Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
'Maak nou skoon, CR’, sê DA oor kabinet

Terwyl talle gerugte oor skuiwe in die kabinet die ronde doen, sê die DA dit is nou die ideale geleentheid vir pres. Cyril Ramaphosa om sy “kabinet skoon te maak”.

John Steenhuisen, DA-leier, het Maandag gesê die koppe wat moet rol, sluit in dié van dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Bheki Cele, minister van polisie, en Ayanda Dlodlo, minister van staatsveiligheid.

John Steenhuisen, DA-leier. Foto: Daily Sun

Mkhize is al lank met spesiale verlof weens die Digital Vibes-skandaal en Cele en Dldolo is op dun ys weens hul trae hantering van die verwoestende onluste onlangs in KwaZulu-Natal en Gauteng.

Steenhuisen wys daarop dat die president al weke lank met die spesiale ondersoekeenheid se verslag oor Digital Vibes sit en hy dink die tyd raak min om op te tree.

“Hy moet ’n permanente aanstelling in Mkhize se pos doen, want ons kan nie in ’n pandemie met ’n waarnemende minister van gesondheid sit nie.”

Volgens Steenhuisen het ministers in die veiligheidsgroepering, veral Cele en Dlodlo, die land met die onluste erg in die steek gelaat en moet die president ’n sterk boodskap oor verantwoording uitstuur om vertroue in die toekoms van Suid-Afrika te herstel.

Politieke ontleders dink egter deur van Cele ontslae te raak, kan dit Ramaphosa se kans beduiwel om einde volgende jaar by die ANC se verkiesingskonferensie tot ’n tweede termyn as president verkies te word.

Dr. Dirk Kotzé, politieke ontleder aan Unisa, sê Cele is ’n tameletjie vir Ramaphosa omdat hy groot ANC-steun in KwaZulu-Natal geniet.

“Die probleem is dat Zuma se tronkstraf reeds ’n aantal Zoeloes vervreem het. Deur boonop nog twee Zoeloes (Mkhize en Cele) in die pad te steek, kan dit die kruitvat in KwaZulu-Natal weer laat ontplof.”

Kotzé beklemtoon dit is belangrik vir Ramaphosa om soveel moontlik uit KwaZulu-Natal te kry omdat dit die provinsie is wat die meeste afgevaardigdes na die ANC se verkiesingskonferensie in 2022 sal stuur.

Dr. Piet Croucamp, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit (NWU), sê daar is geen bewyse daarvoor dat Ramaphosa ’n kabinetskommeling beplan nie.

Weens vakante poste wat gevul moet word, verwag Croucamp egter dat Ramaphosa binnekort ’n paar veranderinge aan die kabinet sal maak.

Hy verwag dat Senzo Mchunu, voormalige premier van KwaZulu-Natal en huidige minister van staatsdiens en administrasie, in die plek van wyle Jackson Mthembu, minister in die presidensie, aangestel sal word.

Dié skuif kan moontlik Ramaphosa se posisie in KwaZulu-Natal versterk.

“My raad aan Ramaphosa sou verder wees om Sihle Zikalala, premier van KwaZulu-Natal wie se lojaliteit jeens Ramaphosa wankelrig is, ook ’n pos in die kabinet aan te bied om sy mag te versterk,” sê Croucamp.

Theo Venter, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, sê die omstandighede rakende die onluste, Ramaphosa se sterk posisie in die ANC en sy verwagte verskyning voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping maak die tyd ryp vir hom om sy eerste kabinetskommeling uit te voer.

Venter sê daar moet ook vrae gevra word oor of Fikile Mbalula, minister van vervoer, en Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, vir hul onderskeie portefeuljes geskik is.

“Dit is verder algemene kennis dat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, wil uittree en dat Lindiwe Sisulu, minister van water en sanitasie, voel sy is geregtig op ’n meer senior portefeulje,” sê Venter.

Meer oor:  Dr. Piet Croucamp  |  John Steenhuisen  |  Zweli Mkhize  |  Kabinetskommeling  |  Politiek  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.