Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Dis propaganda, sê Iran oor ‘sluipmoordkomplot’ in SA

Die Islamitiese Republiek van Iran waarsku dat bewerings van ’n sluipmoordpoging op Lana Marks, die VSA se ambassadeur in Suid-Afrika, deel is van Amerika se propagandaveldtog teen Iran.

Daar word beweer dat ’n komplot in Iran se ambassade in Pretoria gesmee word om Marks te vermoor uit weerwraak vir die VSA se lugaanval vroeër vanjaar op Bagdad, die Irakse hoofstad.

Genl. Kassem Soleimani, leier van Iran se magtige Koedsmag, is in dié aanval dood.

Iran se nuusagentskap berig Saeed Khatibzadeh, woordvoerder van Iran se departement van buitelandse sake, het Amerikaanse amptenare gewaarsku om nie “herhaalde, uitgediende metodes” te gebruik om die VSA se veldtog teen Iran internasionaal te bevorder nie.

Hy sê die regering van pres. Donald Trump is stelselmatig besig om basiese diplomatieke beginsels te oortree om die “nasionale soewereiniteit en territoriale integriteit van ander lande te skend”.

Lana Marks, die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika.

’n Woordvoerder van Iran se ambassade in Pretoria het gesê die ambassade volstaan met sy uitlating Dinsdag dat die VSA se bewerings ongegrond is.

Die verhouding tussen Amerika en Iran het die afgelope paar jaar baie versleg nadat Trump Amerika in 2018 onttrek het aan ’n kernooreenkoms met Iran waarin sy voorganger, oudpres. Barack Obama, ’n paar jaar gelede ’n groot aandeel gehad het.

Ayanda Dlodlo, minister van staatsveiligheid, het Maandag gesê Suid-Afrika gee “al die nodige aandag” aan die bewerings.

Die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) sê hy kommunikeer met al die relevante vennote in Suid-Afrika en in die buiteland om te verseker Marks word geen leed aangedoen nie.

Die VSA sê egter hy neem intelligensieverslae ernstig op dat ’n sluipmoordpoging op Marks beplan word.

Trump het Dinsdag (Suid-Afrikaanse tyd) in die vroeë oggendure op Twitter gesê “volgens mediaverslae” beplan Iran glo ’n sluipmoordaanval “of ’n ander aanval” op Amerika uit weerwraak ná Soleimani se dood.

Hy het gewaarsku enige aanval deur Iran in watter vorm ook al, sal begroet word met ’n aanval teen Iran “wat duisend keer groter sal wees”.

Op sy beurt het Mike Pompeo, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, in ’n onderhoud met Martha MacCullum van Fox News gesê Iran was al wêreldwyd by sluipmoordpogings betrokke.

“Iran het al mense in Europa en in ander wêrelddele vermoor. Ons neem dié soort dreigemente baie ernstig op en sal ons bes doen om ons amptenare te beskerm, net soos ons met ons soldate doen.”

Hy sê Amerika sal dit nie duld as Iran ’n Amerikaner – hetsy ’n diplomaat, ’n ambassadeur of ’n soldaat – aanval nie.

Pompeo sê die wêreld is ’n gevaarlike plek en die VSA doen baie om sy mense te beskerm.

Die Amerikaanse ambassadeur Christopher Stevens en drie ander Amerikaners is in 2012 dood in ’n vuurpyl- en mortier-aanval in Benghazi, Libië.

Pompeo ontvang elke oggend ’n veiligheidsverslag van Amerikaanse missies wêreldwyd.

Hy het Iran opnuut daarvan beskuldig dat hy die grootste geldskieter vir terreur in die wêreld is.

Genl.maj. Dagvin Anderson, bevelvoerder van die Amerikaanse spesmag-kommandement vir Afrika, het onlangs gewaarsku dat Isis se bedrywighede in die noorde van Mosambiek ’n bedreiging vir die hele Suider-Afrika inhou.

Meer oor:  Lana Marks  |  Iran  |  Sluipmoordpoging  |  Propaganda  |  Weerwraak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.