Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Dís wat Dudu ‘ek het nie geld’ Myeni by Centlec verdien

Dudu Myeni, omstrede voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), verdien as adjunkvoorsitter van die Centlec-direksie meer as R274 000 per jaar – en dan beweer sy sy het nie reisgeld om haar verhoor in Pretoria by te woon nie.

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) en adjunk-voorsitter van die Centlec-raad in Bloemfontein saam met oudpres. Jacob Zuma, saam met wie sy dikwels in die verlede saam gesien en saam afgeneem is. Foto: SA People

Die hofsaak spruit uit ’n aansoek in Maart 2017 van die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) en die Suid-Afrikaanse Lugdiensvlieëniersvereniging (Saapa) om Myeni tot misdadige direkteur te laat verklaar.

Iemand wat tot misdadige direkteur verklaar is, mag nie weer op enige direksie aangestel word nie.

Myeni was van Desember 2012 tot Oktober 2017 voorsitter van die SAL se direksie.

Myeni het by meer as een geleentheid nie by die hof opgedaag nie “omdat sy nie reisgeld het nie”. Nou blyk dit sy het in die boekjaar tot einde Junie 2018 R274 364 per jaar, reisgeld ingesluit, by Centlec verdien.

Dit is volgens dokumente van dié elektrisiteitsverskaffer en -verspreider aan die Mangaung-metro en Suid-Vrystaatse dorpe. Die dokumente is in Volksblad se besit.

Sedertdien was daar ’n verhoging in haar vergoeding.

Lele Mamatu, kommunikasiebestuurder van Centlec, het bevestig dat sy steeds die adjunkvoorsitter van die direksie is, maar wou nie sê hoeveel Myeni nou verdien nie.

Netwerk24 het voorheen berig ’n retoerkaartjie van Myeni se huis in Richardsbaai na Pretoria kos net R800.

Regter Ronel Tolmay van die hooggeregshof in Pretoria het Myeni al telkens uitstel gegee.

Die saak moes aanvanklik in Februarie verlede jaar voor die hof gedien het. In die jongste aansoek deur Myeni se jongste regsverteenwoordiger, adv. Nqabayethu Buthelezi SC, moet die saak weer uitgestel word omdat Myeni se pleit gewysig moet word. Hulle wil ook “elke enkele nie-uitvoerende direkteur” wat saam met Myeni gedien het, asook die uitvoerende direkteure, tot die saak voeg.

Sy is voorheen verteenwoordig deur Lugisani Daniel Mantsha, maar hy het hom ná skaars ’n maand onttrek. Mantsha het voorheen ook vir Zuma verteenwoordig.

* Op ’n sitting van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping het Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van die omstrede maatskappy Bosasa, getuig dat Myeni maandeliks ’n betaling van R300 000 van Bosasa gekry het, wat aan Zuma gegee is toe hy nog president van die land was.

* Dr. Tseliso Ntili, hoof van die Vrystaatse departement van waterwese en sanitasie, het intussen Donderdag ontken dat Myeni as uitvoerende hoof van Bloemwater, die omstrede waterraad van die departement van waterwese en sanitasie in Bloemfontein, aangestel gaan word nadat gerugte hieroor die ronde gedoen het.

Meer oor:  Sal  |  Centlec  |  Dudu Myeni  |  Richardsbaai  |  Pretoria
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.