbare leierskap, en Theo Venter, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool, is dit eens dat die premierskandidaat vir Noordwes nog nie aangestel kan word nie omdat ’n tussentydse taakspan tans daardie provinsie lei.

Volgens Ndevu wil die ANC harmonie en stabiliteit in Noordwes verseker deur ’n baie neutrale persoon aan te stel wat aanvaarbaar vir albei ANC-faksies in die provinsie is.

Die ANC het Maandagaand sy premierskandidate aangekondig nadat die verkiesingsuitslag Saterdag amptelik deur die Verkiesingskommissie bekend gemaak is.

Daarvolgens het die ANC die nasionale verkiesing met 57,5%-steun gewen, terwyl die party ook al agt provinsies, behalwe die Wes-Kaap, in die provinsiale verkiesings behou het.

Die DA het Alan Winde as Wes-Kaapse premier aangewys.

Oor die ANC se premierskandidate sê Ndevu hoewel die meeste van hulle Ramaphosa goedgesind is, is dit sy mening dat die besluit om hulle te benoem op ’n ANC-besluit van 2009 berus dat die party se provinsiale voorsitters ook die premierskandidate moet wees om twee sentrums van mag in provinsies te vermy.

Volgens Venter wys die keuse van premiers ook dat Ramaphosa tans ’n baie sterk kompromis-hand in die ANC se NUK het.

“En ’n mens het verwag dat hy premiers sou aanstel wat hom goedgesind is.”

Hier volg ’n kort opsomming oor wie die aangewese premierskandidate is:

    `

Oscar Mabuyane, Oos-Kaap

Oscar Mabuyane. Foto: Care-Lee Dorfling

Mabuyane neem by Phumulo Masualle as premier oor. Hy is tans ook die ANC-voorsitter in die provinsie en was tot verlede week se verkiesing LUR vir ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme.

Die 45-jarige Mabuyane woon saam met sy vrou en drie kinders in Oos-Londen, maar is in die Deberha-nedersetting in die Engcobo-gebied gebore.

Luidens die Daily Dispatch het hy in 2002 sy BCom-graad in ekonomie aan die Fort Hare-Universiteit verwerf, waarna hy ook sy tesis vir ’n meestergraad in openbare administrasie voltooi het.

Volgens Ndevu is hy ’n stoere Ramaphosa-ondersteuner.

Sisi Ntombela, Vrystaat

Sisi Ntombela. Foto: Mlungisi Louw

Sy het by Ace Magashule as Vrystaatse premier oorgeneem toe hy die ANC-sekretaris-generaal geword het.

Sy is ook die adjunkpresident van die ANC-vroueliga.

Venter beskou haar as Ramaphosa se swakste keuse as premier “omdat sy net sal voortgaan om Magashule se belange in die provinsie te bevorder”.

Luidens die Vrystaatse regering se webtuiste het Ntombela se loopbaan as onderwyser, gesondheidswerker en gemeenskapsontwikkelaar in Tweeling en Frankfort begin voordat sy raadslid, burgemeester, lid en adjunkspeaker van die Vrystaatse wetgewer, LP en toe LUR vir die ANC geword het.

David Makhura, Gauteng

David Makhura. Foto: Daily Sun

Hy is ook die provinsiale ANC-voorsitter en behou sy premierskap vir ’n tweede termyn.

Ndevu sowel as Venter glo Makhura is Ramaphosa goedgesind.

Luidens die webwerf www.gov.za het Makhura ’n MSc-graad in openbare beleid en bestuur van die Universiteit van Londen en is hy ook besig met sy MPhil-graad in toekomsstudie aan die Universiteit Stellenbosch.

Hy was ’n studenteaktivis wat in 1986 en 1987 by die ANC en SAKP aangesluit het. Hy was destyds ook aktief in die vakbondwese en was ’n Cosatu-bestuurslid.

Makhura is op 22 Februarie 1968 in Mara Buysdorp in die Soutpansbergdistrik van Limpopo gebore.

Hy is getroud en het drie kinders.

Makhura was premier tydens die Life Esidimeni-tragedie.

Sihle Zikalala, KwaZulu-Natal

Sihle Zikalala. Foto: Daily Sun

Zikalala neem by Willies Mchunu as premier oor en is ook die ANC-voorsitter in die provinsie. Hy was voorheen die LUR vir ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake.

Venter glo die aanstelling van Zikalala, voorheen ’n stoere Jacob Zuma-lojalis, is die helderste aanduiding dat die steun in die ANC se NUK na Ramaphosa begin swaai.

Hy is luidens die provinsiale regering se webtuiste in 1973 in Ndwedwe, noord van Durban, gebore en was van jongs af ’n uitnemende ANC- en gemeenskapsaktivis wat gemeenskappe in die provinsie destyds gemobiliseer het om aan die 1994-verkiesing te kon deelneem.

Hy word as ’n voorste onderhandelaar beskou en het van jongs af verskeie ANC-poste beklee, terwyl hy ook geloof word vir sy bydrae om veral die politieke geweld in KZN in die 1990’s te kon stopsit.

Sy passie is om sy provinsie se ekonomie te transformeer. Die webtuiste http://www.kznedtea.gov.za lys geen akademiese kwalifikasies vir hom nie.

Stan Mathabatha, Limpopo

Stan Mathabatha. Foto: Daily Sun

Hy is tans die dienende premier van Limpopo en ook die ANC-voorsitter in die provinsie.

Ndevu glo omdat Ramaphosa ook persoonlike bande met Limpopo het, is dié provinsie en Mathabatha van sy grootste ondersteuners in die ANC.

Luidens die webtuiste www.gov.za beskik Mathabatha, ’n boorling van Limpopo, oor ’n BA-graad van die Universiteit van Wes-Kaapland, en ’n meestersgraad in ontwikkeling van die Universiteit van Limpopo, terwyl hy ook ’n kwalifikasie by die Harvard-Universiteit in Amerika in uitvoerende bestuursontwikkeling verwerf het.

Hy is ’n ANC- en UDF-struggleveteraan en het verskeie poste in die ANC in die destydse Noord-Transvaal beklee.

Hy was egter premier tydens die VBS Bank-skandaal, sowel as tydens die voortdurende hewige protesoptogte in die Vuwani-gebied.

Refilwe Mtsweni, Mpumalanga

Refilwe Mtsweni. Foto: Daily Sun

Mtsweni het in Maart verlede jaar by David Mabuza as premier oorgeneem toe hy adjunkpresident geword het en voor dit was sy die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake.

Volgens Ndevu is sy ’n neutrale keuse omdat sy nader aan Mabuza as aan Ramaphosa is.

City Press het vroeër berig hoe almal verbaas was toe Mabuza Mtsweni as LUR en soms waarnemende premier in 2016 aangestel het omdat sy grootliks onbekend was en toe nog nie ’n hoëprofiel-ANC-pos in Mpumalanga beklee het nie.

Sy is die eerste vroulike premier van die provinsie.

Luidens City Press is Mtsweni getroud en het sy twee kinders. Sy was op laerskool in Lynville, Emalahleni, en op hoërskool in Atteridgeville, Pretoria.

Sy beskik oor ’n diploma in menslike hulpbronne van die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie en ’n sertifikaat in leierskap en regeerkunde van die Universiteit van die Witwatersrand.

Dr. Zamani Saul, Noord-Kaap

Zamani Saul. Foto: Charne Kemp

Saul vervang Sylvia Lucas as premier en is die ANC-voorsitter in die provinsie. Hy was voor dit ook provinsiale ANC-sekretaris en adjunksekretaris, terwyl hy ook al as munisipale bestuurder in die Pixley ka Seme-munisipaliteit gedien het.

Ndevu en Venter gloalbei hy is een van Ramaphosa se grootste ondersteuners.

News24 het vroeër berig hoe dié toegewyde en lojale ANC-lid en familieman, wat in 2017 sy PhD-graad in publieke reg aan die Universiteit van Kaapstad verwerf het, bekend is daarvoor dat hy sy kamerade aanspoor om verder te studeer.

Luidens News24 was hy verlede jaar egter in omstredenheid gedompel toe hy verbind is met ’n yslike onbetaalde munisipale rekening van R121 231,81 vir sy huis in Kimberley, waar hy en sy gesin woon. Hy en sy vrou het egter die rekening betwis.

Alan Winde, Wes-Kaap:

Alan Winde. Foto: Adrian de Kock

Winde neem by Helen Zille oor as DA-premier van die Wes-Kaap. Hy was voorheen LUR vir gemeenskapsveiligheid en voor dit LUR vir ekonomiese geleenthede, toerisme en landbou.

Dié sakeman en politikus het vroeër aan Netwerk24 gesê hy is in Johannesburg gebore en het op ’n perskeplaas in Muldersdrift grootgeword. Op 16 het hy en sy gesin Knysna toe getrek.

Hy is ook ’n sakeman en entrepreneur wat verskeie klein ondernemings gestig het. Hy het in 1996 by die politieke betrokke geraak en was voordat hy by die Wes-Kaapse wetgewer in 1999 aangesluit het ’n munisipale en distriksraadslid in Knysna.

Hy woon deesdae saam met sy familie in Claremont, maar sal binnekort as premier by Leeuwenhof intrek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.