Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Distriksmodel kan munisipaliteite hupstoot gee, sê Cyril

Die nuwe distrik-ontwikkelingsmodel wat die regering verlede jaar in werking begin stel het, sal ’n groot rol speel om goeie regering op munisipale vlak te bevorder, sê pres. Cyril Ramaphosa.

Hy het Vrydagoggend opgetree as voorsitter van die presidensiële koördineringsraad wat by die Sefako Makgatho- presidensiële gastehuis in Pretoria vergader het.

Lede van die kabinet, premiers, burgemeesters van distriksmunisipaliteite en ander amptenare het die vergadering bygewoon.

Pres. Cyril Ramaphosa (regs) en adj.pres. David Mabuza gesels Vrydagoggend voor die aanvang van die presidensiële koördineringsraad se vergadering in Pretoria. Die koördineringsraad hou ’n oog oor die inwerkingstelling van die regering se distrik-ontwikkelingsmodel. Foto: Twitter/Presidensie

Ramaphosa sê deur die munisipale herstelprogram hoop die regering om verkwisting op munisipale vlak hok te slaan. Dit sal gedoen word deur beter finansiële bestuur en administrasie in sukkelende munisipaliteite.

“Ons moet die gewoonte afleer om elke jaar die een projek na die ander, met allerlei spoggerige name en trompetgeskal, bekend te stel – net om toe te sien hoe die projekte binne ’n jaar momentum verloor of self in die niet verdwyn,” sê die president.

Die doel van die distrik-ontwikkelingsmodel is dat die drie regeringsvlakke – plaaslik, provinsiaal en nasionaal – nouer op distriksvlak saamwerk om ontwikkeling na die mense te bring.

“Daar moet samewerking op al drie die regeringsvlakke wees. Ek wil nie weer hoor van ’n projek wat deur ’n minister geopen word, maar die premier van die provinsie weet nie eens daarvan nie.

“Geïntegreerde ontwikkeling moenie net die stede bevoordeel nie, maar ook dié mense in die buitestedelike en landelike gebiede.

“As ons nie slimmer te werk gaan nie, sal daar niks kom van al ons slim planne om dienslewering te verbeter, die ekonomie te laat groei en werksgeleenthede op groot skaal te skep nie,” sê Ramaphosa.

Die distriksmodel, wat in Augustus verlede jaar bekend gestel is, sal uiteindelik in al 44 distriksmunisipaliteite en al agt die metro’s in die land in werking gestel word.

Die program sal vanjaar in 23 distriksmunisipaliteite ingestel word en die res volgende jaar.

Die eerste drie loodsprogramme is in die O.R. Tambo-distriksmunisipaliteit in Mthatha in die Oos-Kaap, die Waterberg-distriksmunisipaliteit in Limpopo en die Ethekwini-metro in Durban ingestel.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, speel ’n sleutelrol in die inwerkingstelling van die model. Sy het ook die vergadering toegespreek.

“Verskeie tandekryprobleme is reeds geïdentifiseer. Dit sluit in ’n gebrek aan koördinering, te min duidelikheid oor die logika van sekere projekte, en ’n gebrek aan kundigheid,” sê Ramaphosa.

Daar is in die begroting, wat Woensdag in die parlement deur Tito Mboweni, minister van finansies, gelewer is, voorsiening gemaak vir finansiële hulp van R426 miljard aan munisipaliteite oor die volgende vyf jaar.

“Plaaslike regering is nie net die enjinkamer van dienslewering nie, dit is ook waarheen die meeste beleggings gaan. Om die beleggings te lok is infrastruktuurontwikkeling noodsaaklik,” sê Ramaphosa.

“Die regering alleen kan nie die land se ekonomiese probleme oplos nie en is afhanklik van die samewerking van alle sektore van die gemeenskap, insluitende die sake- en arbeidsektor.”

Dit is daarom nodig dat die plan oor hoe die private sektor by die distrik-ontwikkelingsmodel betrek kan word, so gou moontlik afgehandel word, sê die president.

“Ons het nou ’n duidelike plan om ons uitdaging met kragvoorsiening te takel. Nou moet ons net seker maak dit word met dringendheid in werking gestel.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.